KOLOSSENSE 2:14-15
KOLOSSENSE 2:14-15 Bybel vir almal (ABA)
God het ons sondes in 'n boek geskryf, want ons het nie gedoen wat sy wette sê nie. Maar God het vir Christus aan die kruis laat sterf en so het Hy ons sondes vergewe, die sondes wat Hy in sy boek geskryf het. Ja, Hy het die sondes uitgevee uit sy boek. Toe Christus aan die kruis gesterf het, het God die wapens weggevat van almal en alles wat oor die wêreld wil regeer. Hulle het sy gevangenes geword, en Hy het vir almal gewys dat hulle sy gevangenes is.
KOLOSSENSE 2:14-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.
KOLOSSENSE 2:14-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.
KOLOSSENSE 2:14-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy het die skuldbewys met sy aanklagte teen ons uitgewis en dit blywend weggeneem, toe Hy dit aan die kruis vasgespyker het. Nadat Hy hierdeur die gesagvoerders en maghebbers ontwapen het, het Hy hulle in die openbaar tot skande gemaak toe Hy hulle in sy triomftog meegevoer het.
KOLOSSENSE 2:14-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Deur die handskrif van insettinge wat teen ons was, uit te vee, en dit uit die weg geruim deur dit aan sy kruis vas te spyker; En nadat hy owerhede en magte geplunder het, het hy hulle in die openbaar vertoon en daarin oor hulle getriomfeer.
KOLOSSENSE 2:14-15 Die Boodskap (DB)
Wat gebeur het, kan ook so gestel word: ons elkeen het ’n rekening van al ons sonde en ’n rekening moet ’n mens mos betaal. Wat met ons moes gebeur oor al die skuld is uiters slegte nuus vir ons. God het egter hierdie rekening met al ons skuld uit ons hande kom vat. Nou staan die skuld nie meer teenoor ons naam nie. Ons rekening hang nou aan die kruis. Jesus wat ook aan die kruis gesterf het, het daardie skuld vir ons betaal. Dit kan ook nog op ’n ander manier gestel word: Jesus het die vyandige geestelike magte en kragte totaal verslaan. Hy het behoorlik bo-oor hulle geloop. Hierdie geestelike magte kan nou net magteloos in kettings voortstrompel terwyl Jesus as die groot Wenner vooruitstap. In hierdie optog word Jesus se oorwinning aan die kruis feestelik gevier. Dit is daar vir almal om te sien.
KOLOSSENSE 2:14-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hy het die dokument met voorskrifte wat as klagstaat teen ons gedien het, uitgevee en dit vir goed weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker. So het Hy die regeerders en gesagvoerders ontwapen. Hy het hulle in die openbaar bespotlik gemaak deur aan die kruis oor hulle te triomfeer.