Genesis 30:35-43

Genesis 30:35-43 AFR20

Hy het egter dieselfde dag die gestreepte en gevlekte bokramme en al die bont en gevlekte bokooie, almal wat wit aan hulle gehad het, en al die donkerkleuriges onder die jong skape, uitgekeer en hulle in die sorg van sy seuns gelaat. Hy het 'n afstand van drie dagreise tussen hom en Jakob gehandhaaf. Jakob het die res van Laban se kleinvee laat wei. Jakob het groen latte van populiere, amandelbome en platane geneem. Hy het stroke bas daarvan afgeskil om die wit van die latte te ontbloot. Toe sit hy die takke wat hy geskil het, in die waterbakke reg voor die kleinvee, in die drinkbakke waarheen die kleinvee kom om te drink. Hulle het bronstig geraak wanneer hulle kom om te drink. So het die kleinvee by die latte bronstig geraak, en die kleinvee het gestreepte, bont en gevlekte lammers gekry. Jakob het dié jong skape afgesonder. Hy het die kleinvee laat kyk in die rigting van die gestreeptes en al die donkerkleuriges onder Laban se kleinvee. So het Jakob vir homself afsonderlike kuddes opgebou en hulle nie saam met Laban se kleinvee aangehou nie. Telkens wanneer ook al die sterkste ooie bronstig was, het Jakob die latte in die waterbakke neergesit, voor die oë van die kleinvee, sodat hulle by die latte bronstig kon wees. Wanneer die kleinvee egter swak was, het hy dit nie neergesit nie. Die swakkes was vir Laban en die sterkes vir Jakob. Die man se besittings het geweldig uitgebrei. Hy het baie kleinvee, slavinne, slawe, kamele en donkies gehad.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid