KOLOSSENSE 2
AFR83

KOLOSSENSE 2

2
Waarskuwing teen misleiding
1Ek wil hê julle moet weet hoe sterk ek my beywer vir julle en vir die gelowiges in Laodisea en vir al die ander wat my ook nog nie persoonlik gesien het nie. 2My doel daarmee is dat hulle bemoedig moet word. Hulle moet met liefde aan mekaar verbind wees en saam strewe na diep en volledige insig, sodat hulle God se geheimenis kan ken. Die geheimenis is Christus, 3en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind.
4Ek beklemtoon dit, sodat niemand julle met vals redenasies mislei nie. 5Al is ek nou nie persoonlik daar nie, is ek tog in die gees by julle en is ek bly om te sien dat julle die goeie orde handhaaf en dat julle geloof in Christus stewig vas staan.
Lewe in verbondenheid met Christus Jesus
6Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, 7in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.
8Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie. Dit is dinge wat berus op die oorlewering van mense, op wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie. 9In Hom is die volle wese van God beliggaam, 10en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Hy is die hoof oor elke mag en gesag. 11Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens. 12Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Hom begrawe is. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam met Hom opgewek, omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het. 13Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. 14Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. 15Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.
Moenie dat iemand julle mislei nie
16Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie#Vgl. Rom. 14:1-12, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. 17Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus. 18Moenie dat iemand wat behae skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie. So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink, 19en hy hou nie aan die hoof, aan Christus, vas nie. Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei.
Julle het saam met Christus gesterwe
20Julle het saam met Christus gesterwe en is dus dood vir die wettiese godsdienstige reëls van hierdie wêreld. Waarom lewe julle dan nog asof julle aan hierdie wêreld behoort? Waarom gehoorsaam julle allerhande voorskrifte 21soos: “Hieraan mag jy nie vat nie!” “Daaraan mag jy jou mond nie sit nie!” “Daaraan mag jy nie raak nie!”? 22Dit gaan alles oor dinge wat bedoel is om gebruik te word en te vergaan, en dit is maar net gebooie en leerstellings van mense. 23Hierdie leerstellings het wel 'n skyn van wysheid met hulle selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam, maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie.

Verskaf met die komplimente van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. © Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Ondersteun ons en word ‘n saaier van hoop.

Vind meer uit oorAfrikaans 1983