DEUTERONOMIUM 2:32-35
DEUTERONOMIUM 2:32-35 Bybel vir almal (ABA)
“Sihon en al sy manne het gekom om ons aan te val. Die oorlog was by die stad Jahas. Ons God die Here het ons laat wen teen Sihon. Ons het hom en sy seun en al sy mense oorwin. Ons het toe al sy stede gevat en ons het almal in elke stad doodgemaak, al die mans, vroue en kinders. Ons het niemand vry laat wegkom nie. Ons het net die beeste vir onsself gevat en ook al die goed in die stede waar ons die mense oorwin het.
DEUTERONOMIUM 2:32-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe het Sihon uitgetrek ons tegemoet, hy en sy hele volk, om te veg by Jahas. En die HERE onse God het hom aan ons oorgegee, sodat ons hom en sy seuns en sy hele volk verslaan het. En ons het in dié tyd al sy stede ingeneem en elke stad met die banvloek getref, manne en vroue en kinders; ons het niemand laat vryraak nie. Net die vee het ons vir ons geroof en die buit van die stede wat ons ingeneem het.
DEUTERONOMIUM 2:32-35 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Toe Sihon en sy hele leër optrek om by Jahas teen ons te veg, het die Here ons God hulle in ons mag oorgegee, en ons het hom en sy seuns en sy hele volk verslaan. In daardie tyd het ons al sy stede verower en verwoes. Van hulle mans, vrouens en kinders het ons niemand laat vrykom nie. Ons het net die vee en ook wat daar te buit was in die stede wat deur ons verower is, vir ons gevat.
DEUTERONOMIUM 2:32-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Daarop het Sihon teen ons opgetrek, hy en al sy manskappe, om teen ons oorlog te maak by Jahas. Maar die HERE ons God het hom aan ons oorgegee, en ons het hom en sy seuns en al sy manskappe verslaan. In daardie tyd het ons al sy stede ingeneem en in elke stad die mans, vroue en kinders met die banvloek getref. Ons het niemand laat vrykom nie. Slegs die diere het ons vir onsself uitgehou, asook die oorlogsbuit van die stede wat ons ingeneem het.
DEUTERONOMIUM 2:32-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het Sihon teen ons uitgetrek, hy en sy hele volk, om by Jahas te veg. En die HERE onse God het hom voor ons oorgegee; en ons het hom en sy seuns en al sy volk verslaan. En ons het in dié tyd al sy stede ingeneem en die manne en die vroue en die kindertjies van elke stad met die banvloek getref; ons het niemand oorgebly nie. Net die vee wat ons vir onsself as buit geneem het, en die buit van die stede wat ons ingeneem het.
DEUTERONOMIUM 2:32-35 Die Boodskap (DB)
“Sihon en sy weermag het na Jahas toe getrek om teen ons te veg. Die Here het ons egter gehelp en ons het Sihon, sy weermag en sy seuns geheel en al vernietig. Ons het al Sihon se stede ingeneem en al die inwoners doodgemaak. Niemand het oorgebly nie. Ons het die vee vir ons gevat en die stede verwoes.
DEUTERONOMIUM 2:32-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Koning Sihon het oorlog teen ons verklaar en sy leër by Jahas teen ons gemobiliseer. Die HERE ons God het hom egter in ons mag oorgegee en ons het hom, sy seuns en sy volk verpletter. Ons het al sy stede verower en elkeen, mans, vroue en kinders, heeltemal verdelg. Niemand is gespaar nie. Ons het al die diere en enigiets van waarde in die stede wat ons verower het, as buit vir ons geneem.