HEBREËRS 3

3
Jesus is meer as Moses
1Daarom, broers wat vir die Here afgesonder is en deelgenote is van die hemelse roeping, moet julle noukeurig let op Jesus, die Apostel en Hoëpriester van die geloof wat ons bely. 2Hy is getrou aan God wat Hom aangestel het, soos ook Moses getrou was in die hele huis van God. 3Maar Jesus is groter heerlikheid waardig geag as Moses, net soos die een wat 'n huis bou, meer eer waardig is as die huis. 4Elke huis word deur iemand gebou, maar God is die Een wat alles gebou het. 5Moses was as dienaar getrou in die hele huis van God en moes getuig van die dinge wat God nog sou sê. 6Christus daarenteen is as Seun getrou oor die huis van God. En ons is sy huis as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan wat ons hoop.
Die gevaar van afval deur ongeloof
7Luister daarom na wat die Heilige Gees sê:
“Vandag, as julle sy stem hoor,
8moet julle nie hardkoppig wees nie,
soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het en My in die woestyn op die proef gestel het.
9Daar het hulle My op die proef gestel en uitgetart,
hoewel hulle veertig jaar lank gesien het wat Ek vir hulle gedoen het.
10Daarom het Ek 'n afkeer van hierdie geslag gekry en gesê:
‘Met hulle hart is hulle gedurig op 'n dwaalspoor,
hulle wou my paaie nie leer ken nie.’
11Toe het Ek in my toorn 'n eed afgelê:
In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.”
12Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle 'n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. 13Maar solank daar nog 'n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. 14Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het. 15Daarom word daar gesê:
“Vandag as julle sy stem hoor,
moet julle nie hardkoppig wees nie,
soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.”
16Wie was dit dan wat gehoor het en tog in opstand gekom het? Was dit nie hulle almal wat onder leiding van Moses uit Egipte getrek het nie? 17En van wie het God veertig jaar lank 'n afkeer gehad? Was dit nie van hulle wat gesondig het en wie se dooie liggame in die woestyn agtergebly het nie? 18Oor wie anders as dié wat ongehoorsaam was, het Hy 'n eed afgelê dat hulle nie in sy rus sou ingaan nie? 19Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie.

Tans Gekies:

HEBREËRS 3: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid