DEUTERONOMIUM 4:1-13
DEUTERONOMIUM 4:1-13 Bybel vir almal (ABA)
Moses het gesê: “Israeliete, julle moet nou gehoorsaam wees aan die dinge wat ek vir julle leer. As julle dit doen, dan sal julle aanhou lewe. Julle sal kom en die land vat wat die Here, die God van julle voorvaders, vir julle gee. Julle moet doen wat die wette van julle God die Here sê, die wette wat ek vir julle gee. Julle moet niks bysit by die dinge wat ek vir julle leer nie, en julle moet niks daarvan wegneem nie. Julle het self gesien wat die Here gedoen het by die stad Baäl-Peor. Julle God die Here het daar almal laat sterf wat die afgod Baäl-Peor gedien het. Maar julle wat aangehou het om julle God die Here te dien, julle lewe almal vandag nog. Luister, ek leer vir julle die wette wat my God die Here vir my gesê het. Dit is die dinge wat julle moet doen in die land waarnatoe julle gaan om dit vir julleself te vat. Julle moet aanhou om te doen wat hierdie wette sê, want dit sal vir al die volke wys dat julle wysheid het en verstandig is. Wanneer hulle hoor van al hierdie wette, dan sal hulle sê: ‘Regtig, hierdie groot volk is 'n wyse en verstandige volk.’ “Ons God die Here is naby ons wanneer ons tot Hom bid. Watter groot volk het gode wat so naby hulle is? En watter groot volk het wette wat so regverdig is soos die wette wat ek vandag vir julle gee? Nie een volk nie. Maar julle moet baie versigtig wees dat julle nie die dinge vergeet wat julle self gesien het nie. Julle moet dit nooit vergeet nie, julle moet vir julle kinders en kleinkinders vertel van die dag toe julle by Horeb-berg voor julle God die Here gestaan het. Dit was die dag toe die Here vir my gesê het: ‘Maak die volk bymekaar. Ek wil vir hulle die dinge sê wat hulle moet leer sodat hulle My kan dien so lank soos hulle lewe op die aarde. En hulle moet dit ook vir hulle kinders leer.’ “Julle het nader gekom en by die berg gestaan. Die berg het gebrand tot binne-in die hemel, en daar was 'n dik, donker wolk. Toe het die Here uit die vuur gepraat met julle. Julle het woorde gehoor, maar julle het niemand gesien nie, julle het net 'n stem gehoor. Hy het vir julle gesê wat sy verbond is, Hy het gesê wat Hy wil hê julle moet doen. Dit was die tien gebooie, en Hy het dit geskryf op twee plat klippe.
DEUTERONOMIUM 4:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
LUISTER dan nou, Israel, na die insettinge en die verordeninge wat ek julle leer om te doen, sodat julle mag lewe en inkom en die land wat die HERE, die God van julle vaders, aan julle sal gee, in besit mag neem. Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die HERE julle God mag onderhou, wat ek julle beveel. Julle oë het gesien wat die HERE weens Baäl-Peor gedoen het; want al die manne wat agter Baäl-Peor aan geloop het, dié het die HERE jou God onder jou uit verdelg. Julle daarenteen wat die HERE julle God aangehang het, is vandag nog almal in die lewe. Kyk, ek het julle insettinge en verordeninge geleer soos die HERE my God my beveel het, om so te handel in die land waarheen julle gaan om dit in besit te neem. Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is 'n wyse en verstandige volk. Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou? Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak: die dag dat jy voor die aangesig van die HERE jou God by Horeb gestaan het, toe die HERE aan my gesê het: Vergader die volk vir My, en Ek sal hulle my woorde laat hoor, dat hulle kan leer om My te vrees al die dae wat hulle op die aarde lewe, en dit aan hulle kinders kan leer. Toe het julle nader gekom en onder aan die berg gaan staan; en die berg het met vuur gebrand tot in die middel van die hemel, met duisternis, wolke en wolkedonkerheid. En die HERE het met julle uit die vuur gespreek; julle het 'n stem van woorde gehoor, maar geen verskyning gesien nie — net 'n stem was daar. Toe het Hy aan julle sy verbond verkondig wat Hy julle beveel het om te doen, die tien woorde, en dit op twee kliptafels geskrywe.
DEUTERONOMIUM 4:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Israeliete, julle moet luister na die voorskrifte en die bepalings waarin ek julle onderrig. Julle moet daarvolgens lewe, dan sal julle bly lewe en die land binnegaan en in besit neem wat die Here die God van julle voorvaders vir julle sal gee. Moenie iets byvoeg by wat ek julle beveel nie en moet ook nie iets daarvan wegvat nie, maar gehoorsaam die Here julle God se gebooie wat ek julle gegee het. Julle eie oë het gesien wat die Here by Baäl-Peor gedoen het: elkeen wat vir Baäl-Peor gedien het, is deur die Here julle God tussen julle uit verdelg. Maar julle wat getrou gebly het aan die Here julle God, lewe vandag nog almal. Kyk, ek het julle die voorskrifte en die bepalings geleer soos die Here my God my beveel het. Julle moet daarvolgens lewe wanneer julle in die land kom en dit in besit neem. Gehoorsaam die voorskrifte en lewe daarvolgens, want daaraan sal die ander volke sien dat julle wysheid en insig het. Hulle sal van al hierdie voorskrifte hoor en sê: ‘Net hierdie groot nasie het wysheid en insig.’ Watter groot nasie se god is so by hom soos die Here ons God by ons is elke keer as ons tot Hom bid? Watter groot nasie se voorskrifte en bepalings is so billik as hierdie wet wat ek vandag vir julle gee? “Pas net op en wees baie versigtig om so lank julle leef, nie hierdie dinge wat julle gesien het, te vergeet of te verontagsaam nie. Julle moet dit alles vir julle kinders en julle kleinkinders inskerp. Julle moet hulle van dié dag laat leer toe julle by Horebberg gestaan het in die teenwoordigheid van die Here julle God, van dié dag toe Hy vir my gesê het: ‘Maak die volk vir My bymekaar dat Ek hulle my gebooie wat hulle moet ken, kan meedeel sodat hulle My kan dien so lank hulle in hierdie land lewe en sodat hulle my gebooie vir hulle kinders kan leer.’ “Julle het toe nader gekom en aan die voet van die berg gaan staan. Die berg het gebrand, die vuur was tot in die hemel, en daar was 'n rookwolk wat dit stikdonker gemaak het. Toe het die Here uit die vuur uit met julle gepraat. Julle het woorde gehoor maar niemand gesien nie. Daar was net 'n stem. Die Here het julle die bepalings van sy verbond meegedeel en julle beveel om hulle te gehoorsaam: die tien gebooie wat Hy op die twee plat klippe geskryf het.
DEUTERONOMIUM 4:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Israel, luister dan nou na die vaste voorskrifte en beslissings wat ek julle gaan leer. Voer dit uit sodat julle kan leef en in die land ingaan wat die HERE, die God van julle voorouers, vir julle gee om in besit te neem. Julle mag niks byvoeg by alles wat ek julle beveel nie, en julle mag niks daarvan weglaat nie. Kom die gebooie van die HERE julle God, na wat ek julle beveel. Julle het met julle eie oë gesien wat die HERE gedoen het by Baäl-Peor, dat die HERE julle God elke enkele persoon onder julle wat agter die Baäl van Peor aangeloop het, onder julle uitgedelg het. Maar julle wat aan die HERE julle God vasgehou het, julle almal leef vandag nog. “ Kyk, ek leer julle die vaste voorskrifte en beslissings soos die HERE my God my beveel het, sodat julle daarvolgens kan leef in die land waarheen julle op pad is en wat julle in besit gaan neem. Kom dit na en voer dit uit, want daaruit sal dit vir die nasies duidelik wees dat julle wysheid en insig het. Wanneer hulle al hierdie vaste voorskrifte hoor, sal hulle sê, ‘Wat 'n wyse en verstandige volk is hierdie groot nasie nie!’ Want watter ander groot nasie het 'n god wat so na aan hulle is soos die HERE ons God aan ons is wanneer ook al ons Hom aanroep? Watter ander groot nasie het vaste voorskrifte en beslissings wat so regverdig is soos hierdie hele wet wat ek vandag aan julle gaan voorhou? “ Wees net versigtig, ja, let noukeurig daarop dat julle nie die dinge vergeet wat julle met julle eie oë gesien het nie, en dat dit nie uit julle harte verdwyn solank julle leef nie. Sorg dat julle kinders en kleinkinders kennis dra van die dag toe julle by Horeb in die teenwoordigheid van die HERE julle God gestaan het en die HERE vir my gesê het, ‘Maak vir My die volk bymekaar. Ek wil hulle my woorde laat hoor. Hulle moet dit leer, sodat hulle, solank as wat hulle op die aarde leef, vir My ontsag kan hê. Hulle moet dit ook vir hulle kinders leer.’ “ Julle het toe nader gekom en aan die voet van die berg gaan staan terwyl die berg, gehul in donkerte, wolke en diepe duisternis, hemelhoog gebrand het. Die HERE het met julle uit die vuur gepraat. Julle het die geluid van woorde gehoor, maar julle kon geen sigbare gestalte sien nie. Daar was net die stem. Hy het aan julle sy verbond bekend gemaak, naamlik die Tien Gebooie, waarvolgens julle moet leef, soos Hy beveel het. Hy het dit ook op twee kliptafels gegraveer.
DEUTERONOMIUM 4:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Luister dan nou, Israel, na die insettinge en na die verordeninge wat ek julle leer, om dit te doen, dat julle kan lewe en ingaan en die land in besit neem wat die HERE, die God van julle vaders, aan julle gee. Julle mag niks byvoeg by die woord wat ek julle beveel nie, en julle mag niks daarvan verminder nie, dat julle die gebooie van die HERE julle God wat ek julle beveel, kan onderhou. Julle oë het gesien wat die HERE ter wille van Baäl-Peor gedoen het; want al die manne wat Baäl-Peor gevolg het, die HERE jou God het hulle onder jou uit verdelg. Maar julle wat aan die HERE julle God gekleef het, leef vandag elkeen van julle. Kyk, ek het julle insettinge en verordeninge geleer, soos die HERE my God my beveel het, dat julle so moet doen in die land waarheen julle gaan om dit in besit te neem. Bewaar en doen dit dan; want dit is jou wysheid en jou insig voor die oë van die nasies wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is 'n wyse en verstandige volk. Want watter nasie is daar so groot wat God so naby aan hulle het soos die HERE onse God is in alles waaroor ons Hom aanroep? En watter nasie is daar so groot wat insettinge en verordeninge het so regverdig soos hierdie hele wet wat ek jou vandag voorhou? Let net op jouself en bewaar jou siel ywerig, dat jy nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat dit nie uit jou hart wyk al die dae van jou lewe nie; maar leer hulle jou seuns en jou seunseuns; Veral die dag toe jy voor die aangesig van die HERE jou God op Horeb gestaan het, toe die HERE vir my gesê het: Versamel vir My die volk, en Ek sal hulle na my woorde laat hoor, sodat hulle kan leer om My te vrees al die dae wat hulle sal lewe op die aarde, en dat hulle hulle kinders kan leer. En julle het nader gekom en onder die berg gaan staan; en die berg het met vuur gebrand tot in die middel van die hemel, met duisternis, wolke en donkerheid. En die HERE het met julle gespreek uit die vuur uit: julle het die stem van die woorde gehoor, maar geen gelykenis gesien nie; net julle het 'n stem gehoor. En Hy het aan julle sy verbond verkondig wat Hy julle beveel het om te volbring, naamlik tien gebooie; en hy het dit op twee kliptafels geskrywe.
DEUTERONOMIUM 4:1-13 Die Boodskap (DB)
“Israel, luister na al die wette en voorskrifte wat ek julle leer. As julle dit alles doen, sal julle bly leef en die land inneem wat die Here lank terug al aan julle voorvaders beloof het. Moet niks bysit by hierdie wette nie en moet ook niks daarvan weglaat nie. Leef voluit volgens die Here se wil. “Julle het immers self gesien wat by Baäl-Peor gebeur het. Elkeen wat Baäl aanbid het, is deur die Here vernietig. Almal van julle wat egter die Here bly dien het, leef vandag nog. Al die wette en voorskrifte wat die Here vir my gegee het, het ek julle geleer. Leef daarvolgens waar julle ook al dalk aan die westekant van die Jordaan woon. As julle die wil van die Here gehoorsaam, sal die ander volke julle bewonder. As hulle al hierdie wette hoor, sal hulle sê: ‘Hierdie groot nasie is ’n baie slim en verstandige volk.’ Geen ander nasie het ’n god wat so naby aan sy volk is soos die Here ons God aan ons is nie. Elke keer as ons bid, help Hy ons. Geen ander nasie, hoe groot en belangrik hulle ook al is, het sulke goeie en regverdige wette soos ons nie. En dit is hierdie wette wat ek vandag vir julle wil leer.” “Sorg dat julle nooit die dinge vergeet wat julle met julle eie oë gesien het nie. Julle moet dit lewenslank onthou en daaroor nadink. En julle moet ook vir julle kinders en kleinkinders daarvan vertel. Julle moet hulle van daardie dag by Horeb vertel toe die Here baie naby aan julle gekom het. Dié dag toe die Here vir my gesê het: ‘Laat almal bymekaarkom. Ek wil hulle my wil leer sodat hulle My lewenslank sal liefhê en ook vir hulle kinders van My sal vertel.’ “Vertel hulle hoe julle nader aan die berg se voet geskuifel het en hoe die berg daardie dag só gebrand het dat alles rondom julle pikdonker was van die borrelende rookwolke. En julle moet ook vertel hoe die Here in die vuur met julle gepraat het. Julle het mos net ’n stem gehoor, maar niemand gesien nie. Hy het julle vertel hoe sy eie volk Hom altyd lief moet hê. Daarom het Hy hierdie tien voorskrifte vir julle op twee klippe geskryf.
DEUTERONOMIUM 4:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Nou, Israeliete, luister noukeurig na hierdie reëls en regulasies wat ek julle nou gaan leer. Wees hieraan gehoorsaam sodat julle kan lewe en die land wat die HERE die God van julle voorouers aan julle gegee het, kan binnegaan en dit in besit neem. Moenie iets byvoeg of wegvat van die gebooie wat ek vir julle gee nie. Gehoorsaam net die gebooie van die HERE julle God wat ek vir julle gee. Julle het met julle oë gesien wat die HERE by Baäl-Peor gedoen het. Daar het die HERE julle God elkeen uitgeroei wat die god Baäl-Peor aanbid het. Almal van julle wat aan die HERE julle God getrou gebly het, lewe vandag nog. “Julle moet hierdie reëls en bepalings gehoorsaam wanneer julle in die land aankom wat julle nou binnegaan en in besit gaan neem. Die HERE my God het hulle aan my gegee en my beveel om dit aan julle deur te gee. As julle die gebooie noukeurig gehoorsaam, sal julle vir die naburige nasies wys dat julle wysheid en insig het. Wanneer hulle van hierdie wette hoor, sal hulle uitroep: ‘Watter ander nasie is so wys en het soveel insig soos hierdie een!’ Watter groot nasie se god is so naby aan hulle soos wat die HERE julle God naby aan julle is wanneer julle Hom aanroep? Watter groot nasie het reëls en bepalings so regverdig soos hierdie wette wat ek vandag vir julle gee? “Maar pas op! Wees baie versigtig om nooit te vergeet wat julle gesien het wat die HERE vir julle gedoen het nie. So lank as wat julle leef, moet julle hierdie dinge onthou. Maak seker dat julle dit vir julle kinders en kleinkinders oorvertel. Vertel hulle veral van die dag toe julle by Sinai in die teenwoordigheid van die HERE julle God was. Daar het Hy vir my gesê: ‘Bring die volk bymekaar sodat Ek hulle kan onderrig. Op dié manier sal hulle leer om eerbied vir My te hê so lank as wat hulle lewe. Hulle sal ook my wette aan hulle kinders leer.’ Julle het nadergekom en aan die voet van die berg gestaan, terwyl die berg in vlamme gehul was. Die vlamme het die lug in geskiet en die donker wolke het alles stikdonker gemaak. Die HERE het met julle vanuit die vuur gepraat. Julle het sy woorde gehoor, maar Hom nie gesien nie; daar was net ’n stem. Hy het sy verbond, die Tien Gebooie wat julle moet nakom, afgekondig en dit op twee kliptafels geskryf.