Hebreërs 11:8-19

Hebreërs 11:8-19 AFR20

Deur geloof was Abraham gehoorsaam toe hy geroep is om uit te trek na 'n plek wat hy as erfenis sou ontvang, en hy het weggetrek, sonder om te weet waarheen hy gaan. Deur geloof het hy as bywoner in die land van die belofte gaan bly, soos in 'n vreemde land, en het hy in tente gewoon saam met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die argitek en boumeester is. Deur geloof het ook Sara, alhoewel reeds onvrugbaar, en nie meer jonk nie, krag ontvang om bevrug te word, aangesien sy Hom wat dit beloof het, getrou geag het. Daarom is daar uit een man, wat so te sê dood was, 'n nageslag gebore, in getal so veel soos die sterre van die hemel, en soos die ontelbare sandkorrels op die strand langs die see. Al hierdie mense het in geloof gesterf sonder om die beloftes te ontvang, maar hulle het dit van ver af gesien en verwelkom, en bely dat hulle uitlanders en vreemdelinge op die aarde is. Want dié wat sodanige dinge sê, gee te kenne dat hulle op soek is na 'n vaderland. En as hulle nog aanhou dink het aan daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer; maar nou hunker hulle na 'n beter een, 'n hemelse een. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle 'n stad voorberei. Deur geloof het Abraham, toe hy getoets is, Isak as offer aangebied, en was hy op die punt om sy enigste te offer – hy wat die beloftes ontvang het, aan wie gesê is, “Deur Isak sal daar vir jou 'n nageslag wees” – omdat hy gereken het dat God die mag het om ook uit die dood op te wek, waaruit hy, figuurlik gesproke, hom ook terugontvang het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid