Deuteronomium 13

13
Optrede teen vals profete
1“ Wanneer 'n profeet of iemand wat drome droom by jou opstaan en vir jou 'n teken of wonder voorspel, 2en die teken of wonder waaroor hy met jou gepraat het, gebeur en hy dan sê, ‘Ons moet ander gode volg wat jy nie ken nie en hulle dien,’ 3 dan mag jy nie na die woorde van daardie profeet of die een wat die droom gedroom het, luister nie; want die Here julle God toets julle om te sien of julle met julle hele hart en julle hele wese die Here julle God liefhet. 4Julle moet die Here julle God volg, vir Hom moet julle ontsag hê en sy gebooie nakom. Na sy stem moet julle luister, en Hom moet julle dien, en aan Hom moet julle vashou. 5Daardie profeet, of die een wat drome droom, moet doodgemaak word; want hy het wat vals is, verkondig oor die Here julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het en julle vrygekoop het uit die plek van slawerny. Dit is net om jou weg te lok van die pad wat die Here jou God jou beveel het om te volg. Jy moet die kwaad by jou uitroei.
6“ Wanneer jou eie broer, of jou seun of dogter, of jou geliefde vrou, of jou boesemvriend jou in die geheim aanhits en sê, ‘Kom ons gaan dien ander gode’ – dit is nou gode wat jy self of jou voorouers nie geken het nie, 7van die gode van die volke om julle, of hulle nou naby jou is of ver van jou af, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde – 8dan mag jy nie aan hom toegee en na hom luister nie. Jy mag hom nie jammer kry of jou oor hom ontferm of hom wegsteek nie. 9Nee, jy moet hom beslis om die lewe bring. Jou hand moet die eerste wees om hom dood te maak, en daarna die hand van die hele volk. 10Jy moet hom stenig, sodat hy sterf, want hy het probeer om jou van die Here jou God af weg te lok, van Hom wat jou uit Egipteland, uit die plek van slawerny, uitgelei het. 11 Die hele Israel sal dit hoor en bang wees. Hulle sal nie weer hierdie verkeerde daad by jou doen nie.
12 “Wanneer jy in een van die dorpe wat die Here jou God vir jou gaan gee om in te woon, hoor dat daar gesê word, 13‘Booswigte by jou het na vore getree en die inwoners van hulle dorp weggelok met die woorde: “Kom ons gaan dien ander gode” ’ – dit is nou gode wat julle nie geken het nie – 14dan moet jy op die saak ingaan. Jy moet ondersoek instel en noukeurig navraag doen. As dit wel waar is, as die saak vasstaan dat daar iets so afstootliks by jou gebeur het, 15moet jy beslis die inwoners van daardie dorp tref met die skerpte van die swaard. Jy moet die dorp, almal wat daarin is, ook die vee, deur die skerpte van die swaard met die banvloek tref. 16Alles wat in die dorp buitgemaak is, moet jy in die middel van die dorpsplein bymekaarbring. Dan moet jy die dorp en alles wat buitgemaak is, as 'n volledige offer aan die Here jou God verbrand. Dit moet vir altyd 'n puinhoop wees; dit mag nie weer herbou word nie. 17Daar mag niks van die bangoed in jou hande agterbly nie, sodat die Here se brandende toorn kan bedaar en Hy aan jou barmhartigheid kan bewys. Hy sal Hom oor jou ontferm en jou laat vermeerder, soos Hy aan jou voorvaders met 'n eed beloof het, 18 as jy na die stem van die Here jou God luister deur al sy gebooie wat ek vandag vir jou voorskryf, na te kom, deur te doen wat reg is in die oë van die Here jou God.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid