KOLOSSENSE 2:16-20

KOLOSSENSE 2:16-20 Die Boodskap (DB)

Julle moet julle ook nie steur aan mense wat met dik reëlboeke na julle toe kom en vir julle voorlees hoe godsdienstige mense eintlik moet leef nie. Hulle sal julle presies wil vertel wat julle mag eet of drink en wat nie; om nie eens te praat van die berg voorskrifte vir die feeste wat julle deur die jaar moet vier nie. En dan is daar die sabbat! Ai, hulle sal julle tot in die fynste besonderhede wil voorskryf hoe julle die sabbat moet vier. Sê nou jou beste vriend kom na jou toe, wat sal jy omhels, sy skaduwee of vir hom? Natuurlik vir hom. Dan sal julle verstaan wat ek bedoel as ek sê: die klomp feeste en kos wat vir hierdie mense so heilig is, is maar ’n skaduwee van die Een wat regtig heilig is. Omhels Christus daarom liewer; Hy is immers die inhoud van julle godsdiens. Omdat Hy daar is, is julle godsdiens mos daar. Julle sal ook mense teëkom wat kamma vreeslik nederig leef. Hulle sal julle probeer oortuig dat dit is hoe godsdiens moet wees. Hulle sal ook allerhande engele aanbid en gedurig spog met hulle geestelike ervarings of die gesigte wat hulle al gesien het. Dit laat hulle kamma so godsdienstig en so trots op hulleself voel. Ignoreer hulle. Moenie eens na ’n woord luister wat hulle sê nie. As hulle dink hulle weet wat godsdiens regtig is, slaan hulle die bal ver mis. Hulle weet nie wat die regte godsdiens is nie, want hulle ken nie die Een om wie alle godsdiens draai nie. ’n Liggaam kan nie sonder ’n kop nie; net so kan ware gelowiges nie sonder Christus nie. Christus is die kop van die liggaam, die kerk. Hy gee alles aan die kerk wat dit nodig het om te groei. God self sien ook om na hierdie liggaam om seker te maak dat dit groei soos dit moet. Ek wil julle ’n vraag vra. Julle sê dat toe julle Christene geword het, al hierdie vals en leë godsdienstige reëls hulle betekenis vir julle verloor het. Soos dit vir Christus niks beteken nie, so beteken dit ook vir julle niks meer nie. Waarom wil julle dan kort-kort maar weer kerk hou asof daardie godsdienstige gebruike die eintlike godsdiens is?

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid