HEBREËRS 11:8-19

HEBREËRS 11:8-19 Bybel vir almal (ABA)

Abraham het in God geglo, en daarom het hy geluister toe God vir hom gesê het om weg te trek na die plek wat God vir hom wou gee om aan hom te behoort. Abraham het weggetrek en hy het nie geweet waarnatoe hy gaan nie. Abraham het in God geglo, en daarom het hy soos 'n vreemdeling gaan woon in die land wat God vir hom belowe het. Hy het soos 'n vreemdeling in tente gewoon saam met Isak en Jakob. God het vir Isak en Jakob belowe dat hulle dieselfde dinge sal kry wat God vir Abraham belowe het. Want Abraham wou baie graag lewe in die stad van God, die stad wat altyd daar sal wees. God het self planne gemaak vir die stad en Hy het dit gebou. Sara kon nooit kinders kry nie en sy was baie oud. Maar Abraham het in God geglo, en daarom het God vir hom krag gegee om pa te kan word. Abraham het geglo dat God sal doen wat Hy belowe het en daarom het hierdie één man 'n groot nageslag gehad. Hy was naby die dood, maar sy nageslag was so baie soos die sterre in die lug en so baie soos die sand langs die see, 'n mens kan dit nie tel nie. Al hierdie mense wat in God geglo het, het gesterf, en hulle het nie gekry wat God vir hulle belowe het nie. Maar lank voordat hierdie dinge sou gebeur, het hulle dit gesien en hulle was bly oor hierdie dinge. Hulle was nie bang om te sê dat hulle vreemdelinge is in hierdie wêreld nie, hulle was mense wat nie altyd hier woon nie. Want mense wat sê dat hulle hier net vreemdelinge is, sê baie duidelik dat hulle nog nie 'n land het waar hulle altyd kan woon nie. Want as dit waar is dat hulle aangehou het om te dink aan daardie land waaruit hulle weggetrek het, dan sou hulle kon teruggaan daarnatoe. Maar hulle het nie aangehou om te dink aan daardie land nie. Nee, hulle het verlang na 'n beter land, dit is by God in die hemel. Daarom is God nie skaam dat hulle kon sê dat Hy hulle God is nie. Daarom het Hy vir hulle 'n stad gereedgemaak om in te woon. God het vir Abraham 'n nageslag belowe, maar God wou vir Abraham toets. Hy wou kyk wat Abraham sal doen en Hy het gesê Abraham moet sy seun offer. Abraham het in God geglo. Daarom was Abraham gewillig om vir Isak te offer en het hy begin om sy enigste seun te offer. God het van Abraham se seun gesê: “ Die nageslag van Isak sal jou nageslag wees.” Abraham het gedink dat God mense wat dood is, weer kan laat lewe, en daarom het hy vir Isak teruggekry. Dit is 'n voorbeeld wat wys hoe God mense wat dood is, weer sal laat lewe.

HEBREËRS 11:8-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as 'n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in 'n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is. Deur die geloof het Sara self ook krag ontvang om bevrug te word; en toe sy oor die leeftyd was, het sy gebaar, omdat sy Hom getrou geag het wat dit beloof het. Daarom is daar ook gebore uit een vader, en dit 'n verstorwene, kinders soos sterre van die hemel in menigte en soos die sand aan die strand van die see, wat ontelbaar is. In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was. Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle 'n vaderland soek. En as hulle bly dink het aan dié vaderland waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer. Maar nou verlang hulle na 'n beter een, dit is 'n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle 'n stad berei. Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer, aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word — want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek; daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang.

HEBREËRS 11:8-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, 'n vreemdeling in 'n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is. Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om 'n kind te verwek, omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het. Die gevolg was dat daar van een man, 'n man wat nie meer 'n kind kon verwek nie, kinders afgestam het so talryk soos die sterre van die hemelruim en so baie soos die sand van die see. Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na 'n vaderland. As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. Maar hulle het na 'n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle 'n stad gereed gemaak. Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer. Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het.

HEBREËRS 11:8-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Deur geloof was Abraham gehoorsaam toe hy geroep is om uit te trek na 'n plek wat hy as erfenis sou ontvang, en hy het weggetrek, sonder om te weet waarheen hy gaan. Deur geloof het hy as bywoner in die land van die belofte gaan bly, soos in 'n vreemde land, en het hy in tente gewoon saam met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die argitek en boumeester is. Deur geloof het ook Sara, alhoewel reeds onvrugbaar, en nie meer jonk nie, krag ontvang om bevrug te word, aangesien sy Hom wat dit beloof het, getrou geag het. Daarom is daar uit een man, wat so te sê dood was, 'n nageslag gebore, in getal so veel soos die sterre van die hemel, en soos die ontelbare sandkorrels op die strand langs die see. Al hierdie mense het in geloof gesterf sonder om die beloftes te ontvang, maar hulle het dit van ver af gesien en verwelkom, en bely dat hulle uitlanders en vreemdelinge op die aarde is. Want dié wat sodanige dinge sê, gee te kenne dat hulle op soek is na 'n vaderland. En as hulle nog aanhou dink het aan daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer; maar nou hunker hulle na 'n beter een, 'n hemelse een. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle 'n stad voorberei. Deur geloof het Abraham, toe hy getoets is, Isak as offer aangebied, en was hy op die punt om sy enigste te offer – hy wat die beloftes ontvang het, aan wie gesê is, “Deur Isak sal daar vir jou 'n nageslag wees” – omdat hy gereken het dat God die mag het om ook uit die dood op te wek, waaruit hy, figuurlik gesproke, hom ook terugontvang het.

HEBREËRS 11:8-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Deur die geloof het Abraham gehoorsaam toe hy geroep is om uit te gaan na die plek wat hy as erfenis sou ontvang; en hy het uitgegaan sonder om te weet waarheen hy gegaan het. Deur geloof het hy as vreemdeling vertoef in die land van die belofte, soos in 'n vreemde land, en in hutte gewoon saam met Isak en Jakob, die erfgename saam met hom van dieselfde belofte. Want hy het gewag na 'n stad wat fondamente het, waarvan God die bouer en oprigter is. Deur die geloof het Sara self ook krag ontvang om swanger te word, en sy is gebore toe sy ouer geword het, omdat sy hom getrou geoordeel het wat dit beloof het. Daarom het daar selfs uit een ontstaan, en hy so goed as dood, soveel soos die sterre van die hemel in menigte, en soos die sand wat by die seestrand is, ontelbaar. Hulle het almal in die geloof gesterwe sonder om die beloftes te ontvang, maar hulle het dit van ver af gesien en daarvan oortuig en omhels en bely dat hulle vreemdelinge en pelgrims op die aarde was. Want die wat sulke dinge sê, verklaar duidelik dat hulle 'n land soek. En waarlik, as hulle gedagtig was aan daardie land waaruit hulle uitgekom het, sou hulle dalk die geleentheid gehad het om terug te keer. Maar nou begeer hulle 'n beter land, dit is 'n hemelse; daarom skaam God hom nie om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle 'n stad berei. Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; en hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggebore seun geoffer, Van wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word; Aangesien God in staat was om hom uit die dode op te wek; vanwaar Hy hom ook in gestalte ontvang het.

HEBREËRS 11:8-19 Die Boodskap (DB)

God het vir Abraham gesê dat hy sy goed moet vat en na ’n ver plek moet trek wat God dan vir hom as ’n blyplek sou gee. Abraham het glad nie geweet waar dit was nie, maar het gehoorsaam sy goed gevat en gegaan. En die rede: hy het God heeltemal vertrou. Juis daarom het hy sy tent gaan opslaan in daardie land wat God vir hom beloof het, al is hy eers soos ’n vreemdeling daar behandel. Isak en Jakob, vir wie God ook die land beloof het, het daar saam met hom in tente gebly. Abraham het die hele tyd uitgesien na die stad wat op fondamente gebou sou word, die stad wat God self sou ontwerp en bou. Abraham was al baie oud en hy en sy vrou Sara kon nie kinders hê nie. Tog het Abraham op die Here vertrou en pa geword. Hy het geglo dat God die belofte wat Hy gemaak het, nie sou breek nie. En kyk net na die gevolge: uit een man, wat eintlik self nie meer kinders kon hê nie, het daar ’n nageslag gekom wat ’n mens vandag nie meer kan tel nie. Hulle is so baie soos die sterre aan die hemel of die sandkorrels op die strand. Abraham, Isak en Jakob het in hulle leeftyd nog nie alles gekry wat God beloof het nie. Nogtans het hulle op God bly vertrou tot hulle dood. Soos mense wat in die toekoms kon inkyk, het hulle gesien wat God alles nog sou doen en hulle was baie bly daaroor. Hulle het besef dat hierdie wêreld eintlik nie hulle regte blyplek is nie. Hulle was maar net tydelik hier. Deur so te praat het hulle gewys dat hulle uitsien na ’n ander blyplek wat net hulle s’n sou wees. As hulle terugverlang het na die land waaruit hulle oorspronklik getrek het, kon hulle maklik omgedraai en teruggegaan het. Hulle het egter gesmag na ’n beter blyplek van hulle eie, ’n plek in die hemel by God. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie. Om die waarheid te sê, Hy het vir hulle ’n spesiale blyplek by Hom reggemaak. God wou kyk of Abraham regtig in Hom glo. Daarom het Hy gesê dat Abraham Isak moes gaan doodmaak. Abraham het na God geluister, omdat hy God vertrou het. God het immers vir hom beloof dat hy ’n nageslag sou hê en gesê: “Isak is die een deur wie Ek vir jou ’n groot nageslag sal gee.” Nou moes hy daardie seun gaan doodmaak. Dit het nie vir Abraham logies geklink nie, maar hy het God vertrou. Hy het geredeneer dat God Isak weer lewendig sou maak, want Hy kan dit doen. Eintlik kan ’n mens dus sê dat Abraham wel vir Isak doodgemaak het en dat hy sy seun weer uit die dood teruggekry het.

HEBREËRS 11:8-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom geroep het, gehoorsaam weggetrek na die land wat God vir hom as ’n erfdeel sou gee. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland. Omdat hy geglo het, het hy in die Beloofde Land gaan woon – ’n vreemdeling in ’n vreemde land. Hy het daar in tente gewoon. So ook Isak en Jakob aan wie God dieselfde belofte gemaak het. Abraham kon dit doen omdat hy uitgesien het na die stad met stewige fondamente wat God self ontwerp en gebou het. Omdat hy geglo het, het Abraham, saam met Sara (wat onvrugbaar was), ook krag ontvang om ’n kind te verwek, en dit nogal in sy ouderdom, omdat hy geglo het dat God sy belofte sou nakom. En so is daar uit een mens, en dit nogal een wat nie meer ’n kind kon verwek nie, mense gebore so baie soos die sterre aan die hemelruim en so ontelbaar soos die sandkorrels op die strand. Terwyl hulle nog steeds geglo het, het hulle almal gesterf sonder om die vervulling van God se belofte te beleef. Hulle het dit egter in die verte gesien en begroet, en erken dat hulle hier net vreemdelinge en bywoners is. Mense wat só praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na hulle eintlike vaderland. As hulle daardie land bedoel het waarvandaan hulle geëmigreer het, sou hulle kans kry om weer terug te trek. Maar nou hunker hulle na ’n beter vaderland, naamlik dié een in die hemel. Dit is waarom God Hom nie skaam om as hulle God bekend te staan nie. Hy het immers vir hulle ’n stad voorberei. Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom wou toets, sy seun as’t ware al klaar geoffer gehad. Ja, hy wou sy enigste kind offer – dié man wat God se beloftes ontvang het, aan wie gesê is: “Isak is die seun uit wie jou nageslag gebore sal word.” Hy het daarop gereken dat God sy kind selfs uit die dood sou kon opwek. En in ’n sekere sin hét hy hom ook uit die dood terugontvang.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid