HEBREËRS 3:7-11
HEBREËRS 3:7-11 Bybel vir almal (ABA)
Daarom, die Heilige Gees sê: Vandag, wanneer julle luister na wat God sê, dan moet julle nie hardkoppig wees nie, soos toe julle opstandig was teen God op die dag toe julle vir Hom in die woestyn getoets het. Julle voorvaders het daar 40 jaar lank gesien wat Ek gedoen het, maar hulle het My getoets, hulle wou kyk of Ek hulle sal straf. Daarom was Ek kwaad vir daardie geslag en Ek het gesê: “Hulle is mense wat nooit weet wat hulle doen nie, hulle wil nie lewe soos Ek wil hê nie.” Ek was kwaad en Ek het gesê: “So seker soos Ek lewe, hulle sal nie kom in die land waar Ek hulle veilig wou laat woon en laat rus nie.”
HEBREËRS 3:7-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie, waar julle vaders My versoek, My beproef het en my werke veertig jaar lank gesien het. Daarom het Ek vertoornd geword op daardie geslag en gesê: Altyd dwaal hulle met die hart. Maar húlle het my weë nie leer ken nie, sodat Ek in my toorn gesweer het: Hulle sal in my rus nie ingaan nie.
HEBREËRS 3:7-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: “Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het en My in die woestyn op die proef gestel het. Daar het hulle My op die proef gestel en uitgetart, hoewel hulle veertig jaar lank gesien het wat Ek vir hulle gedoen het. Daarom het Ek 'n afkeer van hierdie geslag gekry en gesê: ‘Met hulle hart is hulle gedurig op 'n dwaalspoor, hulle wou my paaie nie leer ken nie.’ Toe het Ek in my toorn 'n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.”
HEBREËRS 3:7-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarom, soos die Heilige Gees sê: “Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard, soos tydens die opstand die dag van versoeking in die woestyn, toe julle voorouers My versoek en beproef het nie, al het hulle my dade gesien – veertig jaar lank. Daarom het my toorn ontvlam teenoor hierdie geslag, en het Ek gesê, ‘In hulle harte is hulle altyd op 'n dwaalspoor, en my paaie wou hulle nie leer ken nie.’ So het Ek in my toorn gesweer, ‘Hulle sal beslis nie in my rus ingaan nie!’ ”
HEBREËRS 3:7-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom (soos die Heilige Gees sê: Vandag as julle sy stem sal hoor, Verhard julle harte nie soos in die terging, op die dag van versoeking in die woestyn nie. Toe julle vaders my versoek het, my beproef en my werke veertig jaar lank gesien het. Daarom was ek bedroef oor daardie geslag en het ek gesê: Hulle dwaal altyd in hul hart; en hulle ken my weë nie. Daarom het ek in my toorn gesweer: Hulle sal nie in my rus ingaan nie.)
HEBREËRS 3:7-11 Die Boodskap (DB)
Luister na wat die Heilige Gees sê: “Vandag, as julle God met julle hoor praat, moet julle nie ignoreer wat Hy sê nie. Julle voorvaders het presies dit in die woestyn gedoen - hulle het teen My gedraai en gekyk hoe ver hulle met My kan gaan voor Ek my geduld verloor. Julle moet beslis nie hulle voorbeeld volg nie. In die woestyn het Ek 40 jaar lank vir hulle so baie gedoen en hulle het dit geweet; nogtans het hulle my geduld tot die uiterste op die proef gestel. Uiteindelik het my geduld opgeraak en Ek het gesê: ‘Hulle wil nie regtig by My wees nie, maar is heeltyd op soek na iets anders, hulle stel nie regtig belang om te gaan waar Ek gaan nie.’ Dit het My kwaad gemaak en daarom het Ek gesê: ‘Hulle sal nooit voel hoe dit is om vir ewig saam met My te rus nie.’ En Ek sal nooit van plan verander nie.”
HEBREËRS 3:7-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Julle moet dus luister wanneer die Heilige Gees die volgende sê: “Vandag wanneer julle sy stem hoor, moet julle nie julle harte verhard soos Israel gedoen het toe hulle gerebelleer het nie, toe hulle God se geduld in die woestyn getoets het. Dáár het julle voorvaders my geduld beproef ten spyte daarvan dat hulle vir 40 jaar my magtige dade aanskou het. Daarom het Ek vir daardie geslag kwaad geword en gesê: ‘Hulle harte dwaal altyd van My af weg. Hulle wou nie doen wat Ek van hulle verwag nie.’ Daarom het Ek in my toorn onder eed verklaar: ‘Hulle sal nooit my land van rus binnegaan nie.’”