DEUTERONOMIUM 4:1-40 - Compare All Versions

DEUTERONOMIUM 4:1-40 AFR83 (Afrikaans 1983)

“Israeliete, julle moet luister na die voorskrifte en die bepalings waarin ek julle onderrig. Julle moet daarvolgens lewe, dan sal julle bly lewe en die land binnegaan en in besit neem wat die Here die God van julle voorvaders vir julle sal gee. Moenie iets byvoeg by wat ek julle beveel nie en moet ook nie iets daarvan wegvat nie, maar gehoorsaam die Here julle God se gebooie wat ek julle gegee het. Julle eie oë het gesien wat die Here by Baäl-Peor gedoen het: elkeen wat vir Baäl-Peor gedien het, is deur die Here julle God tussen julle uit verdelg. Maar julle wat getrou gebly het aan die Here julle God, lewe vandag nog almal. Kyk, ek het julle die voorskrifte en die bepalings geleer soos die Here my God my beveel het. Julle moet daarvolgens lewe wanneer julle in die land kom en dit in besit neem. Gehoorsaam die voorskrifte en lewe daarvolgens, want daaraan sal die ander volke sien dat julle wysheid en insig het. Hulle sal van al hierdie voorskrifte hoor en sê: ‘Net hierdie groot nasie het wysheid en insig.’ Watter groot nasie se god is so by hom soos die Here ons God by ons is elke keer as ons tot Hom bid? Watter groot nasie se voorskrifte en bepalings is so billik as hierdie wet wat ek vandag vir julle gee? “Pas net op en wees baie versigtig om so lank julle leef, nie hierdie dinge wat julle gesien het, te vergeet of te verontagsaam nie. Julle moet dit alles vir julle kinders en julle kleinkinders inskerp. Julle moet hulle van dié dag laat leer toe julle by Horebberg gestaan het in die teenwoordigheid van die Here julle God, van dié dag toe Hy vir my gesê het: ‘Maak die volk vir My bymekaar dat Ek hulle my gebooie wat hulle moet ken, kan meedeel sodat hulle My kan dien so lank hulle in hierdie land lewe en sodat hulle my gebooie vir hulle kinders kan leer.’ “Julle het toe nader gekom en aan die voet van die berg gaan staan. Die berg het gebrand, die vuur was tot in die hemel, en daar was 'n rookwolk wat dit stikdonker gemaak het. Toe het die Here uit die vuur uit met julle gepraat. Julle het woorde gehoor maar niemand gesien nie. Daar was net 'n stem. Die Here het julle die bepalings van sy verbond meegedeel en julle beveel om hulle te gehoorsaam: die tien gebooie wat Hy op die twee plat klippe geskryf het. Die Here het my destyds beveel om julle die voorskrifte en die bepalings te leer sodat julle daarvolgens kan lewe in die land waarheen julle sal deurtrek om dit in besit te gaan neem. Pas op! Die lewe is vir julle op die spel. Die Here self het met julle op Horeb uit die vuur uit gepraat, al het julle dié dag niemand gesien nie. Moenie julle eie ondergang soek deur vir julle 'n afbeelding as afgodsbeeld te maak nie: nie van 'n man of 'n vrou nie, nie van enige dier op die aarde of van enige voël in die lug nie, nie van enigiets wat op die aarde kruip of van enige vis in die waters onder die aarde nie. “Wanneer julle na die hemelruim opkyk, die son, die maan en die sterre, enige hemelliggaam, moet julle nie julle hoop op hulle vestig nie. Moet julle nie laat verlei om hulle te vereer en te dien nie. Die Here julle God het hulle toegeken aan al die volke op die aarde. “Vir julle het die Here gevat en uit die ystersmeltoond, uit Egipte, uitgelei om sy volk te wees wat aan Hom behoort soos dit vandag dan ook die geval is. Deur julle toedoen het die Here vir my kwaad geword en dit met 'n eed bevestig dat ek nie deur die Jordaan sou gaan en in die goeie land sou kom wat die Here julle God aan julle as besitting sal gee nie. Ek sal in hierdie land sterf. Ek sal nie die Jordaan oorsteek nie, maar julle sal deurtrek en daardie goeie land in besit neem. Wees versigtig om nie die verbond wat die Here julle God met julle gesluit het, te vergeet nie. Pas op om nie vir julle 'n afgodsbeeld te maak nie. Die Here jou God het jou dit verbied. Die Here jou God is 'n verterende vuur, Hy eis onverdeelde trou aan Hom. “Wanneer julle kinders en kleinkinders het en julle oud geword het in die land, moet julle nie julle eie ondergang soek deur 'n afgodsbeeld te maak nie, want dan doen julle wat verkeerd is in die oë van die Here julle God en tart julle Hom. Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat julle dan baie gou en baie beslis sal verdwyn uit die land wat julle in besit gaan neem sodra julle deur die Jordaanrivier trek. Julle sal nie lank in die land bly woon nie, julle sal beslis uitgeroei word. Die Here sal julle verstrooi onder die volke, net 'n klein klompie van julle sal oorbly onder die nasies waarheen die Here julle sal lei. Dáár sal julle gode dien wat deur mense gemaak is: hout en klip wat nie kan sien of hoor, eet of ruik nie. As julle die Here julle God dáár aanroep, sal Hy julle gebed verhoor as julle Hom nader in onverdeelde trou. “Wanneer julle in nood verkeer deurdat hierdie dinge in die toekoms oor julle kom, moet julle terugkom na die Here julle God, en sy woord gehoorsaam. Die Here julle God is 'n genadige God. Hy sal julle nie in die steek laat of om die lewe bring nie. Hy sal nie die verbond vergeet wat Hy met 'n eed aan julle voorvaders bevestig het nie. “Gaan stel ondersoek in na die verre verlede, na die dae lank voor julle tyd, van die tyd af toe God die mens op die aarde geskep het, van die een uiteinde van die hemel af tot by die ander uiteinde, en kyk of iets so magtigs al gebeur het en of so iets al gehoor is. Het 'n volk die stem van sy god uit die vuur uit hoor praat, soos julle die stem van julle God gehoor het, en het hy bly lewe? Het 'n god dit ooit gewaag om vir hom 'n nasie te kom vat by 'n ander nasie, en dít met rampe, tekens, wonders, oorlog, magtige dade, wonderlike, groot dade waarvoor mense vreesbevange word? Dit alles het die Here julle God voor julle eie oë in Egipte vir julle gedoen. Dit is vir julle gewys dat julle kan besef die Here is God, en dat daar naas Hom nie 'n ander is nie. Hy het julle sy stem uit die hemel laat hoor om julle te onderrig en Hy het julle sy groot vuur op die aarde laat sien en julle het sy woorde uit die vuur uit gehoor. Omdat die Here julle voorvaders liefgehad het en hulle nageslag uitgekies het, het Hy julle deur sy groot krag in sy teenwoordigheid laat trek uit Egipte uit om nasies, groter en sterker as julle, voor julle uit te verdryf en om julle in hulle land in te bring en dit aan julle te gee as julle besitting. En so is dit nou nog. “Weet dan nou en neem dit ter harte: die Here is God. In die hemel daarbo en op die aarde hieronder is daar nie nog 'n god nie. Gehoorsaam sy voorskrifte en sy gebooie wat ek julle vandag beveel, sodat dit goed kan gaan met julle en julle nageslag en julle lank kan woon in die land wat die Here julle God vir altyd aan julle wil gee.”

DEUTERONOMIUM 4:1-40 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

LUISTER dan nou, Israel, na die insettinge en die verordeninge wat ek julle leer om te doen, sodat julle mag lewe en inkom en die land wat die HERE, die God van julle vaders, aan julle sal gee, in besit mag neem. Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die HERE julle God mag onderhou, wat ek julle beveel. Julle oë het gesien wat die HERE weens Baäl-Peor gedoen het; want al die manne wat agter Baäl-Peor aan geloop het, dié het die HERE jou God onder jou uit verdelg. Julle daarenteen wat die HERE julle God aangehang het, is vandag nog almal in die lewe. Kyk, ek het julle insettinge en verordeninge geleer soos die HERE my God my beveel het, om so te handel in die land waarheen julle gaan om dit in besit te neem. Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is 'n wyse en verstandige volk. Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou? Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak: die dag dat jy voor die aangesig van die HERE jou God by Horeb gestaan het, toe die HERE aan my gesê het: Vergader die volk vir My, en Ek sal hulle my woorde laat hoor, dat hulle kan leer om My te vrees al die dae wat hulle op die aarde lewe, en dit aan hulle kinders kan leer. Toe het julle nader gekom en onder aan die berg gaan staan; en die berg het met vuur gebrand tot in die middel van die hemel, met duisternis, wolke en wolkedonkerheid. En die HERE het met julle uit die vuur gespreek; julle het 'n stem van woorde gehoor, maar geen verskyning gesien nie — net 'n stem was daar. Toe het Hy aan julle sy verbond verkondig wat Hy julle beveel het om te doen, die tien woorde, en dit op twee kliptafels geskrywe. Ook het die HERE my in dié tyd bevel gegee om julle die insettinge en verordeninge te leer, dat julle dit kan doen in die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem. Neem julle dan terdeë in ag ter wille van julle siele — want julle het géén verskyning gesien op die dag dat die HERE by Horeb uit die vuur met julle gespreek het nie — sodat julle nie verderflik handel deurdat julle vir julle 'n gesnede beeld, 'n gelykenis van enige afgodsbeeld, maak nie: 'n afbeelding van man of vrou, 'n afbeelding van enige dier wat op die aarde is, 'n afbeelding van enige gevleuelde voël wat in die lug vlieg, 'n afbeelding van enigiets wat op die aarde kruip, 'n afbeelding van enige vis wat in die water onder die aarde is; dat jy ook jou oë nie na die hemel opslaan, en as jy die son sien en die maan en die sterre, die hele leër van die hemel, jou laat verlei en voor hulle neerbuig en hulle dien nie — dinge wat die HERE jou God aan al die volke onder die hele hemel uitgedeel het. Maar die HERE het julle geneem en julle uit die ystersmeltoond, uit Egipte, uitgelei om sy erfvolk te wees soos dit vandag is. Ook was die HERE toornig op my om julle ontwil, en Hy het gesweer dat ek oor die Jordaan nie sal gaan en nie sal kom in die goeie land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee nie. Want ek sal in hierdie land sterwe, ek sal oor die Jordaan nie gaan nie; maar julle sal oorgaan en daardie goeie land in besit neem. Neem julle in ag dat julle die verbond van die HERE julle God, wat Hy met julle gesluit het, nie vergeet en vir julle geen gesnede beeld maak nie — 'n gelykenis van enigiets wat die HERE jou God jou verbied het. Want die HERE jou God is 'n verterende vuur, 'n jaloerse God. As jy kinders en kindskinders sal verwek en julle in die land verouderd sal wees en verderflik handel deurdat julle 'n gesnede beeld maak, 'n gelykenis van enigiets, en doen wat verkeerd is in die oë van die HERE jou God om Hom te terg, dan neem ek vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle dat julle sekerlik gou uit die land sal vergaan waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem; julle sal die dae daarin nie verleng nie, maar sekerlik verdelg word. En die HERE sal julle onder die volke verstrooi, en 'n klein klompie van julle sal onder die nasies oorbly waarheen die HERE julle sal drywe. En daar sal julle gode dien, die werk van mensehande, hout en klip wat nie sien en nie hoor en nie eet en nie ruik nie. Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die HERE jou God terugkeer en na sy stem luister. Want die HERE jou God is 'n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie. Want doen tog ondersoek na die vorige dae wat voor jou gewees het, van die dag af dat God mense op die aarde geskape het, en van die een einde van die hemel tot by die ander einde van die hemel, of so iets groots gebeur het of iets dergeliks gehoor is. Het 'n volk die stem van God uit die vuur hoor spreek, soos jý gehoor het, en in die lewe gebly? Of het 'n god probeer om vir hom 'n nasie uit 'n ander nasie te gaan neem deur versoekinge, deur tekens en wonders en deur oorlog en deur 'n sterke hand en 'n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade soos die HERE julle God met julle voor jou oë in Egipte gedoen het? Jy self het dit te sien gekry, dat jy kan weet dat die HERE God is; daar is geen ander buiten Hom nie. Uit die hemel het Hy jou sy stem laat hoor om jou te onderrig; en op die aarde het Hy jou sy groot vuur laat sien, en jy het sy woorde uit die vuur gehoor. En omdat Hy jou vaders liefgehad en hulle nageslag na hulle uitverkies het, en Hy self jou deur sy grote krag uit Egipte uitgelei het, om nasies groter en magtiger as jy voor jou uit te verdrywe en jou in te bring om hulle land aan jou as erfenis te gee soos dit vandag is — daarom moet jy vandag weet en ter harte neem dat die HERE God is, bo in die hemel en onder op die aarde; daar is geen ander nie. En jy moet sy insettinge en sy gebooie hou wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou en jou kinders ná jou goed mag gaan, en dat jy die dae mag verleng in die land wat die HERE jou God jou vir altyd sal gee.

DEUTERONOMIUM 4:1-40 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

“Nou, Israeliete, luister noukeurig na hierdie reëls en regulasies wat ek julle nou gaan leer. Wees hieraan gehoorsaam sodat julle kan lewe en die land wat die HERE die God van julle voorouers aan julle gegee het, kan binnegaan en dit in besit neem. Moenie iets byvoeg of wegvat van die gebooie wat ek vir julle gee nie. Gehoorsaam net die gebooie van die HERE julle God wat ek vir julle gee. Julle het met julle oë gesien wat die HERE by Baäl-Peor gedoen het. Daar het die HERE julle God elkeen uitgeroei wat die god Baäl-Peor aanbid het. Almal van julle wat aan die HERE julle God getrou gebly het, lewe vandag nog. “Julle moet hierdie reëls en bepalings gehoorsaam wanneer julle in die land aankom wat julle nou binnegaan en in besit gaan neem. Die HERE my God het hulle aan my gegee en my beveel om dit aan julle deur te gee. As julle die gebooie noukeurig gehoorsaam, sal julle vir die naburige nasies wys dat julle wysheid en insig het. Wanneer hulle van hierdie wette hoor, sal hulle uitroep: ‘Watter ander nasie is so wys en het soveel insig soos hierdie een!’ Watter groot nasie se god is so naby aan hulle soos wat die HERE julle God naby aan julle is wanneer julle Hom aanroep? Watter groot nasie het reëls en bepalings so regverdig soos hierdie wette wat ek vandag vir julle gee? “Maar pas op! Wees baie versigtig om nooit te vergeet wat julle gesien het wat die HERE vir julle gedoen het nie. So lank as wat julle leef, moet julle hierdie dinge onthou. Maak seker dat julle dit vir julle kinders en kleinkinders oorvertel. Vertel hulle veral van die dag toe julle by Sinai in die teenwoordigheid van die HERE julle God was. Daar het Hy vir my gesê: ‘Bring die volk bymekaar sodat Ek hulle kan onderrig. Op dié manier sal hulle leer om eerbied vir My te hê so lank as wat hulle lewe. Hulle sal ook my wette aan hulle kinders leer.’ Julle het nadergekom en aan die voet van die berg gestaan, terwyl die berg in vlamme gehul was. Die vlamme het die lug in geskiet en die donker wolke het alles stikdonker gemaak. Die HERE het met julle vanuit die vuur gepraat. Julle het sy woorde gehoor, maar Hom nie gesien nie; daar was net ’n stem. Hy het sy verbond, die Tien Gebooie wat julle moet nakom, afgekondig en dit op twee kliptafels geskryf. Dit was toe dat die HERE my opdrag gegee het om vir julle hierdie reëls en bepalings te leer. In die land wat julle nou binnegaan en in besit gaan neem, moet julle dit gehoorsaam.” “Wees baie versigtig! Op die dag toe Hy met julle uit die vuur op Sinaiberg gepraat het, het julle nie gesien hoe die HERE lyk nie. Daarom, wees versigtig om nie vir julleself enige beeld in enige vorm te maak nie, manlik of vroulik, van enige dier of voël, kruipende diere of visse nie. Wanneer julle opkyk in die lug en die son, maan en sterre sien, alles in die lug, moet julle hulle nie aanbid nie. Die HERE julle God het die hemelliggame vir al die volke op aarde bestem. Onthou dat dit die HERE is wat julle uit die brandende smeltoond van Egipte gered het. Julle het sy eie volk wat aan Hom behoort, geword. Dit is wat julle vandag is. “Maar die HERE het kwaad geword vir my as gevolg van julle optrede. Hy het met ’n eed gesê dat ek nooit deur die Jordaanrivier sal trek na die goeie land wat die HERE julle God aan julle as spesiale besitting gee nie. Alhoewel julle die Jordaan sal oorsteek om die land te verower, sal ek aan hierdie kant van die rivier doodgaan. Wees dus versigtig om nie die verbond te verbreek wat die HERE julle God met julle gesluit het nie. Julle sal dit breek as julle op enige manier afgodsbeelde maak. Die HERE julle God het dit ten strengste verbied. Die HERE julle God is soos ’n vuur wat alles verbrand. Hy is ’n God wat onverdeelde lojaliteit eis. “In die toekoms, wanneer julle reeds vir geruime tyd in die land gewoon het en kinders en kleinkinders het, moet julle nie julleself benadeel deur afgodsbeelde van enige aard te maak nie. Dit is verkeerd in die oë van die HERE julle God. Dit sal Hom net kwaad maak. “Vandag roep ek die hemel en die aarde as getuies teen julle. As julle my nie gehoorsaam nie, sal julle baie vinnig verdwyn uit die land wat julle in besit gaan neem as julle deur die Jordaan trek. Julle sal net ’n kort tydjie in die land woon en dan sal julle totaal verdelg word. Die HERE sal julle verstrooi tussen die nasies en net ’n paar van julle sal oorleef onder die nasies waarheen die HERE julle vat. Daar, in ’n ver land, sal julle mensgemaakte afgode van hout en klip aanbid. Dit is gode wat nie eers kan sien of hoor of eet of ruik nie. Daar sal julle weer na die HERE julle God begin soek. As julle met hart en siel na Hom soek, sal julle Hom vind. “Wanneer hierdie swaar dinge in die toekoms oor julle kom, sal julle uiteindelik weer na die HERE julle God toe terugkom en na Hom luister. Want die HERE julle God is genadig. Hy sal julle nie prysgee of verdelg nie. Hy sal ook nie die verbond vergeet wat Hy onder eed met julle voorouers gesluit het nie.” “Ondersoek die hele geskiedenis vanaf die tyd toe God mense op aarde gemaak het tot nou toe. Ondersoek die hemel van die een uiteinde tot die ander. Kyk of iets so magtigs al ooit gebeur het. Het enige nasie soos julle al ooit die stem van God gehoor wat uit ’n vuur praat en dit oorleef? Het enige ander god al ooit ’n nasie vir homself geneem en hulle van ander nasies gered deur rampe, wondertekens, wonders, oorloë, indrukwekkende mag en groot dade wat mense bangmaak? Dit is wat die HERE julle God voor julle oë vir julle in Egipte gedoen het. “Hy het julle hierdie dinge laat sien sodat julle kan besef dat die HERE God is en niemand anders nie. Hy het julle sy stem uit die hemel laat hoor sodat Hy julle kon leer. Op aarde het Hy julle sy groot vuur laat sien sodat Hy met julle uit die vuur kon praat. Omdat Hy julle voorouers liefgehad het, het Hy gekies om hulle nageslag te seën en om julle persoonlik met ’n vertoning van mag uit Egipte te bring. Hy het nasies wat veel groter as julle is, verdryf om julle die land in te bring en dit aan julle te gee as ’n spesiale besitting soos wat dit vandag is. Erken en onthou dit: Die HERE is God in hemel en op aarde en daar is geen ander god nie! As julle al die gebooie en voorskrifte gehoorsaam wat ek vandag vir julle gee, sal dit met julle en met julle kinders goed gaan. Julle sal ’n lang lewe geniet in die land wat die HERE julle God vir altyd aan julle gee.”

DEUTERONOMIUM 4:1-40 DB (Die Boodskap)

“Israel, luister na al die wette en voorskrifte wat ek julle leer. As julle dit alles doen, sal julle bly leef en die land inneem wat die Here lank terug al aan julle voorvaders beloof het. Moet niks bysit by hierdie wette nie en moet ook niks daarvan weglaat nie. Leef voluit volgens die Here se wil. “Julle het immers self gesien wat by Baäl-Peor gebeur het. Elkeen wat Baäl aanbid het, is deur die Here vernietig. Almal van julle wat egter die Here bly dien het, leef vandag nog. Al die wette en voorskrifte wat die Here vir my gegee het, het ek julle geleer. Leef daarvolgens waar julle ook al dalk aan die westekant van die Jordaan woon. As julle die wil van die Here gehoorsaam, sal die ander volke julle bewonder. As hulle al hierdie wette hoor, sal hulle sê: ‘Hierdie groot nasie is ’n baie slim en verstandige volk.’ Geen ander nasie het ’n god wat so naby aan sy volk is soos die Here ons God aan ons is nie. Elke keer as ons bid, help Hy ons. Geen ander nasie, hoe groot en belangrik hulle ook al is, het sulke goeie en regverdige wette soos ons nie. En dit is hierdie wette wat ek vandag vir julle wil leer.” “Sorg dat julle nooit die dinge vergeet wat julle met julle eie oë gesien het nie. Julle moet dit lewenslank onthou en daaroor nadink. En julle moet ook vir julle kinders en kleinkinders daarvan vertel. Julle moet hulle van daardie dag by Horeb vertel toe die Here baie naby aan julle gekom het. Dié dag toe die Here vir my gesê het: ‘Laat almal bymekaarkom. Ek wil hulle my wil leer sodat hulle My lewenslank sal liefhê en ook vir hulle kinders van My sal vertel.’ “Vertel hulle hoe julle nader aan die berg se voet geskuifel het en hoe die berg daardie dag só gebrand het dat alles rondom julle pikdonker was van die borrelende rookwolke. En julle moet ook vertel hoe die Here in die vuur met julle gepraat het. Julle het mos net ’n stem gehoor, maar niemand gesien nie. Hy het julle vertel hoe sy eie volk Hom altyd lief moet hê. Daarom het Hy hierdie tien voorskrifte vir julle op twee klippe geskryf. Die Here het vir my in dié tyd gesê ek moet julle al sy wette leer sodat julle sal weet hoe julle in die nuwe land waarheen julle op pad is, moet leef. Toe die Here met julle by Horeb uit die vuur gepraat het, het julle niks gesien nie. Daarom moet julle nooit ’n beeld van Hom maak nie. Julle mag Hom nie as ’n man of ’n vrou, of as ’n viervoetige dier of ’n voël in die hemel of as ’n kruipende dier of ’n vis afbeeld nie.” “Wanneer julle na die hemel opkyk en julle die son, die maan en die sterre sien, moet julle hulle tog nie begin aanbid of dien nie. Dit is wat die ander volke doen en wat die Here hulle ook toelaat om te doen. Julle is tog anders, want die Here het julle uit die slegte situasie van Egipte uitgelei. Hy het julle sy eie gemaak. Julle moet niemand anders dien nie. Omdat julle alreeds so baie dinge verkeerd gedoen het, het die Here vir my kwaad geword en gesê ek sal nooit die Jordaan oorsteek nie. Ek sal nooit die goeie land wat die Here aan julle beloof het, binnegaan nie. Ek sal duskant die Jordaan sterf, maar julle sal ingaan en in die goeie land gaan woon. Julle moenie nou die Here vergeet en julle verhouding met Hom afskeep nie. Julle moet nooit ’n beeld van die Here probeer maak nie, want Hy het dit uitdruklik verbied. Onthou, die Here is soos ’n vuur wat alles vernietig. Hy duld geen afgode nie. “Selfs julle kinders en kleinkinders moenie later ’n beeld van iets maak en dit aanbid nie. Dit is verkeerd en so word die Here se groot Naam baie skade aangedoen. Vandag is die hemel en die aarde getuie daarvan dat ek julle gewaarsku het. As julle ’n beeld maak, sal julle uit hierdie land verdwyn. Julle en julle kinders sal dan nie vir altyd in die land bly woon waarheen julle nou op pad is nie. Julle sal vir seker uitgewis word. Die Here sal julle tussen die ander volke verstrooi. Net ’n paar van julle sal oorleef. Daar sal hulle julle verplig om ander gode te dien, gode wat mense van hout en klip gemaak het, maar wat nie kan hoor of sien of ruik nie. “Dan sal julle weer na die Here begin verlang. En as julle Hom met alles in julle soek, sal julle Hom vind. As al hierdie verskriklike dinge met julle gebeur en dit met julle sleg gaan, maar julle draai terug na die Here toe, móét julle opnuut na Hom luister. Onthou, die Here is ’n God wat oorloop van goedheid. Hy sal julle nie sommer los of weggooi nie. Hy wil nog steeds die liefdesverbond wat Hy al met julle voorvaders gesluit het, in ere hou.” “Julle moet ’n bietjie na die geskiedenis kyk, na daardie tyd toe die Here die hemel en die aarde gemaak het. En dan moet julle vra of dit al ooit gebeur het dat ’n volk ’n god in ’n vuur hoor praat het en bly leef het. En of daar al ooit ’n god was wat sy eie volk tussen ’n ander volk gaan uithaal het soos die Here met julle in Egipte gedoen het. En of daar al ooit ’n volk was wat sulke wonders en grootse dade soos julle gesien het. Julle het gesien wat die Here met sy groot krag kan doen. Niks staan in sy pad nie. Hy het al hierdie dinge gedoen sodat julle eens en vir altyd kan glo dat die Here alleen God is. Daar is geen ander God behalwe die Here nie. Hy het uit die hemel met julle gepraat en julle geleer hoe om reg te leef. Hier op aarde het julle Hom uit ’n groot vuur hoor praat. Omdat God vir julle voorouers lief was, het Hy julle gekies en het Hy julle op ’n wonderlike manier uit Egipte laat wegtrek. Verder het Hy volke wat baie groter en sterker as julle was, voor julle uitgedryf sodat julle in ’n mooi en goeie land kan gaan woon. Onthou dan nou dat die Here die enigste God in die hemel en op die aarde is. Daar is geen ander God soos Hy nie. Julle moet vandag besluit om altyd volgens die wette en voorskrifte te leef wat ek julle nou gaan gee. Dan sal dit met julle en julle kinders goed gaan. En julle sal ook vir altyd baie gelukkig in die land bly wat die Here vir julle gaan gee.”

DEUTERONOMIUM 4:1-40 ABA (Bybel vir almal)

Moses het gesê: “Israeliete, julle moet nou gehoorsaam wees aan die dinge wat ek vir julle leer. As julle dit doen, dan sal julle aanhou lewe. Julle sal kom en die land vat wat die Here, die God van julle voorvaders, vir julle gee. Julle moet doen wat die wette van julle God die Here sê, die wette wat ek vir julle gee. Julle moet niks bysit by die dinge wat ek vir julle leer nie, en julle moet niks daarvan wegneem nie. Julle het self gesien wat die Here gedoen het by die stad Baäl-Peor. Julle God die Here het daar almal laat sterf wat die afgod Baäl-Peor gedien het. Maar julle wat aangehou het om julle God die Here te dien, julle lewe almal vandag nog. Luister, ek leer vir julle die wette wat my God die Here vir my gesê het. Dit is die dinge wat julle moet doen in die land waarnatoe julle gaan om dit vir julleself te vat. Julle moet aanhou om te doen wat hierdie wette sê, want dit sal vir al die volke wys dat julle wysheid het en verstandig is. Wanneer hulle hoor van al hierdie wette, dan sal hulle sê: ‘Regtig, hierdie groot volk is 'n wyse en verstandige volk.’ “Ons God die Here is naby ons wanneer ons tot Hom bid. Watter groot volk het gode wat so naby hulle is? En watter groot volk het wette wat so regverdig is soos die wette wat ek vandag vir julle gee? Nie een volk nie. Maar julle moet baie versigtig wees dat julle nie die dinge vergeet wat julle self gesien het nie. Julle moet dit nooit vergeet nie, julle moet vir julle kinders en kleinkinders vertel van die dag toe julle by Horeb-berg voor julle God die Here gestaan het. Dit was die dag toe die Here vir my gesê het: ‘Maak die volk bymekaar. Ek wil vir hulle die dinge sê wat hulle moet leer sodat hulle My kan dien so lank soos hulle lewe op die aarde. En hulle moet dit ook vir hulle kinders leer.’ “Julle het nader gekom en by die berg gestaan. Die berg het gebrand tot binne-in die hemel, en daar was 'n dik, donker wolk. Toe het die Here uit die vuur gepraat met julle. Julle het woorde gehoor, maar julle het niemand gesien nie, julle het net 'n stem gehoor. Hy het vir julle gesê wat sy verbond is, Hy het gesê wat Hy wil hê julle moet doen. Dit was die tien gebooie, en Hy het dit geskryf op twee plat klippe. En die Here het toe vir my gesê dat ek die wette vir julle moet leer sodat julle sal doen wat die wette sê in die land waarnatoe julle gaan om dit vir julle te vat. Maar julle moet baie versigtig wees, want julle het niemand gesien daardie dag toe die Here met julle gepraat het uit die vuur by Horeb-berg nie. Julle moet versigtig wees dat julle nie 'n slegte ding doen nie, julle moenie vir julle 'n beeld maak wat lyk soos iets anders nie: nie soos 'n man of 'n vrou, of soos 'n dier op die aarde, of soos 'n voël in die lug, of soos iets wat op die grond kruip, of soos 'n vis in die water onder die aarde nie. Julle moet versigtig wees wanneer julle na die lug kyk en die son en die maan en die sterre sien, alles in die lug. Julle moet oppas dat dit julle nie verlei om vir hulle te buig en hulle te dien nie. Julle God die Here het hierdie dinge gegee vir al die volke in die wêreld, maar die Here het net vir júlle geneem om sy eie volk te wees. Hy het julle uitgebring uit die yster-smeltoond Egipte en julle is nou sy volk. Die Here het vir my kwaad geword oor julle. Hy het gesê ek sal nie deur die Jordaan-rivier gaan nie en ek sal nie kom in die goeie land wat julle God die Here vir julle gee om aan julle te behoort nie. Hy het gesê ek sal sterf in hierdie land waar ons nou is, ek sal nie deur die Jordaan-rivier gaan nie. Maar julle sal deurgaan en julle sal hierdie goeie land vir julleself vat. En julle moet versigtig wees dat julle nie die verbond vergeet wat julle God die Here met julle gemaak het nie. Julle moenie dan vir julle 'n beeld maak nie, moenie iets maak wat lyk soos iets anders nie. Die Here het gesê julle mag dit nie doen nie. Ja, julle God die Here is soos 'n vuur wat brand, Hy wil julle net vir Homself hê. Julle sal in daardie land kinders en kleinkinders kry, maar julle moet oppas, julle moenie vir julle 'n beeld maak, iets wat lyk soos enige iets anders nie, want dan doen julle 'n slegte ding. Die Here hou nie daarvan nie, dit maak Hom hartseer. Ek vra die hemel en die aarde om getuies te wees teen julle. As julle vir julle beelde maak, dan sal julle vinnig verdwyn uit die land waarnatoe julle nou gaan. Julle gaan nou deur die Jordaan-rivier om daardie land vir julleself te vat, maar julle sal verdwyn, dit is seker. Julle sal dan nie lank in die land bly nie, julle sal amper almal sterf. Dit is seker. Die Here sal julle na al die kante toe jaag tussen die ander volke, min van julle sal aanhou lewe tussen daardie volke. Julle sal daar moet werk vir gode van hout en klip, gode wat nie kan sien of hoor of eet of ruik nie. Mense het daardie gode gemaak. Julle sal daar soek na julle God die Here, en julle sal Hom kry as julle Hom soek met julle hele hart. Wanneer al hierdie dinge later met julle gebeur en dit gaan sleg met julle, dan sal julle terugkom na julle God die Here en julle sal doen wat Hy sê. Want julle God die Here is 'n God wat goed is vir mense wat swaarkry, Hy sal julle nie los nie, Hy sal julle nie heeltemal laat verdwyn nie. Hy sal nie die verbond vergeet wat Hy met julle voorvaders gemaak het nie. Ja, julle kan vra oor wat lank gelede gebeur het voordat julle gebore was, van die dag toe God mense op die aarde gemaak het. Julle kan oral op die aarde vra of daar so 'n groot ding gebeur het, of mense weet van so iets: Julle het die stem van God gehoor praat uit die vuur. Het 'n ander volk dit ook gehoor en het hulle aangehou lewe? Nee. Of het 'n god tekens, wonderwerke, oorlog en groot krag gebruik en het hy só probeer om vir hom 'n volk te gaan vat by 'n ander volk? Het hy die ander volk laat swaarkry en laat skrik? Dit is wat julle God die Here vir julle in die land Egipte gedoen het, julle het dit self gesien. Hy het julle dit laat sien sodat julle dít sal weet: Hy, die Here, is God, en daar is nie nog 'n God nie. Die Here het uit die hemel gepraat en julle het sy stem gehoor, Hy het vir julle geleer hoe julle moet lewe. Hy het vir julle sy groot vuur op die aarde gewys en julle het gehoor dat Hy uit die vuur praat. Hy was lief vir julle voorvaders, daarom het Hy hulle nageslag gekies en vir julle uit die land Egipte gebring met sy groot krag. Hy was self by julle en Hy sal ander volke wegjaag voor julle, volke wat groter en sterker is as julle, en Hy sal vir julle die land gee om aan julle te behoort, soos vandag. Daarom moet julle dit vandag weet en onthou: Hy, die Here, is God in die hemel daarbo en op die aarde hier onder, daar is nie nog 'n God nie. En julle moet doen wat God se wette sê, die wette wat ek vandag vir julle gee en wat goed sal wees vir julle en vir julle kinders. Dan sal julle lank bly woon in die land wat julle God die Here vir julle gee, vir altyd.”

DEUTERONOMIUM 4:1-40 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

“ Israel, luister dan nou na die vaste voorskrifte en beslissings wat ek julle gaan leer. Voer dit uit sodat julle kan leef en in die land ingaan wat die HERE, die God van julle voorouers, vir julle gee om in besit te neem. Julle mag niks byvoeg by alles wat ek julle beveel nie, en julle mag niks daarvan weglaat nie. Kom die gebooie van die HERE julle God, na wat ek julle beveel. Julle het met julle eie oë gesien wat die HERE gedoen het by Baäl-Peor, dat die HERE julle God elke enkele persoon onder julle wat agter die Baäl van Peor aangeloop het, onder julle uitgedelg het. Maar julle wat aan die HERE julle God vasgehou het, julle almal leef vandag nog. “ Kyk, ek leer julle die vaste voorskrifte en beslissings soos die HERE my God my beveel het, sodat julle daarvolgens kan leef in die land waarheen julle op pad is en wat julle in besit gaan neem. Kom dit na en voer dit uit, want daaruit sal dit vir die nasies duidelik wees dat julle wysheid en insig het. Wanneer hulle al hierdie vaste voorskrifte hoor, sal hulle sê, ‘Wat 'n wyse en verstandige volk is hierdie groot nasie nie!’ Want watter ander groot nasie het 'n god wat so na aan hulle is soos die HERE ons God aan ons is wanneer ook al ons Hom aanroep? Watter ander groot nasie het vaste voorskrifte en beslissings wat so regverdig is soos hierdie hele wet wat ek vandag aan julle gaan voorhou? “ Wees net versigtig, ja, let noukeurig daarop dat julle nie die dinge vergeet wat julle met julle eie oë gesien het nie, en dat dit nie uit julle harte verdwyn solank julle leef nie. Sorg dat julle kinders en kleinkinders kennis dra van die dag toe julle by Horeb in die teenwoordigheid van die HERE julle God gestaan het en die HERE vir my gesê het, ‘Maak vir My die volk bymekaar. Ek wil hulle my woorde laat hoor. Hulle moet dit leer, sodat hulle, solank as wat hulle op die aarde leef, vir My ontsag kan hê. Hulle moet dit ook vir hulle kinders leer.’ “ Julle het toe nader gekom en aan die voet van die berg gaan staan terwyl die berg, gehul in donkerte, wolke en diepe duisternis, hemelhoog gebrand het. Die HERE het met julle uit die vuur gepraat. Julle het die geluid van woorde gehoor, maar julle kon geen sigbare gestalte sien nie. Daar was net die stem. Hy het aan julle sy verbond bekend gemaak, naamlik die Tien Gebooie, waarvolgens julle moet leef, soos Hy beveel het. Hy het dit ook op twee kliptafels gegraveer. Vir my het die HERE in daardie tyd die opdrag gegee om julle sy vaste voorskrifte en beslissings te leer sodat julle daarvolgens kan leef in die land waarheen julle trek om dit in besit te neem. “ Omdat julle nie enige sigbare gestalte gesien het op die dag toe die HERE by Horeb met julle uit die vuur gepraat het nie, moet julle uiters versigtig wees ter wille van julleself, sodat julle nie ontaard en vir julle 'n gesnede beeld maak nie: die sigbare gestalte van enige godefiguur, 'n manlike of 'n vroulike afbeelding, die afbeelding van enige dier wat op aarde is, die afbeelding van enige voël wat in die lug vlieg, die afbeelding van enigiets wat op die grond rondkruip of die afbeelding van enige vis wat in die water onder die aarde is; en sodat julle nie na die hemel opkyk en die son en maan en sterre sien, enige van die hemelliggame, en julle laat verlei om voor hulle in aanbidding te buig en hulle te dien nie. Die HERE julle God het hulle aan al die ander nasies onder die son toegewys. Die HERE het julle geneem en julle uit 'n ystersmeltoond, uit Egipte, uitgelei om aan Hom te behoort, as sy eie volk, soos dit vandag is. “ Die HERE was toornig op my oor wat julle gesê het. Hy het met 'n eed bevestig dat ek nie die Jordaan sal oorsteek nie en dat ek nie in die goeie land sal kom wat die HERE julle God vir julle as julle erfdeel gaan gee nie. Omdat ek in hierdie land gaan sterf, sal ek nie die Jordaan oorsteek nie. Maar julle sal oortrek en daardie goeie land in besit neem. Wees dus versigtig, sodat julle nie die verbond van die HERE julle God vergeet wat Hy met julle gesluit het nie. Moenie vir julle gesnede beelde, die afbeelding van enigiets wat die HERE julle God julle verbied het, maak nie, want die HERE julle God is 'n verterende vuur; Hy is 'n besitlike God. “ Wanneer julle kinders en kleinkinders het en al oud geword het in die land, en wanneer julle ontaard en gesnede beelde maak, die afbeelding van enigiets, en so doen wat verkeerd is in die oë van die HERE julle God en Hom uittart – ek roep vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle, dat julle sonder twyfel spoedig sal verdwyn uit die land oorkant die Jordaan waarheen julle op pad is om dit in besit te neem. Julle sal nie lank daar bly nie, want julle gaan beslis uitgedelg word. Die HERE sal julle verstrooi onder die volke. Daar sal min van julle oorbly by die nasies waarheen die HERE julle sal wegvoer, en daar sal julle gode dien, maaksels van mensehande, hout en klip wat nie kan sien of hoor of eet of ruik nie. “ Daar sal julle die HERE julle God soek en Hom vind, as julle Hom met hart en siel smeek. Wanneer julle in die nood is en al hierdie dinge met julle gebeur, sal julle aan die einde van die dae julle tot die HERE julle God bekeer en na sy stem luister. Die HERE julle God is immers 'n barmhartige God. Hy sal julle nie versaak nie en julle nie uitroei nie. Hy sal nie die verbond vergeet wat Hy vir julle voorvaders met 'n eed bevestig het nie. “ Ja, doen gerus navraag van die een uiterste van die hemel tot die ander uiterste oor wat vroeër jare, voor julle tyd, gebeur het, van die dag af dat God mense geskape het op die aarde. Het iets so groots al ooit gebeur of is daar al ooit van so iets gehoor? Het enige volk al die stem van 'n god gehoor wat uit vuur praat, soos wat julle self gehoor het, en nogtans bly leef het? Of het enige god dit al gewaag om vir homself 'n nasie te gaan neem uit die midde van 'n ander nasie, met teistering, met tekens en met wondertekens, met stryd, met 'n sterk hand en uitgestrekte arm, en met vreesaanjaende magsvertoon, soos alles wat die HERE julle God voor julle oë in Egipte vir julle gedoen het? Julle was self ooggetuies daarvan, sodat julle kan besef: die HERE, Hy is God. Naas Hom is daar geen ander nie. “ Uit die hemel het Hy julle sy stem laat hoor om julle op te voed, en op die aarde het Hy julle sy groot vuur laat sien. En sy woorde het julle uit die vuur gehoor. Omdat Hy julle voorouers liefgehad het, het Hy hulle nageslag ná hulle gekies, en het Hy self julle met groot krag uit Egipte uitgelei om nasies wat groter en magtiger is as julle voor julle te verdryf en om julle in hulle land in te bring, sodat Hy dit vir julle as erfdeel kan gee, soos dit vandag is. Erken vandag en laat dit in julle harte insink: Die HERE, Hy is God bo in die hemel en onder op die aarde. Daar is geen ander nie. Kom daarom altyd sy vaste voorskrifte en gebooie na wat ek vandag vir julle voorskryf, sodat dit met julle en julle kinders ná julle goed kan gaan, en sodat julle 'n lang lewe kan hê op die grond wat die HERE julle God vir altyd vir julle gaan gee.”

DEUTERONOMIUM 4:1-40 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Luister dan nou, Israel, na die insettinge en na die verordeninge wat ek julle leer, om dit te doen, dat julle kan lewe en ingaan en die land in besit neem wat die HERE, die God van julle vaders, aan julle gee. Julle mag niks byvoeg by die woord wat ek julle beveel nie, en julle mag niks daarvan verminder nie, dat julle die gebooie van die HERE julle God wat ek julle beveel, kan onderhou. Julle oë het gesien wat die HERE ter wille van Baäl-Peor gedoen het; want al die manne wat Baäl-Peor gevolg het, die HERE jou God het hulle onder jou uit verdelg. Maar julle wat aan die HERE julle God gekleef het, leef vandag elkeen van julle. Kyk, ek het julle insettinge en verordeninge geleer, soos die HERE my God my beveel het, dat julle so moet doen in die land waarheen julle gaan om dit in besit te neem. Bewaar en doen dit dan; want dit is jou wysheid en jou insig voor die oë van die nasies wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is 'n wyse en verstandige volk. Want watter nasie is daar so groot wat God so naby aan hulle het soos die HERE onse God is in alles waaroor ons Hom aanroep? En watter nasie is daar so groot wat insettinge en verordeninge het so regverdig soos hierdie hele wet wat ek jou vandag voorhou? Let net op jouself en bewaar jou siel ywerig, dat jy nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat dit nie uit jou hart wyk al die dae van jou lewe nie; maar leer hulle jou seuns en jou seunseuns; Veral die dag toe jy voor die aangesig van die HERE jou God op Horeb gestaan het, toe die HERE vir my gesê het: Versamel vir My die volk, en Ek sal hulle na my woorde laat hoor, sodat hulle kan leer om My te vrees al die dae wat hulle sal lewe op die aarde, en dat hulle hulle kinders kan leer. En julle het nader gekom en onder die berg gaan staan; en die berg het met vuur gebrand tot in die middel van die hemel, met duisternis, wolke en donkerheid. En die HERE het met julle gespreek uit die vuur uit: julle het die stem van die woorde gehoor, maar geen gelykenis gesien nie; net julle het 'n stem gehoor. En Hy het aan julle sy verbond verkondig wat Hy julle beveel het om te volbring, naamlik tien gebooie; en hy het dit op twee kliptafels geskrywe. En die HERE het my in dié tyd beveel om julle insettinge en verordeninge te leer, sodat julle dit kan doen in die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem. Pas dan goed op julleself; want julle het geen gelykenis gesien op die dag dat die HERE met julle gespreek het by Horeb uit die vuur nie, sodat julle nie julself verderf en vir julle 'n gesnede beeld maak, die gelykenis van enige gestalte, die gelykenis van man of vrou nie, die gelykenis van enige dier wat op die aarde is, die gelykenis van enige gevleuelde voël wat in die lug vlieg, die gelykenis van enigiets wat op die grond kruip, die gelykenis van enige vis wat in die waters onder die aarde is; en dat jy nie jou oë na die hemel opslaan en as jy die son en die maan en die sterre sien nie, ja, die hele leër van die hemel, verdryf sou word om hulle te aanbid en hulle te dien wat die HERE jou God verdeel het aan al die nasies onder die ganse hemel. Maar die HERE het julle geneem en julle uit die ysteroond, uit Egipte, uitgelei om vir Hom 'n erfenisvolk te wees, soos julle vandag is. Verder was die HERE toornig op my om julle ontwil en het gesweer dat ek nie deur die Jordaan sou trek nie en dat ek nie in daardie goeie land sou ingaan wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee nie. Maar ek moet in hierdie land sterwe, ek mag nie deur die Jordaan trek nie; maar julle sal deurtrek en daardie goeie land in besit neem. Pas op vir julleself dat julle nie die verbond van die HERE julle God wat Hy met julle gesluit het, vergeet en vir julle 'n gesnede beeld maak of die gelykenis van enigiets wat die HERE julle God julle verbied het nie. Want die HERE jou God is 'n verterende vuur, 'n jaloerse God. Wanneer jy kinders en kinderkinders verwek, en julle lank in die land gebly het en julleself verderf en 'n gesnede beeld of 'n gelykenis van enige ding maak en doen wat verkeerd is in die oë van die HERE julle God, om hom tot toorn te verwek: Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle, dat julle gou heeltemal sal vergaan uit die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te neem; julle sal julle dae daarop nie verleng nie, maar met die banvloek getref word. En die HERE sal julle onder die nasies verstrooi, en julle sal min oorbly onder die nasies waarheen die HERE julle sal lei. En daar moet julle gode dien, die werk van mensehande, hout en klip wat nie sien en nie hoor en nie eet en nie ruik nie. Maar as jy daarvandaan die HERE jou God soek, sal jy Hom vind as jy Hom met jou hele hart en met jou hele siel soek. Wanneer jy in verdrukking is en al hierdie dinge oor jou kom, selfs aan die einde van die dae, as jy jou tot die HERE jou God bekeer en na sy stem gehoorsaam is; (Want die HERE jou God is 'n barmhartige God;) Hy sal jou nie verlaat nie en jou nie vernietig nie en die verbond van jou vaders wat Hy aan hulle gesweer het, nie vergeet nie. Want vra nou die dae wat verby is, wat voor jou was, van die dag af dat God die mens op die aarde geskape het, en vra van die een kant van die hemel tot die ander kant of daar iets soos hierdie groot ding is, of is al so gehoor? Het mense ooit die stem van God uit die vuur gehoor spreek, soos jy gehoor het, en lewe? Of het God probeer om vir hom 'n nasie te gaan haal uit die midde van 'n ander nasie, deur versoekings, deur tekens en wonders en deur oorlog en deur 'n sterke hand en deur 'n uitgestrekte arm en deur groot verskrikkinge, volgens alles wat die HERE jou God voor jou oë in Egipte vir jou gedoen het? Dit is aan jou bekend gemaak, sodat jy kan weet dat die HERE God is; daar is niemand anders behalwe hom nie. Uit die hemel het Hy jou sy stem laat hoor om jou te onderrig; en op die aarde het Hy jou sy groot vuur gewys; en jy het sy woorde uit die vuur gehoor. En omdat Hy jou vaders liefgehad het, daarom het Hy hulle nageslag ná hulle uitverkies en jou voor sy oë uitgelei met sy magtige krag uit Egipte; om nasies voor jou uit te verdryf, groter en magtiger as jy, om jou in te bring, om aan jou hulle land as 'n erfdeel te gee, soos dit vandag is. Weet dan vandag en let daarop in jou hart dat die HERE God is bo in die hemel en onder op die aarde; daar is niemand anders nie. Onderhou dan sy insettinge en sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou en jou kinders ná jou goed kan gaan, en dat jy jou dae op die aarde kan verleng wat die HERE jou God gee jou, vir altyd.