DEUTERONOMIUM 13:6-11
DEUTERONOMIUM 13:6-11 Bybel vir almal (ABA)
“Miskien sal jou eie broer of jou seun of jou dogter of jou vrou met wie jy getroud is of jou goeie vriend vir jou wil verlei. Daardie persoon sal saggies vir jou sê waar niemand anders dit kan hoor nie: ‘Kom ons gaan dien ander gode.’ Dit sal gode wees wat julle en julle voorvaders nie geken het nie, gode van die volke wat rondom julle is, naby of ver, oral op die aarde. Wanneer dit gebeur, dan moet julle nie doen wat daardie persoon wil hê nie. Julle moenie luister nie, julle moenie jammer wees vir so 'n persoon nie, julle moenie hom of haar vergewe en beskerm nie. Julle moet so 'n persoon doodmaak, julle móét dit doen. Iemand wat die naaste aan hom is, moet begin om hom dood te maak, en die ander mense moet help. Julle moet hom doodgooi met klippe, want hy het probeer om julle weg te lei van julle God die Here wat vir julle uit die land Egipte gebring het, die land waar julle slawe was. Al die Israeliete moet hoor wat julle gedoen het en hulle moet bang word, sodat niemand weer so 'n slegte ding daar by julle sal doen nie.
DEUTERONOMIUM 13:6-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
As jou broer, die seun van jou moeder, of jou seun of dogter of die vrou wat jy liefhet, of jou vriend wat soos jou eie siel is, jou in die geheim verlok en sê: Laat ons gaan en ander gode dien — wat jy en jou vaders nie geken het nie, uit die gode van die volke wat rondom julle is, naby jou of ver van jou af; van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde — dan moet jy nie inwillig en na hom nie luister nie; ook mag jou oog hom nie verskoon nie, en jy mag jou nie ontferm en niks om sy ontwil wegsteek nie, maar jy moet hom sekerlik doodmaak; jou hand moet eerste teen hom wees om hom dood te maak, en daarna die hand van die hele volk. En jy moet hom stenig, dat hy sterwe; want hy het probeer om jou weg te drywe van die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. En die hele Israel sal dit hoor en vrees, en hulle sal nie meer so 'n verkeerde ding by jou doen nie.
DEUTERONOMIUM 13:6-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Dit kan gebeur dat jou broer, jou ma se seun, of jou seun of jou dogter of jou eie vrou of jou boesemvriend jou in die geheim wil verlei en vir jou sê: ‘Kom ons gaan dien ander gode.’ Dit kan gode wees wat jy en jou voorvaders nie geken het nie, gode van die volke in jou omgewing, gode wat naby is of ver, gode in die een uithoek van die land of in die ander uithoek. Dan mag jy nie voor hom swig en na hom luister nie. Jy mag hom nie jammer kry nie. Moet hom nie verskoon en wegsteek nie. Jy moet hom sonder meer doodmaak. Jy moet daarmee begin en dan moet die volk jou daarin bystaan. Jy moet hom met klippe doodgooi, want hy wou jou verlei om ontrou te word aan die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. “Die hele Israel moet dit hoor en bang word sodat so 'n verkeerde ding nie weer onder julle gedoen word nie.
DEUTERONOMIUM 13:6-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Wanneer jou eie broer, of jou seun of dogter, of jou geliefde vrou, of jou boesemvriend jou in die geheim aanhits en sê, ‘Kom ons gaan dien ander gode’ – dit is nou gode wat jy self of jou voorouers nie geken het nie, van die gode van die volke om julle, of hulle nou naby jou is of ver van jou af, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde – dan mag jy nie aan hom toegee en na hom luister nie. Jy mag hom nie jammer kry of jou oor hom ontferm of hom wegsteek nie. Nee, jy moet hom beslis om die lewe bring. Jou hand moet die eerste wees om hom dood te maak, en daarna die hand van die hele volk. Jy moet hom stenig, sodat hy sterf, want hy het probeer om jou van die HERE jou God af weg te lok, van Hom wat jou uit Egipteland, uit die plek van slawerny, uitgelei het. Die hele Israel sal dit hoor en bang wees. Hulle sal nie weer hierdie verkeerde daad by jou doen nie.
DEUTERONOMIUM 13:6-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
As jou broer, die seun van jou moeder, of jou seun of jou dogter, of die vrou van jou boesem of jou vriend, wat soos jou eie siel is, jou in die geheim verlei deur te sê: Laat ons gaan en ander gode dien, wat jy nie geken het nie, jy en jou vaders nie; Naamlik van die gode van die mense wat rondom jou is, naby jou, of ver van jou af, van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; Jy mag nie na hom toestem en na hom nie luister nie; en jou oog sal hom nie ontferm nie, en jy sal hom nie verskoon en hom nie verberg nie. Maar jy moet hom sekerlik doodmaak; jou hand sal eerste teen hom wees om hom dood te maak, en daarna die hand van die hele volk. En jy moet hom stenig met klippe, dat hy sterwe; omdat hy probeer het om jou van die HERE jou God af te verdryf wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. En die hele Israel sal dit hoor en vrees en nie meer so 'n goddeloosheid doen soos dit onder julle is nie.
DEUTERONOMIUM 13:6-11 Die Boodskap (DB)
“Wanneer jou eie broer of jou kind, jou vrou, jou vriend of enigiemand vir wie jy lief is, jou eenkant toe roep en sê: ‘Kom ons gaan aanbid ander gode wat ons ouers nie eens geken het nie,’ moet jy oppas. En as hulle wil hê dat jy die gode van die mense naby jou en ver van jou af moet aanbid, moet jy nie eens na hulle luister nie. Jy moenie simpatie met hulle hê nie en hulle ook nie eens beskerm nie. Sorg dat hulle onmiddellik met klippe doodgegooi word. Jy moet sommer die eerste klip optel en gooi. Al die ander moet saam met jou sorg dat hulle doodgemaak word. Dié mense het jou van die God probeer vervreem wat jou uit Egipte laat wegtrek het. Daarom moet hulle uit die gemeenskap verwyder word. Almal sal hoor wat met daardie slegte mense gebeur het en dit sal hulle afskrik om nie weer so iets te doen nie.
DEUTERONOMIUM 13:6-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Sê nou jou eie broer of jou seun of dogter of jou geliefde vrou of boesemvriend kom na jou toe en sê in die geheim: ‘Kom ons gaan aanbid ander gode.’ Dit kan gode wees wat jy of jou voorouers nie geken het nie, gode van die omringende volke, naby of ver, gode van enige uithoek van die land. As hulle dit doen, moenie toegee of na hulle luister nie. Jy moet hulle ook nie jammer kry nie. Moet hom nie verskoon of beskerm nie. Maak hom verseker dood! Jy moet dit begin en dan moet die hele volk jou ondersteun. Stenig die skuldiges, want hulle wou jou verlei om die HERE jou God te verlaat wat jou uit Egipte, die plek van slawerny, uitgelei het. Dan sal al die Israeliete hiervan hoor en bang word. Hulle sal nie weer so ’n verkeerde ding doen nie.