HEBREËRS 5:1-10
HEBREËRS 5:1-10 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer God mense kies en aanstel om hoëpriesters te wees, dan is dit altyd húlle wat God se werk moet doen. Hulle moet dan presente en offers bring omdat mense sondes doen. So 'n hoëpriester kan geduldig wees met die mense wat verkeerde dinge doen omdat hulle nie geweet het dat dit verkeerd is nie. Die hoëpriester doen dit omdat hy self ook 'n swak mens is. Daarom moet die hoëpriester ook vir sy eie sondes offers bring, soos hy vir die volk se sondes offers bring. 'n Hoëpriester kry eer, maar niemand kan self kies om hoëpriester te wees nie. Nee, dit is God wat sê dat daardie persoon hoëpriester moet wees, soos God dit ook vir Aäron gesê het. So het die Christus ook nie self gekies om eer te kry en om Hoëpriester te wees nie. Nee, God het vir Hom die eer gegee, God het vir Hom gesê: Jy is my Seun, Ek is van vandag af jou Vader. So sê God ook: Jy self sal altyd 'n priester wees, soos Melgisedek 'n priester was. Terwyl Jesus op die aarde gelewe het, het Hy tot God gebid en Hy het gesoebat, ja, Hy het geskree en gehuil. Hy het dit gedoen soos wanneer iemand offers bring vir God. Hy het dit gedoen omdat God vir Hom kan red van die dood. God het geluister na Jesus omdat Jesus vir God geëer het. Dit is waar dat Jesus die Seun van God is, maar Hy het geleer om gehoorsaam te wees toe Hy so swaar gekry het en gesterf het. En toe Jesus gely het en gereed was om Hoëpriester te wees voor God, het Jesus vir altyd die Redder geword van almal wat luister na Hom. Jesus kon dit doen omdat God gesê het dat Jesus 'n hoëpriester moet wees soos Melgisedek.
HEBREËRS 5:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WANT elke hoëpriester wat uit die mense geneem word, tree ten behoewe van mense op in die dinge wat in betrekking tot God staan, om gawes en offers vir die sondes te bring as een wat kan saamvoel met die onwetendes en dwalendes, omdat hy self ook met swakheid bevange is. En daarom juis moet hy, net soos vir die volk, so ook vir homself vanweë die sondes offer. En niemand neem die waardigheid vir homself nie, maar hy wat deur God geroep word, net soos Aäron. So het Christus ook Homself nie verheerlik om Hoëpriester te word nie, maar Hý het Hom verheerlik wat vir Hom gesê het: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer. Soos Hy ook op 'n ander plek sê: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek. Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs — Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, 'n bewerker van ewige saligheid geword en is deur God genoem 'n hoëpriester volgens die orde van Melgisédek
HEBREËRS 5:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Elke hoëpriester is 'n mens wat uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur gawes en offers vir die sondes te bring. Hy kan meegevoel hê met die onwetendes en dwalendes, omdat hy self aan swakheid onderhewig is. Om hierdie rede moet hy ook vir homself, net soos vir die volk, offers bring vir die sondes. Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron. So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het: “Jy is my Seun, van vandag af is Ek jou Vader.” En op 'n ander plek sê Hy: “Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.” Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.
HEBREËRS 5:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Elke hoëpriester wat uit mense geneem word, word immers ook ter wille van mense aangestel vir die offerdiens voor God, sodat hy ter wille van die sondes geskenke en offers kan bring. Hy kan deernis hê met dié wat in onkunde dwaal, aangesien hy self ook aan swakheid blootgestel is. Juis daarom moet hy, net soos vir die volk, ook vir homself offers vir sy sondes bring. Niemand eien die eer vir homself toe nie, maar hy word, net soos Aäron, deur God geroep. So ook het •Christus nie Homself vereer om Hoëpriester te word nie; die Een wat Hom vereer het, was God, wat vir Hom gesê het: “Jy is my Seun; vandag het Ek jou verwek.” So sê Hy ook op 'n ander plek: “Jy is priester vir ewig, volgens die orde van Melgisedek.” Christus het tydens sy aardse lewe smekinge en pleitbedes met harde krete en trane gebring voor God, wat in staat was om Hom uit die dood te red, en Hy is verhoor op grond van sy eerbiedige onderworpenheid aan God. Alhoewel Hy die Seun was, het Hy gehoorsaamheid geleer deur wat Hy gely het. En nadat Hy tot volmaaktheid gebring is, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige verlossing geword, aangesien Hy deur God aangewys is as “Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek”.
HEBREËRS 5:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want elke hoëpriester wat uit die mense weggeneem word, is vir mense aangestel in die dinge van God, om gawes sowel as slagoffers vir sondes te bring. Wie kan medelye hê met die onkundiges en die wat uit die weg is; omdat hy self ook deur krankheid omsingel is. En om hierdie rede behoort hy, soos vir die volk, so ook vir homself, vir sondes te offer. En niemand neem hierdie eer na hom toe nie, behalwe hy wat deur God geroep is, soos Aäron was. So het Christus ook Homself nie verheerlik om 'n hoëpriester te word nie; maar hy wat vir hom gesê het: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer. Soos Hy ook op 'n ander plek sê: U is 'n priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek. Wat in die dae van sy vlees, toe hy gebede en smekinge met sterk geroep en trane geoffer het aan hom wat hom uit die dood kon red, en verhoor is deurdat hy gevrees het; Al was Hy 'n Seun, het Hy tog gehoorsaamheid geleer uit die dinge wat Hy gely het; En toe Hy volmaak is, het Hy die bewerker van ewige verlossing geword vir almal wat Hom gehoorsaam; Hy is deur God 'n hoëpriester genoem volgens die orde van Melgisédek.
HEBREËRS 5:1-10 Die Boodskap (DB)
Laat ons oor hoëpriesters nadink. ’n Hoëpriester word uit mense gekies en aangestel om ander mense se sake by God te behartig. Dit gaan oor godsdienstige dinge wat God raak: die hoëpriester moet allerhande offers vir God gee sodat God nie die mense straf vir al die verkeerde dinge wat hulle doen nie. Omdat die hoëpriester self ’n swak mens is, sal hy simpatie hê met mense wat verkeerde dinge doen of wat nie weet wat reg is nie. Daarom moet hy eers vir al die verkeerde dinge wat hy self gedoen het met ’n offer vir God om verskoning vra voordat hy dieselfde vir die ander mense kan doen. Iemand kan nie self besluit dat hy ’n hoëpriester wil wees nie. Nee, God roep ’n mens om daardie werk te doen, soos Hy Aäron geroep het. Jesus het ook nie vir Homself die belangrike werk van hoëpriester gevat nie. God het vir Hom gesê: “Jy is my Seun en Ek is jou Vader van vandag af,” of soos God op ’n ander plek sê: “Jy sal vir altyd ’n priester wees; Jy sal ’n priester wees soos Melgisedek dit was.” Toe Jesus destyds op aarde was, het Hy God baie mooi gevra om Hom uit die dood te red. Hy het baie ernstig met trane in sy oë daarvoor gebid, omdat Hy geweet het dat God dit kan doen. En God het dit gedoen omdat Jesus Homself met soveel oortuiging in God se hand geplaas en Hom gehoorsaam het. Al was Jesus sy Seun, het Hy ervaar wat dit beteken om regtig gehoorsaam te wees deurdat Hy na God bly luister het, al het dit met Hom hoe swaar gegaan. Nadat Hy gewys het dat Hy aan God en net aan Hom gehoorsaam is en nooit iets doen waarvan God nie hou nie, kon Hy die ewige lewe uitdeel aan almal wat na Hom wou luister. God het Hom dan ook aangestel as ’n Hoëpriester, net soos Melgisedek ’n hoëpriester was.
HEBREËRS 5:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
’n Hoofpriester is iemand wat uit die mense geneem en vir die mense aangewys word om priesterdiens voor God te verrig. Hy lê dié mense se gawes voor God en bring ook offers vir hulle sondes. Hy kan empatie hê met die onkundiges en dwalendes omdat hy self aan swakheid onderhewig is. Hy is daarom verplig om nie net vir die volk nie, maar ook vir sy eie sondes offers te bring. En niemand kan ’n hoofpriester word bloot omdat hy graag daardie ereposisie wil hê nie. Hy moet deur God daartoe geroep word – net soos in die geval van Aäron. Net so het Christus ook nie vir Homself die waardigheid van hoofpriester toegeëien nie. Nee, Hy is aangewys deur die Een wat vir Hom gesê het: “Jy is my Seun. Vandag het Ek jou Vader geword.” En op ’n ander plek het God vir Hom gesê: “Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.” Terwyl Jesus hier op aarde was, het Hy hard uitgeroep en met trane by God gesmeek en gepleit, want God sou Hom van die dood kon red. God het Hom verhoor deurdat Hy die angs vir die dood van Hom weggeneem het. Selfs al was Hy die Seun, het Hy gehoorsaamheid geleer deur wat Hy gely het. Op hierdie manier het Hy volmaaktheid bereik sodat Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige verlossing geword het. So het God Hom dan amptelik verklaar as Hoofpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.