Deuteronomium 4

4
Die wet is verskriklik belangrik
1“Israel, luister na al die wette en voorskrifte wat ek julle leer. As julle dit alles doen, sal julle bly leef en die land inneem wat die Here lank terug al aan julle voorvaders beloof het. 2Moet niks bysit by hierdie wette nie en moet ook niks daarvan weglaat nie. Leef voluit volgens die Here se wil.
3“Julle het immers self gesien wat by Baäl-Peor gebeur het. Elkeen wat Baäl aanbid het, is deur die Here vernietig. 4Almal van julle wat egter die Here bly dien het, leef vandag nog. 5Al die wette en voorskrifte wat die Here vir my gegee het, het ek julle geleer. Leef daarvolgens waar julle ook al dalk aan die westekant van die Jordaan woon. 6As julle die wil van die Here gehoorsaam, sal die ander volke julle bewonder. As hulle al hierdie wette hoor, sal hulle sê: ‘Hierdie groot nasie is ’n baie slim en verstandige volk.’ 7Geen ander nasie het ’n god wat so naby aan sy volk is soos die Here ons God aan ons is nie. Elke keer as ons bid, help Hy ons. 8Geen ander nasie, hoe groot en belangrik hulle ook al is, het sulke goeie en regverdige wette soos ons nie. En dit is hierdie wette wat ek vandag vir julle wil leer.”
Luister!
9“Sorg dat julle nooit die dinge vergeet wat julle met julle eie oë gesien het nie. Julle moet dit lewenslank onthou en daaroor nadink. En julle moet ook vir julle kinders en kleinkinders daarvan vertel. 10Julle moet hulle van daardie dag by Horeb vertel toe die Here baie naby aan julle gekom het. Dié dag toe die Here vir my gesê het: ‘Laat almal bymekaarkom. Ek wil hulle my wil leer sodat hulle My lewenslank sal liefhê en ook vir hulle kinders van My sal vertel.’
11“Vertel hulle hoe julle nader aan die berg se voet geskuifel het en hoe die berg daardie dag só gebrand het dat alles rondom julle pikdonker was van die borrelende rookwolke. 12En julle moet ook vertel hoe die Here in die vuur met julle gepraat het. Julle het mos net ’n stem gehoor, maar niemand gesien nie. 13Hy het julle vertel hoe sy eie volk Hom altyd lief moet hê. Daarom het Hy hierdie tien voorskrifte vir julle op twee klippe geskryf. 14Die Here het vir my in dié tyd gesê ek moet julle al sy wette leer sodat julle sal weet hoe julle in die nuwe land waarheen julle op pad is, moet leef. 15Toe die Here met julle by Horeb uit die vuur gepraat het, het julle niks gesien nie. 16Daarom moet julle nooit ’n beeld van Hom maak nie. Julle mag Hom nie as ’n man of ’n vrou, 17of as ’n viervoetige dier of ’n voël in die hemel 18of as ’n kruipende dier of ’n vis afbeeld nie.”
Bly weg van die afgode
19“Wanneer julle na die hemel opkyk en julle die son, die maan en die sterre sien, moet julle hulle tog nie begin aanbid of dien nie. Dit is wat die ander volke doen en wat die Here hulle ook toelaat om te doen. 20Julle is tog anders, want die Here het julle uit die slegte situasie van Egipte uitgelei. Hy het julle sy eie gemaak. Julle moet niemand anders dien nie. 21Omdat julle alreeds so baie dinge verkeerd gedoen het, het die Here vir my kwaad geword en gesê ek sal nooit die Jordaan oorsteek nie. Ek sal nooit die goeie land wat die Here aan julle beloof het, binnegaan nie. 22Ek sal duskant die Jordaan sterf, maar julle sal ingaan en in die goeie land gaan woon. 23Julle moenie nou die Here vergeet en julle verhouding met Hom afskeep nie. Julle moet nooit ’n beeld van die Here probeer maak nie, want Hy het dit uitdruklik verbied. 24Onthou, die Here is soos ’n vuur wat alles vernietig. Hy duld geen afgode nie.
25“Selfs julle kinders en kleinkinders moenie later ’n beeld van iets maak en dit aanbid nie. Dit is verkeerd en so word die Here se groot Naam baie skade aangedoen. 26Vandag is die hemel en die aarde getuie daarvan dat ek julle gewaarsku het. As julle ’n beeld maak, sal julle uit hierdie land verdwyn. Julle en julle kinders sal dan nie vir altyd in die land bly woon waarheen julle nou op pad is nie. Julle sal vir seker uitgewis word. 27Die Here sal julle tussen die ander volke verstrooi. Net ’n paar van julle sal oorleef. 28Daar sal hulle julle verplig om ander gode te dien, gode wat mense van hout en klip gemaak het, maar wat nie kan hoor of sien of ruik nie.
29“Dan sal julle weer na die Here begin verlang. En as julle Hom met alles in julle soek, sal julle Hom vind. 30As al hierdie verskriklike dinge met julle gebeur en dit met julle sleg gaan, maar julle draai terug na die Here toe, móét julle opnuut na Hom luister. 31Onthou, die Here is ’n God wat oorloop van goedheid. Hy sal julle nie sommer los of weggooi nie. Hy wil nog steeds die liefdesverbond wat Hy al met julle voorvaders gesluit het, in ere hou.”
Die Here alleen is God
32“Julle moet ’n bietjie na die geskiedenis kyk, na daardie tyd toe die Here die hemel en die aarde gemaak het. En dan moet julle vra of dit al ooit gebeur het 33dat ’n volk ’n god in ’n vuur hoor praat het en bly leef het. 34En of daar al ooit ’n god was wat sy eie volk tussen ’n ander volk gaan uithaal het soos die Here met julle in Egipte gedoen het. En of daar al ooit ’n volk was wat sulke wonders en grootse dade soos julle gesien het. 35Julle het gesien wat die Here met sy groot krag kan doen. Niks staan in sy pad nie. Hy het al hierdie dinge gedoen sodat julle eens en vir altyd kan glo dat die Here alleen God is. Daar is geen ander God behalwe die Here nie. 36Hy het uit die hemel met julle gepraat en julle geleer hoe om reg te leef. Hier op aarde het julle Hom uit ’n groot vuur hoor praat. 37Omdat God vir julle voorouers lief was, het Hy julle gekies en het Hy julle op ’n wonderlike manier uit Egipte laat wegtrek. 38Verder het Hy volke wat baie groter en sterker as julle was, voor julle uitgedryf sodat julle in ’n mooi en goeie land kan gaan woon. 39Onthou dan nou dat die Here die enigste God in die hemel en op die aarde is. Daar is geen ander God soos Hy nie. 40Julle moet vandag besluit om altyd volgens die wette en voorskrifte te leef wat ek julle nou gaan gee. Dan sal dit met julle en julle kinders goed gaan. En julle sal ook vir altyd baie gelukkig in die land bly wat die Here vir julle gaan gee.”
41Voordat Moses verder met die volk gepraat het, het hy eers drie stede aangewys as veilige stede. 42Iemand kon daarheen vlug as hy ’n persoon per ongeluk en sonder dat hy daardie persoon haat, doodgemaak het. In daardie stede sou so iemand dan veilig wees. 43Vir die stam van Ruben is die stad Beser, ’n plek in die woestyn, gekies. Vir Gad is Ramot in Gilead en vir Manasse Golan in Basan aangewys.
Die begin van die wet
44Moses het toe die wet vir Israel gegee. 45Dit was al die gebooie en voorskrifte waarvolgens hulle moes leef. 46Hy het dit baie jare na die uittog uit Egipte gedoen terwyl hulle oos van die Jordaan in die Bet-Peorvlakte gekamp het. Bet-Peor het eers aan die Amoritiese koning, Sihon wat in Gesbon gewoon het, behoort. Moses en die Israeliete het hom egter verslaan. 47Behalwe Sihon het hulle ook nog Og van Basan vernietig. Hy was die ander Amoritiese koning wat aan die oostekant van die Jordaan gewoon het. 48Hulle gebied het van Aroër naby die Arnonrivier af tot by die Hermonberge gestrek. 49Dit het ook die hele gebied oos van die Jordaan tot by die Dooie See en die Pisgaberg ingesluit.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid