EFESIËRS 3:1-12

EFESIËRS 3:1-12 Bybel vir almal (ABA)

Ek, Paulus, is nou in die tronk omdat ek aan Christus behoort. Ek is in die tronk omdat ek vir julle van Hom vertel het, julle wat heidene is. Julle het gehoor dat God goed was vir my en dat Hy vir my die werk gegee het om vir julle te vertel dat God ook vir júlle goed is. Julle het gehoor dat Hy vir my gesê en gewys het wat sy boodskap oor Christus is, die boodskap wat niemand voorheen geken het nie. Dit is wat ek in hierdie brief klaar vir julle geskryf het. Wanneer julle nou verder lees, dan sal julle weet dat ek die boodskap oor Christus verstaan. God het nou sy Gees gestuur om dit vir sy gewyde apostels en profete te bring. Hy het die boodskap nie so gestuur vir die mense wat voorheen gelewe het nie. Daardie boodskap is: Julle is heidene, maar julle behoort aan Christus Jesus en julle glo die goeie boodskap. Daarom gee God nou ook vir julle baie goeie dinge, soos Hy vir die Jode gegee het. Julle en die Jode is nou almal saam, julle is soos een liggaam. En julle sal ook kry wat God belowe het. Nou is dit my werk om die goeie boodskap vir julle te bring. Dit is die present wat God vir my gegee het. God was goed vir my, Hy is sterk en Hy het my verander. Ja, God was baie goed vir my. Ek is minder belangrik as al die ander mense wat aan God behoort, maar God het gesê ek moet die goeie boodskap vir die heidene bring. Die goeie boodskap is dat Christus baie goeie dinge vir mense gee, baie meer as wat hulle kan weet. God wat alles gemaak het, het eeue lank vir niemand gesê wat Hy wil doen nie, niemand het sy boodskap oor Christus geken nie. Maar nou het God gesê ek moet vir almal help om te verstaan wat Hy doen. Daarom kan die kerk nou vir almal en alles wat oor die wêreld wil regeer, vertel van die wonderlike wysheid van God. God het lank gelede besluit wat Hy wou doen. Hy het Christus Jesus, ons Here, gestuur om dit te doen. Ons behoort aan Christus en ons glo in Hom. Daarom is ons nie bang om vir God iets te vra nie. Ons glo dat God sal doen wat Hy gesê het.

EFESIËRS 3:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarom bid ek vir julle wat nie Jode is nie, ek, Paulus, 'n gevangene deur my diens aan Christus Jesus. Julle het tog seker gehoor van die opdrag wat God in sy genade aan my gegee het in julle belang. Hy het sy geheimenis deur 'n openbaring aan my bekend gemaak, soos ek dit hierbo kortliks beskrywe het, en as julle dit lees, sal julle 'n begrip kry van my insig in die geheimenis van Christus. Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie. En dít is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het. Van hierdie evangelie het ek 'n dienaar geword, 'n voorreg wat God in sy genade aan my gegee het deur sy krag in my te laat werk. Hoewel ek die geringste van al die gelowiges is, het Hy aan my hierdie voorreg gegee om aan die heidennasies die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig. Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly het. Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring. In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan.

EFESIËRS 3:1-12 Die Boodskap (DB)

Juis daarom sit ek, Paulus, hier vir Christus in die tronk. Ek is in die tronk gegooi omdat ek vir julle wat nie Jode is nie van Christus vertel het. Julle het seker al gehoor dat God my gevra het om vir julle te kom vertel hoe goed Hy regtig is. God het duidelik vir my gewys wat sy plan met julle is, al het mense dit glad nie besef nie. Ek het al so ’n bietjie daarna begin verwys. As julle nou verder lees, sal julle ook duidelik begin agterkom hoe die verrassende plan van God met Christus werk en hoe ek dit verstaan. Deur die loop van die geskiedenis het die mense nie geweet wat God gaan doen nie. Nou is dit egter nie meer vir ons ’n geheim nie. Die Heilige Gees het dit aan al die mense vertel wat gekies is om God se Woord te verkondig. Die geheim is dit: enigiemand wat in Christus Jesus glo (selfs al is hy ’n nie-Jood), word ’n kind van God en kry by God wat Hy vir al sy kinders gee. So ’n persoon is dan saam met die ander gelowiges die liggaam van Christus. Hy kry alles wat God in die goeie boodskap aan Christus Jesus se mense beloof het. God het my aangestel om hierdie nuus vir ander te gaan vertel. Dit is ’n voorreg wat God aan my gegee het, al verdien ek dit nie. Hy gee ook vir my die krag om dit te doen. Van al die Christene is ek die minste werd. Nogtans het God besluit om hierdie voorreg aan my te gee, en dit was onverdiend, glo my. Ek is die een wat nou aan die nie-Jode moet gaan vertel wat Christus alles vir hulle gedoen het. Dit is iets wat ’n mens nooit regtig kan begryp nie, want dit is te wonderlik en groot. Ek moet aan elkeen van hulle verduidelik dat God se redding ook vir hulle bedoel is. Dit was van altyd af wat God - wat alles gemaak het - wou doen, maar mense het dit net nie besef nie. God wil hê dat die kerk vir al die onsigbare magte en heersers in die hemel sal wys hoe wonderlik slim Hy regtig is. Hy weet alles en beplan vir alles. Van die heel begin af het God geweet dat Hy met die koms van Christus, ons Here, hierdie plan van Hom aan die werk sou sit. Omdat ons Jesus s’n is en op Hom vertrou, hoef ons nou nie meer bang te wees om na God toe te gaan nie. Ons kan dit vol vertroue doen sonder om te wonder of ons mag.

EFESIËRS 3:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hier volg nou die rede waarom ek, Paulus, die gevangene in diens van Christus, vir julle, die nie-Jode, bid. Julle het seker gehoor van die bediening wat God uit genade aan my toevertrou het, ’n bediening in julle belang. ’n Geheime plan is deur openbaring aan my bekendgemaak. Oor dié geheime plan het ek hierbo kortliks geskryf. Deur dit te lees kan julle ’n begrip vorm van my insig in die geheime Christusplan. God het hierdie geheime plan nie in vorige geslagte aan mense bekendgemaak nie, maar nou het Hy dit deur die Gees bekendgemaak aan die apostels en profete wat aan Hom toegewy is. Dié geheime plan is dat die nie-Joodse nasies deur Christus Jesus saam sal deel in die erfenis van God se volk, dat hulle saam lede van dieselfde liggaam is, en saam deel het aan die beloftes wat op grond van die Goeie Nuus verkry word. Uit genade het God my die gawe gegee om ’n dienaar van hierdie Goeie Nuus te word. Die gawe is aan my gegee deur die werking van God se krag. Aan my, die heel onbelangrikste van al God se mense, is hierdie genade gegee om aan die nie-Joodse nasies die onmeetlike rykdom van Christus te verkondig! Ek moet vir almal duidelik maak hoe God, die Skepper van alle dinge, die geheime plan uitvoer wat nog altyd verborge was. Die doel hiermee is om nou deur die kerk vir al die bose hemelse regeerders en maghebbers te wys hoe allesomvattend die wysheid van God se ewige plan is, dié plan wat Hy deur Christus Jesus ons Here tot uitvoer bring. Deur Christus en ons geloof in Hom, kan ons met vertroue vrymoedig na God toe gaan.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid