HEBREËRS 11

11
Rolmodelle van geloofsvolharding
1Wat is geloof dan? Dit is ’n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien#11:1 Of waarop ons hoop., inderdaad sal gebeur. Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, waar sal maak. 2Juis op grond van hierdie geloof word daar so positief oor die mense van vroeër getuig.
3Omdat ons glo, verstaan ons dat God, deur net ’n woord te spreek, die ganse heelal geskep het. Dit wat ons nou kan sien, het dus nie uit sigbare dinge ontstaan nie.
4Omdat Abel geglo het, het hy ’n beter offer as Kain aan God gebring. God het Abel se offer aanvaar en daarmee bevestig dat hy ’n regverdige mens is. En al is hy lankal dood, praat hy deur sy geloof nog steeds met ons.
5Omdat hy geglo het, is Henog weggeneem sonder om te sterf. Hulle kon hom nie kry nie, want God het hom weggeneem. Maar nog voordat hy weggeneem is, is van hom getuig dat hy God se goedkeuring wegdra. 6As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, beloon.
7Omdat hy geglo het, het Noag, toe God hom gewaarsku het oor wat nog nie gesien kon word nie, gehoorsaam die ark gebou. Daardeur is sy huisgesin gered en die wêreld veroordeel. So het hy dan ’n erfgenaam geword van die vryspraak wat ’n mens deur die geloof ontvang.
8Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom geroep het, gehoorsaam weggetrek na die land wat God vir hom as ’n erfdeel sou gee. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland. 9Omdat hy geglo het, het hy in die Beloofde Land gaan woon – ’n vreemdeling in ’n vreemde land. Hy het daar in tente gewoon. So ook Isak en Jakob aan wie God dieselfde belofte gemaak het. 10Abraham kon dit doen omdat hy uitgesien het na die stad met stewige fondamente wat God self ontwerp en gebou het.
11Omdat hy geglo het, het Abraham, saam met Sara (wat onvrugbaar was), ook krag ontvang om ’n kind te verwek, en dit nogal in sy ouderdom, omdat hy geglo het dat God sy belofte sou nakom.#11:11 Die grondteks se betekenis is onduidelik. Sommige manuskripte Omdat sy geglo het, is Sara in staat gestel om ’n kind te hê, al was sy al te oud en boonop onvrugbaar. Sy het immers geglo dat God sy belofte sou nakom. 12En so is daar uit een mens, en dit nogal een wat nie meer ’n kind kon verwek nie, mense gebore so baie soos die sterre aan die hemelruim en so ontelbaar soos die sandkorrels op die strand.
13Terwyl hulle nog steeds geglo het, het hulle almal gesterf sonder om die vervulling van God se belofte te beleef. Hulle het dit egter in die verte gesien en begroet, en erken dat hulle hier net vreemdelinge en bywoners is. 14Mense wat só praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na hulle eintlike vaderland. 15As hulle daardie land bedoel het waarvandaan hulle geëmigreer het, sou hulle kans kry om weer terug te trek. 16Maar nou hunker hulle na ’n beter vaderland, naamlik dié een in die hemel. Dit is waarom God Hom nie skaam om as hulle God bekend te staan nie. Hy het immers vir hulle ’n stad voorberei.
17Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom wou toets, sy seun as’t ware al klaar geoffer gehad. Ja, hy wou sy enigste kind offer – dié man wat God se beloftes ontvang het, 18aan wie gesê is: “Isak is die seun uit wie jou nageslag gebore sal word.”#11:18 Gen 21:12. 19Hy het daarop gereken dat God sy kind selfs uit die dood sou kon opwek. En in ’n sekere sin hét hy hom ook uit die dood terugontvang.
20Omdat hy geglo het, het Isak sy seuns Jakob en Esau geseën met die oog op wat God nog in die toekoms sou doen.
21Omdat hy geglo het, het Jakob op sy sterfbed albei seuns van Josef geseën en biddend voor God gebuig terwyl hy op sy kierie geleun het.
22Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die Israeliete se uittog uit Egipte en opdrag gegee dat hulle sy beendere moes saamneem.
23Omdat hulle geglo het, het Moses se ouers hom na sy geboorte vir drie maande weggesteek, want hulle het agtergekom dat hy ’n besondere kind was. Hulle het hulle nie deur die koning se bevel laat afskrik nie.
24Omdat Moses geglo het, het hy as volwasse man geweier om as die seun van Farao se dogter bekend te staan. 25Hy het die swaarkry saam met God se volk verkies bo die kortstondige genieting van die sonde. 26Vir hom was die smaad wat hy ter wille van Christus, die Messias, moes deurmaak, ’n groter rykdom as die skatte van Egipte. Hy het immers uitgesien na die beloning wat God aan hom sou gee.
27Omdat hy geglo het, het Moses Egipte verlaat sonder om hom deur die woede van die koning te laat afskrik. Hy het volgehou soos iemand wat sy oog op die onsienlike gevestig hou.
28Omdat Moses geglo het, het hy die Paasfees ingestel en bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die doodsengel nie die Israeliete se oudste seuns sou tref nie.
29Omdat hulle geglo het, het die Israeliete deur die Rooisee getrek soos op droë grond. Maar toe die Egiptenaars dit ook probeer het, het hulle verdrink.
30Omdat die Israeliete geglo het, het hulle vir sewe dae om Jerigo marsjeer en sy mure het ineengestort.
31Omdat sy geglo het, het Ragab die prostituut die spioene vriendelik ontvang en nie saam met die mense van haar stad, wat aan God ongehoorsaam was, gesterf nie.
32Wat meer moet ek nog sê? Dit sal veels te lank neem om nog te vertel van die geloof van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en die profete. 33Hulle het deur te glo koninkryke verower, die reg herstel, verkry wat God beloof het, leeus se bekke toegestop, 34die gloed van vuur geblus en aan die swaard ontkom. Hulle het krag in hulle swakheid ontvang, was magtig in die oorlog en het vreemde leërs op die vlug laat slaan. 35Vroue het selfs hulle geliefdes uit die dood terugontvang.
Ander weer is gemartel, maar wou nie die prys vir hulle vrylating betaal nie omdat hulle die opstanding tot ’n beter lewe wou verkry. 36Party moes bespotting en géseling verduur, ook arrestasie en gevangenskap. 37Hulle is met klippe doodgegooi, in twee gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgegaan in skaapvelle en bokvelle, honger en verdruk en mishandel. 38Hulle was te goed vir hierdie wêreld; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge in grotte geskuil en in gate in die grond.
39En alhoewel daar oor hulle almal op grond van hulle geloof met soveel lof getuig is, het nie een van hulle ten volle verkry wat God beloof het nie. 40Die rede daarvoor is dat God met ons in gedagte iets beters beoog het sodat hulle nie sonder ons volmaaktheid sou bereik nie.

Tans Gekies:

HEBREËRS 11: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid