Deuteronomium 4

4
Waarskuwing teen afgodsdiens
1“ Israel, luister dan nou na die vaste voorskrifte en beslissings wat ek julle gaan leer. Voer dit uit sodat julle kan leef en in die land ingaan wat die Here, die God van julle voorouers, vir julle gee om in besit te neem. 2 Julle mag niks byvoeg by alles wat ek julle beveel nie, en julle mag niks daarvan weglaat nie. Kom die gebooie van die Here julle God, na wat ek julle beveel. 3 Julle het met julle eie oë gesien wat die Here gedoen het by Baäl-Peor, dat die Here julle God elke enkele persoon onder julle wat agter die Baäl van Peor aangeloop het, onder julle uitgedelg het. 4 Maar julle wat aan die Here julle God vasgehou het, julle almal leef vandag nog.
5“ Kyk, ek leer julle die vaste voorskrifte en beslissings soos die Here my God my beveel het, sodat julle daarvolgens kan leef in die land waarheen julle op pad is en wat julle in besit gaan neem. 6Kom dit na en voer dit uit, want daaruit sal dit vir die nasies duidelik wees dat julle wysheid en insig het. Wanneer hulle al hierdie vaste voorskrifte hoor, sal hulle sê, ‘Wat 'n wyse en verstandige volk is hierdie groot nasie nie!’ 7 Want watter ander groot nasie het 'n god wat so na aan hulle is soos die Here ons God aan ons is wanneer ook al ons Hom aanroep? 8Watter ander groot nasie het vaste voorskrifte en beslissings wat so regverdig is soos hierdie hele wet wat ek vandag aan julle gaan voorhou?
9“ Wees net versigtig, ja, let noukeurig daarop dat julle nie die dinge vergeet wat julle met julle eie oë gesien het nie, en dat dit nie uit julle harte verdwyn solank julle leef nie. Sorg dat julle kinders en kleinkinders kennis dra 10van die dag toe julle by Horeb in die teenwoordigheid van die Here julle God gestaan het en die Here vir my gesê het, ‘Maak vir My die volk bymekaar. Ek wil hulle my woorde laat hoor. Hulle moet dit leer, sodat hulle, solank as wat hulle op die aarde leef, vir My ontsag kan hê. Hulle moet dit ook vir hulle kinders leer.’
11“ Julle het toe nader gekom en aan die voet van die berg gaan staan terwyl die berg, gehul in donkerte, wolke en diepe duisternis, hemelhoog gebrand het. 12Die Here het met julle uit die vuur gepraat. Julle het die geluid van woorde gehoor, maar julle kon geen sigbare gestalte sien nie. Daar was net die stem. 13 Hy het aan julle sy verbond bekend gemaak, naamlik die Tien Gebooie, waarvolgens julle moet leef, soos Hy beveel het. Hy het dit ook op twee kliptafels gegraveer. 14 Vir my het die Here in daardie tyd die opdrag gegee om julle sy vaste voorskrifte en beslissings te leer sodat julle daarvolgens kan leef in die land waarheen julle trek om dit in besit te neem.
15“ Omdat julle nie enige sigbare gestalte gesien het op die dag toe die Here by Horeb met julle uit die vuur gepraat het nie, moet julle uiters versigtig wees ter wille van julleself, 16 sodat julle nie ontaard en vir julle 'n gesnede beeld maak nie: die sigbare gestalte van enige godefiguur, 'n manlike of 'n vroulike afbeelding, 17die afbeelding van enige dier wat op aarde is, die afbeelding van enige voël wat in die lug vlieg, 18die afbeelding van enigiets wat op die grond rondkruip of die afbeelding van enige vis wat in die water onder die aarde is; 19 en sodat julle nie na die hemel opkyk en die son en maan en sterre sien, enige van die hemelliggame, en julle laat verlei om voor hulle in aanbidding te buig en hulle te dien nie. Die Here julle God het hulle aan al die ander nasies onder die son toegewys. 20 Die Here het julle geneem en julle uit 'n ystersmeltoond, uit Egipte, uitgelei om aan Hom te behoort, as sy eie volk, soos dit vandag is.
21“ Die Here was toornig op my oor wat julle gesê het. Hy het met 'n eed bevestig dat ek nie die Jordaan sal oorsteek nie en dat ek nie in die goeie land sal kom wat die Here julle God vir julle as julle erfdeel gaan gee nie. 22 Omdat ek in hierdie land gaan sterf, sal ek nie die Jordaan oorsteek nie. Maar julle sal oortrek en daardie goeie land in besit neem. 23 Wees dus versigtig, sodat julle nie die verbond van die Here julle God vergeet wat Hy met julle gesluit het nie. Moenie vir julle gesnede beelde, die afbeelding van enigiets wat die Here julle God julle verbied het, maak nie, 24 want die Here julle God is 'n verterende vuur; Hy is 'n besitlike God.
25“ Wanneer julle kinders en kleinkinders het en al oud geword het in die land, en wanneer julle ontaard en gesnede beelde maak, die afbeelding van enigiets, en so doen wat verkeerd is in die oë van die Here julle God en Hom uittart – 26ek roep vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle, dat julle sonder twyfel spoedig sal verdwyn uit die land oorkant die Jordaan waarheen julle op pad is om dit in besit te neem. Julle sal nie lank daar bly nie, want julle gaan beslis uitgedelg word. 27Die Here sal julle verstrooi onder die volke. Daar sal min van julle oorbly by die nasies waarheen die Here julle sal wegvoer, 28en daar sal julle gode dien, maaksels van mensehande, hout en klip wat nie kan sien of hoor of eet of ruik nie.
29“ Daar sal julle die Here julle God soek en Hom vind, as julle Hom met hart en siel smeek. 30Wanneer julle in die nood is en al hierdie dinge met julle gebeur, sal julle aan die einde van die dae julle tot die Here julle God bekeer en na sy stem luister. 31Die Here julle God is immers 'n barmhartige God. Hy sal julle nie versaak nie en julle nie uitroei nie. Hy sal nie die verbond vergeet wat Hy vir julle voorvaders met 'n eed bevestig het nie.
32“ Ja, doen gerus navraag van die een uiterste van die hemel tot die ander uiterste oor wat vroeër jare, voor julle tyd, gebeur het, van die dag af dat God mense geskape het op die aarde. Het iets so groots al ooit gebeur of is daar al ooit van so iets gehoor? 33 Het enige volk al die stem van 'n god gehoor wat uit vuur praat, soos wat julle self gehoor het, en nogtans bly leef het? 34 Of het enige god dit al gewaag om vir homself 'n nasie te gaan neem uit die midde van 'n ander nasie, met teistering, met tekens en met wondertekens, met stryd, met 'n sterk hand en uitgestrekte arm, en met vreesaanjaende magsvertoon, soos alles wat die Here julle God voor julle oë in Egipte vir julle gedoen het? 35 Julle was self ooggetuies daarvan, sodat julle kan besef: die Here, Hy is God. Naas Hom is daar geen ander nie.
36“ Uit die hemel het Hy julle sy stem laat hoor om julle op te voed, en op die aarde het Hy julle sy groot vuur laat sien. En sy woorde het julle uit die vuur gehoor. 37 Omdat Hy julle voorouers liefgehad het, het Hy hulle nageslag ná hulle gekies, en het Hy self julle met groot krag uit Egipte uitgelei 38 om nasies wat groter en magtiger is as julle voor julle te verdryf en om julle in hulle land in te bring, sodat Hy dit vir julle as erfdeel kan gee, soos dit vandag is. 39 Erken vandag en laat dit in julle harte insink: Die Here, Hy is God bo in die hemel en onder op die aarde. Daar is geen ander nie. 40 Kom daarom altyd sy vaste voorskrifte en gebooie na wat ek vandag vir julle voorskryf, sodat dit met julle en julle kinders ná julle goed kan gaan, en sodat julle 'n lang lewe kan hê op die grond wat die Here julle God vir altyd vir julle gaan gee.”
Asielstede oos van die Jordaan
41 Toe het Moses drie stede aan die oostekant van die Jordaan uitgesonder, 42sodat iemand wat 'n medemens doodgeslaan het sonder voorbedagte rade en sonder dat hy die persoon voorheen gehaat het, daarheen kon vlug. Deur na een van hierdie stede te vlug, kon hy aan die lewe bly. 43Dit was Beser in die woestyn op die plato, vir mense van die stam van Ruben, Ramot in Gilead vir mense van die stam van Gad en Golan in Basan vir mense van die stam van Manasse.
Tweede afkondiging van die Tien Gebooie
44 Hier volg die wet wat Moses aan die Israeliete voorgehou het. 45 Dit is die bepalings, die vaste voorskrifte en beslissings wat hy met hulle uittog uit Egipte vir hulle afgekondig het 46oorkant die Jordaan in die vallei teenoor Bet-Peor, in die land van Sihon, die koning van die Amoriete wat in Gesbon regeer het. Moses en die Israeliete het hom verslaan met hulle uittog uit Egipte 47en hulle het sy land in besit geneem, asook die land van Og, die koning van Basan – die twee Amoritiese konings aan die oostekant, oorkant die Jordaan. 48Dit is die gebied van Aroër af op die rand van die Arnondal tot by Sioonberg – dit is Hermon – 49en die hele Araba, aan die oostekant van die Jordaan tot by die See van die Araba, onderkant die hange van Pisga.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid