EKSODUS 12:11-13 - Compare All Versions

EKSODUS 12:11-13 ABA (Bybel vir almal)

“ ‘Julle moet gereedmaak sodat julle dadelik kan gaan. Elkeen moet sy klere aantrek en hy moet dit vasmaak met 'n belt. Julle moet julle skoene aantrek en julle kieries in die hand hou. Dan moet julle baie vinnig eet. Dit is die Here se Paasfees. “ ‘Ek sal vannag deur Egipte gaan en Ek sal die oudste seun van elke huisgesin in Egipte doodmaak, ook die eerste manlike kleintjies van al die diere, en Ek sal al die gode van Egipte straf. Ek is die Here! Die bloed aan die deure se rame sal 'n teken wees dat julle in daardie huise is. As Ek die bloed sien, dan sal Ek by julle huise verbygaan, en Ek sal julle nie straf wanneer Ek die Egiptenaars straf nie.

EKSODUS 12:11-13 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En só moet julle dit eet: Julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; baie haastig moet julle dit eet. 'n Pasga van die HERE is dit. Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref, van mense sowel as van diere. En Ek sal strafgerigte oefen aan al die gode van Egipte, Ek, die HERE. Maar die bloed sal vir julle 'n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie.

EKSODUS 12:11-13 AFR83 (Afrikaans 1983)

Julle moet dit haastig eet, aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie in die hand. Dit is die paasfees van die Here. “Daardie selfde nag sal Ek deur Egipte gaan om al die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, te tref. Met al die Egiptiese gode sal Ek afreken. Ek is die Here! Die bloed aan die huise waarin julle is, sal 'n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek Egipte gaan tref, sal julle nie tref nie.

EKSODUS 12:11-13 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Dit is hoe julle dit moet eet: met heupe omgord, julle sandale aan julle voete en julle wandelstokke in julle hande. Julle moet dit haastig eet. Dit is die Pasga van die HERE. “Ek sal daardie nag deur Egipteland gaan en alle eersgeborenes in Egipteland tref, mens en dier. Oor al die gode van Egipte sal Ek oordele voltrek. Ek is die HERE. Die bloed sal vir julle as 'n teken dien aan die huise waarin julle is. Wanneer Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. Daar sal by julle geen plaag deur die vernietiger wees wanneer Ek Egipteland tref nie.

EKSODUS 12:11-13 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En so moet julle dit eet; met jou lendene omgord, jou skoene aan jou voete en jou staf in jou hand; en julle moet dit haastig eet; dit is die pasga van die HERE. Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref, mense sowel as diere; en teen al die gode van Egipte sal Ek oordeel: Ek is die HERE. En die bloed sal vir julle 'n teken wees op die huise waar julle is; en as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan, en die plaag sal nie oor julle wees om julle te vernietig wanneer Ek Egipteland tref nie.

EKSODUS 12:11-13 DB (Die Boodskap)

“Julle moet al hierdie goed eet soos mense wat baie haastig is om weg te kom. Die gordels om julle heupe moet vasgetrek wees. Julle moet sandale aan julle voete hê. Julle kieries moet in julle hande wees sodat julle reg kan wees om te begin stap. En julle moet vinnig eet. Dit word die paasfees genoem. Julle moet dit elke jaar hou om die Here se Naam groot te maak. Ek sal in daardie nag deur Egipte trek. Deur die hele Egipte sal Ek in elke huis die seun wat eerste gebore is, laat doodgaan. Dit sal met die mense sowel as die diere gebeur. Ek sal met die gode van Egipte afreken, want Ek is die Here. Die bloed wat julle aan die kosyne van julle huise gesmeer het, sal vir My ’n teken wees om julle uit te ken. Wanneer Ek dit sien, sal Ek by daardie huis verbygaan. Ek sal julle spaar van die ramp waarmee Ek die hele Egipte gaan tref.”

EKSODUS 12:11-13 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

“Wanneer julle dit eet, moet julle aangetrek wees om op reis te gaan. Julle moet skoene aanhê en julle kieries moet al in julle hande wees. Eet die kos vinnig. Dit is die HERE se Paasfees. Ek sal daardie nag deur Egipte trek en in die land al die oudste seuns en die diere wat eerste gebore is, doodmaak. Ek sal die gode van Egipte straf. Ek is die HERE! Die bloed wat julle aan julle kosyne gesmeer het, sal vir My ’n teken wees dat julle daar bly. As Ek dit sien, sal Ek daardie huis oorslaan. Die ramp wat Ek oor Egipte laat kom, sal julle nie tref nie.