GENESIS 30:35-43

GENESIS 30:35-43 AFR83

Maar dieselfde dag nog het Laban al die gevlekte en bont bokramme en al die gestreepte en bont bokooie afgekeer en ook alles waaraan iets wits was en al die swart skape, en dit alles onder die sorg geplaas van sy seuns. Hy het hierdie trop van hom op 'n afstand van drie dae se trek van Jakob af laat oppas. Jakob self het Laban se ander vee opgepas. Jakob het toe jong lote van populiere, amandels en plataanbome gevat en stroke daarvan afgeskil, sodat daar wit strepe op die lote was. Hy het die lote wat hy so afgeskil het, in die waterkrippe gesit, reg voor die kleinvee waar hulle kom suip het. Wanneer die ooie dan op hitte kom en kom suip, is hulle by die lote gedek en het hulle gevlekte en gestreepte en bont lammers gekry. Jakob het die skape uitgekeer en hulle laat kyk in die rigting van die gevlekte en swart vee van Laban. So het Jakob vir hom sy eie kuddes opgebou en hy het hulle nie by Laban se kleinvee laat kom nie. Wanneer die sterk diere gedek moes word, het Jakob die lote voor hulle in die krippe gesit sodat hulle by die lote gedek kon word. Maar hy het nie die lote by die swak diere gesit nie. So het dit gekom dat Laban die swakkes gekry het en Jakob die sterkes. Die man het al hoe ryker geword. Hy het baie kleinvee, slavinne, slawe, kamele en donkies gehad.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid