Hebreërs 5

5
1Elke hoëpriester wat uit mense geneem word, word immers ook ter wille van mense aangestel vir die offerdiens voor God, sodat hy ter wille van die sondes geskenke en offers kan bring. 2 Hy kan deernis hê met dié wat in onkunde dwaal, aangesien hy self ook aan swakheid blootgestel is. 3 Juis daarom moet hy, net soos vir die volk, ook vir homself offers vir sy sondes bring. 4Niemand eien die eer vir homself toe nie, maar hy word, net soos Aäron, deur God geroep.
5So ook het •Christus nie Homself vereer om Hoëpriester te word nie; die Een wat Hom vereer het, was God, wat vir Hom gesê het:
“Jy is my Seun;
vandag het Ek jou verwek.”
6So sê Hy ook op 'n ander plek:
“Jy is priester vir ewig,
volgens die orde van Melgisedek.”
7 Christus het tydens sy aardse lewe smekinge en pleitbedes met harde krete en trane gebring voor God, wat in staat was om Hom uit die dood te red, en Hy is verhoor op grond van sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Alhoewel Hy die Seun was, het Hy gehoorsaamheid geleer deur wat Hy gely het. 9En nadat Hy tot volmaaktheid gebring is, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige verlossing geword, 10aangesien Hy deur God aangewys is as “Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek”.
Waarskuwing teen afvalligheid
11Hieroor het ons baie om vir julle te sê wat moeilik is om te verduidelik, aangesien julle traag geword het om te luister. 12Want terwyl julle teen hierdie tyd reeds leraars moes gewees het, het julle nou weer nodig dat iemand julle die grondbeginsels van die uitsprake van God leer, en het julle weer behoefte aan melk, en nie vaste kos nie. 13Elkeen wat melk gebruik, is immers onervare ten opsigte van die boodskap van regverdiging, want hy is 'n suigeling. 14Maar vaste kos is vir volwassenes, vir hulle wat oor die aanvoeling beskik, deur gewoonte geoefen, om te kan onderskei tussen goed en kwaad.

Tans Gekies:

Hebreërs 5: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid