KOLOSSENSE 3:1-2
KOLOSSENSE 3:1-2 Bybel vir almal (ABA)
God het vir Christus weer laat lewe en God het ook vir julle weer laat lewe saam met Christus. Daarom moet die dinge wat vir Christus belangrik is, nou vir julle ook belangrik wees, want Christus is nou in die hemel by God, Hy sit op die belangrikste plek by God. Julle moet altyd dink aan die dinge wat vir Christus belangrik is, die dinge daarbo in die hemel. Julle moenie dink aan die dinge wat vir mense belangrik is nie, aan die dinge hier onder op die aarde nie.
KOLOSSENSE 3:1-2 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
AS julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.
KOLOSSENSE 3:1-2 Afrikaans 1983 (AFR83)
Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie
KOLOSSENSE 3:1-2 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
As julle dan saam met •Christus opgewek is, streef na dit wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge daarbo, nie die dinge op aarde nie.
KOLOSSENSE 3:1-2 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus sit aan die regterhand van God. Stel jou geneentheid op die dinge daarbo, nie op die dinge op die aarde nie.
KOLOSSENSE 3:1-2 Die Boodskap (DB)
Onthou dit altyd: toe julle Christene geword het, het julle saam met Christus ’n nuwe lewe gekry. Tree asseblief nou op soos mense wat saam en vir die Here leef. Julle moet al meer so leef dat Jesus daarmee tevrede sal wees. Onthou, Hy is die Een met die mag. Hy sit op die oomblik op die ereplek langs God self in die hemel. Moenie toelaat dat dinge wat nie vir Jesus belangrik is nie, vir julle te belangrik word nie. Ek praat van tydelike, aardse dinge waarmee julle julle partymaal so kan besig hou. Bestee liewer al julle tyd aan dinge wat vir Jesus belangrik is. Dink daaroor na, praat daaroor en doen dit!