Kolossense 2

2
1Ek wil hê julle moet weet hoe 'n groot stryd ek het – vir julle, vir diegene in Laodisea, en vir diegene wat my nog nie van aangesig tot aangesig gesien het nie. 2Dit is my doel dat hulle harte, deur liefde saamgebind bemoedig mag word, en dat hulle kan kom tot die volle rykdom van allesomvattende insig, ja, tot die kennis van die misterie van God, naamlik •Christus, 3 in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is. 4 Dit sê ek, sodat niemand julle met slinkse argumente om die bos sal lei nie. 5Al is ek wel nie liggaamlik teenwoordig nie, is ek in die gees by julle, en baie bly om te sien hoe ordelik julle optree, en hoe vas julle geloof in Christus is.
Sterwe en opstanding met Christus
6Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly leef in Hom; 7in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid. 8 Pasop dat niemand julle meevoer deur 'n filosofie en leë bedrieëry, wat gegrond is op menslike tradisie en teorieë oor die kosmiese elemente, en nie op •Christus nie. 9 Want in Hom woon die hele volheid van die Godheid liggaamlik. 10En in Hom, wat Hoof oor elke heerskappy en mag is, is julle met hierdie volheid vervul. 11 In Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis deur mensehande nie, maar deur die besnydenis van Christus, waardeur julle sondige bestaan weggeneem is. 12 Omdat julle in die doop saam met Hom begrawe is, is julle ook saam met Hom opgewek deur die geloof in die krag van God, wat Hom uit die dood opgewek het. 13Ja, toe julle dood was as gevolg van julle oortredings, en julle sondige aard nog nie weggesny was nie, het Hy julle saam met Hom lewend gemaak, deurdat Hy al ons oortredings vergewe het. 14Hy het die skuldbewys met sy aanklagte teen ons uitgewis en dit blywend weggeneem, toe Hy dit aan die kruis vasgespyker het. 15 Nadat Hy hierdeur die gesagvoerders en maghebbers ontwapen het, het Hy hulle in die openbaar tot skande gemaak toe Hy hulle in sy triomftog meegevoer het.
16 Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink, of oor 'n fees, 'n nuwemaansfees of 'n Sabbat nie. 17Hierdie dinge is net 'n voorafskaduwing van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus. 18Moenie dat iemand wat aandring op selfvernedering en die aanbidding van engele, en wat hom verdiep in visioene wat hy gesien het, julle van die prys beroof nie. As gevolg van sy sondige aard, dink hy sonder rede baie van homself, 19en hou nie vas aan die Hoof nie, uit wie die hele liggaam ontwikkel, ondersteun en saamgebind word deur gewrigte en spiere, met groeikrag wat van God kom.
Nuwe lewe in Christus
20 As julle saam met •Christus die kosmiese elemente afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog as deel van die wêreld leef, steeds gebonde aan voorskrifte soos: 21“Moenie daaraan vat of proe of raak nie”? 22Dit is alles dinge wat deur gebruik tot niet gaan, en gebaseer is op mensgemaakte voorskrifte en leringe. 23Hoewel hierdie voorskrifte met hulle selfopgelegde godsdienspligte, geveinsde nederigheid en liggaamlike kastyding, die skyn van wysheid het, is dit heeltemal nutteloos, maar dien tot bevrediging van die sondige aard.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid