Efesiërs 3

3
Paulus se dienswerk onder die heidene
1Om hierdie rede is ek, Paulus, die gevangene van •Christus Jesus, ter wille van julle, die heidene.
2Julle het tog gehoor dat die taak van die bediening van God se genade teenoor julle aan my toevertrou is. 3 Deur openbaring is die geheimenis aan my bekend gemaak, soos ek reeds kortliks geskryf het. 4Wanneer julle dit lees, sal julle daardeur my insig in die geheimenis van Christus kan begryp. 5Die geheimenis is nie aan vorige geslagte onder die mensdom bekend gemaak, soos dit tans deur die Gees aan sy heilige •apostels en profete geopenbaar is nie, 6 naamlik dat die heidene deur die evangelie mede-erfgename, medelede van die liggaam en deelgenote aan die belofte in Christus Jesus is. 7Van dié evangelie het ek 'n dienaar geword, ooreenkomstig die gawe van God se genade wat aan my betoon is volgens die werking van sy krag. 8Aan my, minder as die geringste van al die •heiliges, is hierdie genade geskenk, om aan die heidene die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig, 9en om almal in te lig wat die uitvoering van die geheimenis is wat vir eeue lank verborge was in God, wat alle dinge geskep het. 10Gevolglik kan die ryklik geskakeerde wysheid van God nou deur die •kerk aan die owerhede en die magte in die hemel bekend gemaak word, 11ooreenkomstig sy ewige voorneme, wat Hy gemaak het in Christus Jesus, ons Here. 12 In Hom het ons, deur ons geloof in Hom, 'n seker en vrymoedige toegang tot God. 13Daarom versoek ek julle om nie moedeloos te word as gevolg van my verdrukking ter wille van julle nie. Dit sal julle tot eer strek.
Paulus se gebed vir die lesers
14Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader, 15van wie elke geslag in die hemel en op aarde sy naam ontvang. 16Ek bid dat Hy vir julle na die rykdom van sy heerlikheid dít sal skenk:
om deur sy Gees met krag
na die innerlike mens versterk te word,
17sodat •Christus deur die geloof
in julle harte mag woon,
terwyl julle in die liefde
gewortel en gegrond is,
18 sodat julle volledig in staat mag wees
om saam met al die •heiliges
tot die besef te kom
van die breedte en die lengte
en die hoogte en die diepte,
19ja, om die liefde van Christus te leer ken, wat alle begrip te bowe gaan,
sodat julle gevul mag word
met al die volheid van God.
Lofprysing
20Aan Hom, wat deur sy krag wat in ons werk, die mag het om oneindig meer te doen as alles wat ons bid of dink, 21aan Hom kom toe die heerlikheid in die •kerk en in •Christus Jesus, deur alle geslagte heen, vir ewig en ewig. •Amen.

Tans Gekies:

Efesiërs 3: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid