EKSODUS 8:16-19
EKSODUS 8:16-19 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het vir Moses gesê hy moet vir Aäron sê: “Slaan met jou kierie op die grond. Die stof sal dan in muggies verander, en Egipte sal vol muggies wees.” Moses en Aäron het dit gedoen. Aäron het met sy kierie op die grond geslaan. Die stof het in muggies verander en hulle het oral op die mense en die diere gaan sit. Al die stof in die hele Egipte het in muggies verander. Die towenaars het probeer om dieselfde te doen. Hulle wou ook die stof in muggies verander, maar hulle kon nie. Die muggies was op al die mense en al die diere. Die towenaars sê toe vir die farao: “Dit is God wat die muggies gestuur het!” Maar die farao was hardkoppig, hy het nie na hulle geluister nie. Dit het gebeur soos die Here gesê het.
EKSODUS 8:16-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
VERDER het die HERE met Moses gespreek: Sê aan Aäron: Steek jou staf uit en slaan die stof van die aarde, en dit sal muskiete word in die hele Egipteland. En hulle het so gedoen: Aäron het sy hand met sy staf uitgesteek en die stof van die aarde geslaan, en daar het muskiete gekom op die mense en op die vee. Al die stof van die aarde het muskiete geword in die hele Egipteland. En die towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste om die muskiete voort te bring, maar hulle kon nie. So was die muskiete dan op die mense en op die vee. Toe sê die towenaars vir Farao: Dit is die vinger van God! Maar Farao se hart was verhard, sodat hy na hulle nie geluister het nie, soos die HERE gespreek het.
EKSODUS 8:16-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarna het die Here vir Moses gesê: “Sê vir Aäron: Swaai jou kierie en slaan op die grond dat daar muggies oor die hele Egipte kom.” Hulle twee het toe so gemaak. Aäron het die kierie geswaai en op die grond geslaan, en mens en dier was oortrek van die muggies. In die hele Egipte het elke krieseltjie stof 'n muggie geword. Die towenaars het dieselfde probeer doen met hulle towerkunste, dié keer om muggies voort te bring, maar hulle kon nie. Mens en dier was oortrek van die muggies. Toe sê die towenaars vir die farao: “Dit is die vinger van God!” Maar die farao het koppig gebly. Hy het nie aan Moses-hulle se versoek gehoor gegee nie, net soos die Here vooraf gesê het.
EKSODUS 8:16-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE het vir Moses gesê: “Sê vir Aäron, ‘Steek jou staf uit en slaan die stof op die grond; dan sal dit muggies word in die hele Egipteland.’ ” Hulle het toe so gemaak. Aäron het sy hand met sy staf uitgestrek, die stof op die grond geslaan, en daar was muggies op mens en dier. Al die stof van die land het muggies geword in die hele Egipteland. Die waarsêerpriesters het dit ook probeer doen – met hulle towerkuns muggies probeer voortbring – maar hulle kon nie. Daar was muggies op mens en dier. Toe sê die waarsêerpriesters vir die farao: “Dit is die vinger van God! ” Maar die farao se hart was verhard en hy wou nie na hulle luister nie, soos die HERE gesê het.
EKSODUS 8:16-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê die HERE vir Moses: Sê vir Aäron: Steek jou staf uit en slaan die stof van die land, dat dit luise kan word in die hele Egipteland. En hulle het so gedoen; want Aäron het sy hand met sy staf uitgesteek en die stof van die aarde geslaan, en dit het luise geword by mense en diere; al die stof van die land het luise geword in die hele Egipteland. En die towenaars het so gedoen met hulle towerye om luise voort te bring, maar hulle kon nie, en daar was luise op mense en op diere. Toe sê die towenaars vir Farao: Dit is die vinger van God; soos die HERE gesê het.
EKSODUS 8:16-19 Die Boodskap (DB)
Die Here het vir Moses gesê: “Laat Aäron met sy kierie in die stof op die grond slaan. Die stof sal dan muggies word wat oor die hele land versprei.” Hulle het toe so gemaak. Toe Aäron sy kierie oplig en in die stof slaan, het daar muggies op mens en dier toegesak. Dit het gelyk of elke krieseltjie stof in Egipte ’n muggie geword het. Die towenaars het ook probeer om met hulle kunsies muggies uit die grond te laat kom. Hulle kon dit egter nie regkry nie. Die muggies was vir mens en dier ’n verpesting. “Hierdie is ’n vingerwysing van God,” het die towenaars vir die farao gesê. Maar die farao se kop het net al harder geword en hy het bly weier om na Moses-hulle te luister. Hy het presies opgetree soos God gesê het dit sou gebeur.
EKSODUS 8:16-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE het toe vir Moses gesê: “Sê vir Aäron: ‘Vat jou stok en slaan op die grond. Dit sal muggies oor die hele Egipte bring.’” Hulle het net so gemaak soos die HERE gesê het. Aäron het sy stok gevat en op die grond geslaan. Daar het toe muggies gekom wat op mens en dier toegesak het. Oor die hele land het die stof in muggies verander. Die farao se towenaars het dieselfde met hulle kunsies probeer regkry. Hierdie keer was hulle nie suksesvol nie. Die muggies het al wat mens en dier is, toegetakel. “Hierdie is ’n vingerwysing van God,” het die towenaars vir die farao gesê. Maar die farao het onversetlik gebly. Net soos die HERE gesê het, het hy bly weier om te luister.