Deuteronomium 2

2
Die Here het gesê die Israeliete moenie die Edomiete aanval nie
1Moses het gesê: “Ons het weggegaan na die woestyn, soos die Here vir my gesê het. Ons het eers op die pad na die Riet-see geloop en toe het ons baie lank geloop rondom die Seïr-berge. 2Die Here het eendag vir my gesê: 3‘Julle het nou lank genoeg om hierdie berge geloop, julle moet nou draai en noord gaan. 4Jy moet vir die volk sê: Julle gaan nou deur die land van mense wat familie is van julle, die nageslag van Esau. Hulle woon in die land Seïr. Hulle is bang vir julle. Julle moet baie versigtig wees, 5julle moenie teen hulle oorlog maak nie, want Ek sal nie vir julle van hulle grond gee nie, niks nie. Ek het die Seïr-berge vir Esau gegee. 6Julle moet die kos wat julle eet, by hulle koop, en ook die water wat julle sal drink.’
7“Julle God die Here het dit goed laat gaan met alles wat julle gedoen het, Hy het vir julle gesorg in hierdie groot woestyn. Julle God die Here was altyd by julle hierdie 40 jaar, julle het genoeg gehad van alles.
8“Ons het toe verby ons familie gegaan, verby die nageslag van Esau wat in die land Seïr woon. Ons het by die stad Elat, dit is Esjon-Geber, gekom. Toe het ons op die pad deur die Jordaan-vallei gegaan, en ons het deur die woestyn geloop na die land Moab.”
Die Here het gesê die Israeliete moenie die Moabiete aanval nie
9“Maar die Here het vir my gesê: ‘Julle moenie die mense van Moab aanval nie, julle moenie oorlog maak teen hulle nie, want Ek sal nie 'n stuk van hulle land vir julle gee nie. Ek het die land Ar vir die nageslag van Lot gegee.’ ”
Die mense wat voorheen in die lande van die Moabiete en Edomiete gewoon het
10“Die Emiete het voorheen in die land Moab gewoon. Hulle was 'n groot en sterk volk en hulle was so lank soos die Enak-mense. 11Hulle was ook Refaïete soos die Enak-mense, maar die Moabiete het hulle Emiete genoem. 12Die Goriete het voorheen in die land Seïr gewoon, maar die nageslag van Esau het hulle oorwin en doodgemaak en het in hulle plek gaan woon. Die Israeliete het dieselfde gedoen met hulle vyande in die land wat die Here vir hulle gegee het.”
Die Here sê die Israeliete moet deur die Sered-vallei gaan
13“Die Here het gesê: ‘Nou moet julle deur die Sered-vallei gaan.’
“Ons het deur die Sered-vallei gegaan. 14Dit was 38 jaar nadat ons weggegaan het van die stad Kades-Barnea. Een hele geslag van manne wat daardie tyd oorlog kon maak, was toe al dood. Dit het gebeur soos die Here vir hulle gesê het. 15Die Here was nou ook hulle vyand, Hy het hulle almal laat sterf.”
Die Here het gesê die Israeliete moenie die Ammoniete aanval nie
16“En toe al die manne wat daardie tyd oorlog kon maak, gesterf het, 17het die Here vir my gesê: 18‘Wanneer julle vandag deur die land Moab, die land Ar, gaan, 19dan sal julle naby die Ammoniete kom. Maar julle moenie vir hulle aanval en oorlog maak teen hulle nie, want Ek sal nie vir julle 'n stuk van die land van die Ammoniete gee nie, Ek het dit vir die nageslag van Lot gegee.’ ”
Die mense wat voorheen in die lande van die Ammoniete, die Edomiete en die Filistyne gewoon het
20“Almal weet dat die land van die Ammoniete ook die Refaïete se land was, want die Refaïete het voorheen daar gewoon. Die Ammoniete het hulle Samsummiete genoem. 21Die Refaïete was 'n groot en sterk volk en hulle was so lank soos die Enak-mense, maar die Here het hulle laat sterf, en die Ammoniete het die land gevat en daar gaan woon. 22Die Here het dieselfde gedoen vir die nageslag van Esau. Hy het die Goriete laat sterf, en die Edomiete het toe die land gevat en daar gaan woon. Hulle woon nou nog daar. 23Dieselfde het gebeur met die Awwiete wat voorheen in klein dorpies gewoon het naby die stad Gasa. Die Kaftor-mense het van die eiland Kaftor gekom. Hulle het die Awwiete doodgemaak en in hulle plek gaan woon.”
Die Here het gesê die Israeliete moet deur die Arnon-vallei gaan
24“Die Here het gesê: ‘Julle moet gereedmaak en verder gaan. Gaan deur die Arnon-vallei. Onthou, Ek het Sihon, koning van die Amoriete in die stad Gesbon, en sy land vir julle gegee. Julle moet begin oorlog maak teen hom en julle moet sy land vat. 25Ek begin vandag om al die volke in die wêreld bang te laat word vir julle. Wanneer hulle hoor van julle, dan sal hulle skrik en bewe.’ ”
Die Israeliete het vir koning Sihon oorwin en sy land gevat
26“Ek het boodskappers uit die Kedemot-woestyn gestuur na koning Sihon toe in Gesbon, ek wou vrede maak met hom. 27Ek het gesê: ‘Ons wil deur jou land gaan. Ons sal op die pad bly, ons sal nie regs of links draai nie. 28-29Jy kan kos en water aan ons verkoop om te eet en te drink. Jy moet net sê dat ons deur jou land mag loop totdat ons deur die Jordaan-rivier kan gaan na die land wat ons God die Here vir ons gee. Die nageslag van Esau wat in die land Seïr woon en die Moabiete wat in die land Ar woon, het gesê ons mag deur hulle lande loop.’
30“Maar koning Sihon van Gesbon het gesê ons mag nie deur sy land gaan nie, want julle God die Here het hom hardkoppig gemaak. Die Here wou julle laat wen teen Sihon, en julle woon nou nog in sy land. 31Die Here het vir my gesê: ‘Onthou, Ek begin nou om Sihon en sy land vir julle te gee. Julle moet nou sy land vir julleself vat.’
32“Sihon en al sy manne het gekom om ons aan te val. Die oorlog was by die stad Jahas. 33Ons God die Here het ons laat wen teen Sihon. Ons het hom en sy seun en al sy mense oorwin. 34Ons het toe al sy stede gevat en ons het almal in elke stad doodgemaak, al die mans, vroue en kinders. Ons het niemand vry laat wegkom nie. 35Ons het net die beeste vir onsself gevat en ook al die goed in die stede waar ons die mense oorwin het. 36Daar was nie 'n stad wat te sterk was vir ons nie. Ons God die Here het alles vir ons gegee, van die stad Aroër op die kant van die Arnon-vallei en die stad in die vallei, tot by die land Gilead. 37Maar julle het nie naby die Ammoniete se land gekom nie, dit is die hele kant van die Jabbok-vallei en die stede in die berge, alles wat die Here gesê het.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid