KOLOSSENSE 2:11-15 - Compare All Versions
KOLOSSENSE 2:11-15 ABA (Bybel vir almal)
Julle behoort aan Christus. Soos wanneer mense iemand besny, so het Hy julle lus om sonde te doen, heeltemal weggevat. Dit is wat die besnydenis van Christus is. Hy het julle besny toe julle gedoop is. Julle is gedoop, en dit beteken dat julle saam met Christus begrawe is. Dit beteken ook dat God julle saam met Christus weer laat lewe het. Dit is so, want julle glo in God, God wat sterk is en wat vir Christus weer laat lewe het. Julle het voorheen baie sondes gedoen, en daarom was julle geestelik dood. Julle was nie besny nie. Maar God het vir Christus weer laat lewe en God het ook vir julle weer laat lewe toe Hy al julle sondes vergewe het. God het ons sondes in 'n boek geskryf, want ons het nie gedoen wat sy wette sê nie. Maar God het vir Christus aan die kruis laat sterf en so het Hy ons sondes vergewe, die sondes wat Hy in sy boek geskryf het. Ja, Hy het die sondes uitgevee uit sy boek. Toe Christus aan die kruis gesterf het, het God die wapens weggevat van almal en alles wat oor die wêreld wil regeer. Hulle het sy gevangenes geword, en Hy het vir almal gewys dat hulle sy gevangenes is.
KOLOSSENSE 2:11-15 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
in wie julle ook besny is met 'n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het. En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.
KOLOSSENSE 2:11-15 AFR83 (Afrikaans 1983)
Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens. Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Hom begrawe is. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam met Hom opgewek, omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het. Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.
KOLOSSENSE 2:11-15 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
In Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis deur mensehande nie, maar deur die besnydenis van Christus, waardeur julle sondige bestaan weggeneem is. Omdat julle in die doop saam met Hom begrawe is, is julle ook saam met Hom opgewek deur die geloof in die krag van God, wat Hom uit die dood opgewek het. Ja, toe julle dood was as gevolg van julle oortredings, en julle sondige aard nog nie weggesny was nie, het Hy julle saam met Hom lewend gemaak, deurdat Hy al ons oortredings vergewe het. Hy het die skuldbewys met sy aanklagte teen ons uitgewis en dit blywend weggeneem, toe Hy dit aan die kruis vasgespyker het. Nadat Hy hierdeur die gesagvoerders en maghebbers ontwapen het, het Hy hulle in die openbaar tot skande gemaak toe Hy hulle in sy triomftog meegevoer het.
KOLOSSENSE 2:11-15 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
In wie julle ook besny is met die besnydenis wat sonder hande gedoen is, deur die liggaam van die sondes van die vlees af te lê deur die besnydenis van Christus; Saam met Hom begrawe in die doop, waarin julle ook saam met Hom opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het. En julle, wat dood was deur julle sondes en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle alle oortredinge vergewe het; Deur die handskrif van insettinge wat teen ons was, uit te vee, en dit uit die weg geruim deur dit aan sy kruis vas te spyker; En nadat hy owerhede en magte geplunder het, het hy hulle in die openbaar vertoon en daarin oor hulle getriomfeer.
KOLOSSENSE 2:11-15 DB (Die Boodskap)
Maar wat kry julle alles by Hom? Wat gee Hy aan julle sodat julle niks kortkom nie? Hy gee aan julle die besnydenis op grond van julle verhouding met Hom. Daar moet egter mooi verstaan word wat hier met besnydenis bedoel word. Iets word finaal en vir altyd van jou liggaam afgesny. Dit gaan hier egter nie om die gewone liggaamlike besnydenis wat deur mense gedoen word nie. Nee, hierdie besnydenis kan Christus alleen doen. Die besnydenis soos Christus dit doen, neem die sondige, menslike natuur van die gelowige finaal en vir ewig van hom af weg. Toe julle gedoop is, het daar ’n geestelike begrafnis plaasgevind: geestelik is julle saam met Christus begrawe. Dit het nie vir julle die einde beteken nie, maar dit was eintlik vir julle ’n nuwe begin. God het Christus immers uit die dood en die graf laat opstaan. Saam met Christus is elkeen wat aan Hom behoort ook soos Christus opgewek, deurdat julle nie daaraan twyfel nie, maar vas glo dat God die krag het om dit te doen. Julle was mos eers geestelik dood. Almal kon dit sien uit alles wat julle verkeerd gedoen het. In daardie stadium het Christus nog nie van julle sondige natuur ontslae geraak nie. Julle was geestelik nog nie besny nie. Toe verander dinge! Soos God Jesus lewendig gemaak het, het Hy julle saam met Hom lewe gegee. “Maar wat van alles wat ons verkeerd gedoen het?” kan julle vra. Wel, genadiglik hou God niks meer teen ons nie. Wat gebeur het, kan ook so gestel word: ons elkeen het ’n rekening van al ons sonde en ’n rekening moet ’n mens mos betaal. Wat met ons moes gebeur oor al die skuld is uiters slegte nuus vir ons. God het egter hierdie rekening met al ons skuld uit ons hande kom vat. Nou staan die skuld nie meer teenoor ons naam nie. Ons rekening hang nou aan die kruis. Jesus wat ook aan die kruis gesterf het, het daardie skuld vir ons betaal. Dit kan ook nog op ’n ander manier gestel word: Jesus het die vyandige geestelike magte en kragte totaal verslaan. Hy het behoorlik bo-oor hulle geloop. Hierdie geestelike magte kan nou net magteloos in kettings voortstrompel terwyl Jesus as die groot Wenner vooruitstap. In hierdie optog word Jesus se oorwinning aan die kruis feestelik gevier. Dit is daar vir almal om te sien.
KOLOSSENSE 2:11-15 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Omdat julle één is met Christus is julle ook besny, nie met ’n besnydenis deur mense nie, maar met die besnydenis van Christus. Hierdie besnydenis bestaan uit die wegneem van julle sondige geaardheid. Toe julle gedoop is, is julle saam met Christus begrawe. Omdat julle één is met Hom is julle ook saam met Hom opgewek. Julle geloof in die krag van God het dit moontlik gemaak – hierdie selfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het! Julle was eintlik dood omdat julle gesondig het en omdat julle sondige geaardheid nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewendig gemaak. Hy het ons al ons sondes vergewe. Hy het die dokument met voorskrifte wat as klagstaat teen ons gedien het, uitgevee en dit vir goed weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker. So het Hy die regeerders en gesagvoerders ontwapen. Hy het hulle in die openbaar bespotlik gemaak deur aan die kruis oor hulle te triomfeer.