KOLOSSENSE 3

3
Vermaning tot heiligmaking en broederlike liefde.
1 AS julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.
2Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.
3Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.
4Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.
5 Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is,
6 waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom,
7waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het.
8Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond.
9 Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het
10en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper,
11waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Scith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.
12Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.
13 Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander 'n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.
14En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.
15En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.
16Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.
17En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.
Huislike pligte.
18 VROUE, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die Here.
19 Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie.
20 Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die Here welbehaaglik.
21 Vaders, moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie.
22 Diensknegte, julle moet jul here na die vlees in alles gehoorsaam wees, nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar in eenvoudigheid van hart, omdat julle God vrees.
23En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,
24 omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus.
25Maar wie onreg doen, sal die onreg wat hy gedoen het, terug ontvang; en daar is geen aanneming van die persoon nie.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid