DEUTERONOMIUM 4:2-4
DEUTERONOMIUM 4:2-4 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet doen wat die wette van julle God die Here sê, die wette wat ek vir julle gee. Julle moet niks bysit by die dinge wat ek vir julle leer nie, en julle moet niks daarvan wegneem nie. Julle het self gesien wat die Here gedoen het by die stad Baäl-Peor. Julle God die Here het daar almal laat sterf wat die afgod Baäl-Peor gedien het. Maar julle wat aangehou het om julle God die Here te dien, julle lewe almal vandag nog.
DEUTERONOMIUM 4:2-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die HERE julle God mag onderhou, wat ek julle beveel. Julle oë het gesien wat die HERE weens Baäl-Peor gedoen het; want al die manne wat agter Baäl-Peor aan geloop het, dié het die HERE jou God onder jou uit verdelg. Julle daarenteen wat die HERE julle God aangehang het, is vandag nog almal in die lewe.
DEUTERONOMIUM 4:2-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Moenie iets byvoeg by wat ek julle beveel nie en moet ook nie iets daarvan wegvat nie, maar gehoorsaam die Here julle God se gebooie wat ek julle gegee het. Julle eie oë het gesien wat die Here by Baäl-Peor gedoen het: elkeen wat vir Baäl-Peor gedien het, is deur die Here julle God tussen julle uit verdelg. Maar julle wat getrou gebly het aan die Here julle God, lewe vandag nog almal.
DEUTERONOMIUM 4:2-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Julle mag niks byvoeg by alles wat ek julle beveel nie, en julle mag niks daarvan weglaat nie. Kom die gebooie van die HERE julle God, na wat ek julle beveel. Julle het met julle eie oë gesien wat die HERE gedoen het by Baäl-Peor, dat die HERE julle God elke enkele persoon onder julle wat agter die Baäl van Peor aangeloop het, onder julle uitgedelg het. Maar julle wat aan die HERE julle God vasgehou het, julle almal leef vandag nog.
DEUTERONOMIUM 4:2-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Julle mag niks byvoeg by die woord wat ek julle beveel nie, en julle mag niks daarvan verminder nie, dat julle die gebooie van die HERE julle God wat ek julle beveel, kan onderhou. Julle oë het gesien wat die HERE ter wille van Baäl-Peor gedoen het; want al die manne wat Baäl-Peor gevolg het, die HERE jou God het hulle onder jou uit verdelg. Maar julle wat aan die HERE julle God gekleef het, leef vandag elkeen van julle.
DEUTERONOMIUM 4:2-4 Die Boodskap (DB)
Moet niks bysit by hierdie wette nie en moet ook niks daarvan weglaat nie. Leef voluit volgens die Here se wil. “Julle het immers self gesien wat by Baäl-Peor gebeur het. Elkeen wat Baäl aanbid het, is deur die Here vernietig. Almal van julle wat egter die Here bly dien het, leef vandag nog.
DEUTERONOMIUM 4:2-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moenie iets byvoeg of wegvat van die gebooie wat ek vir julle gee nie. Gehoorsaam net die gebooie van die HERE julle God wat ek vir julle gee. Julle het met julle oë gesien wat die HERE by Baäl-Peor gedoen het. Daar het die HERE julle God elkeen uitgeroei wat die god Baäl-Peor aanbid het. Almal van julle wat aan die HERE julle God getrou gebly het, lewe vandag nog.