GENESIS 30:35-43

GENESIS 30:35-43 Bybel vir almal (ABA)

Maar Laban het toe daardie dag gou al die bont bokke en die bokke met kolle apart gejaag. Hy het ook al die bokke wat wit dele gehad het, en al die swart skaap-ramme vir sy seuns gegee om op te pas. Hy het gesê hulle moet daardie diere wegvat van Jakob, so ver soos 'n mens in drie dae kan loop. Jakob moes Laban se ander skape en bokke oppas. Jakob het toe groen stokke geneem van populierbome, van amandelbome en van plataanbome, hy het dele van die bas afgeskil, sodat daar wit strepe op die stokke was. Hy het die stokke wat hy so afgeskil het, in die waterbakke van die skape en bokke gesit. Hy het die stokke so neergesit dat dit reg voor die skape en bokke was wanneer hulle water kom drink. Wanneer die skape en bokke daar by die stokke gepaar het, dan het hulle gestreepte of bont lammers gekry of lammers met kolle. Jakob het die skaap-ramme apart gehou en hy het die skape en bokke laat kyk na die bont skape en bokke van Laban en na die skape en bokke met kolle. So het Jakob 'n klomp skape en bokke vir homself gekry, maar Laban het niks gekry nie. Elke maal wanneer die sterk skape en bokke wou paar, dan het Jakob die stokke voor hulle in die waterbakke gesit sodat hulle net by die stokke kon paar. Maar as dit swak skape of bokke was, dan het hy nie die stokke in die waterbakke gesit nie. Toe het Laban al die swak lammers gekry, en Jakob het die sterk lammers gekry. So het Jakob baie ryk geword. Hy het baie skape, bokke, slavinne, slawe, kamele en donkies gekry.

GENESIS 30:35-43 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hy het egter dieselfde dag die gestreepte en gevlekte bokramme en al die bont en gevlekte bokooie, almal wat wit aan hulle gehad het, en al die donkerkleuriges onder die jong skape, uitgekeer en hulle in die sorg van sy seuns gelaat. Hy het 'n afstand van drie dagreise tussen hom en Jakob gehandhaaf. Jakob het die res van Laban se kleinvee laat wei. Jakob het groen latte van populiere, amandelbome en platane geneem. Hy het stroke bas daarvan afgeskil om die wit van die latte te ontbloot. Toe sit hy die takke wat hy geskil het, in die waterbakke reg voor die kleinvee, in die drinkbakke waarheen die kleinvee kom om te drink. Hulle het bronstig geraak wanneer hulle kom om te drink. So het die kleinvee by die latte bronstig geraak, en die kleinvee het gestreepte, bont en gevlekte lammers gekry. Jakob het dié jong skape afgesonder. Hy het die kleinvee laat kyk in die rigting van die gestreeptes en al die donkerkleuriges onder Laban se kleinvee. So het Jakob vir homself afsonderlike kuddes opgebou en hulle nie saam met Laban se kleinvee aangehou nie. Telkens wanneer ook al die sterkste ooie bronstig was, het Jakob die latte in die waterbakke neergesit, voor die oë van die kleinvee, sodat hulle by die latte bronstig kon wees. Wanneer die kleinvee egter swak was, het hy dit nie neergesit nie. Die swakkes was vir Laban en die sterkes vir Jakob. Die man se besittings het geweldig uitgebrei. Hy het baie kleinvee, slavinne, slawe, kamele en donkies gehad.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid