KOLOSSENSE 2:1-23
KOLOSSENSE 2:1-23 Bybel vir almal (ABA)
Ek wil hê julle moet weet dat ek baie hard werk vir julle en vir die gelowiges in die stad Laodisea en vir al die mense wat my nog nie ontmoet het nie. Ek wil vir almal sê hulle moet aanhou om lief te wees vir mekaar en om baie seker te wees dat hulle alles weet van God se boodskap oor Christus. God wil hê julle moet vir Christus ken. God se boodskap oor Christus is 'n boodskap wat niemand voorheen geken het nie. Christus het al die kennis en wysheid, maar tot nou toe het die mense dit nie geweet nie. Ek sê dit alles vir julle, want ek wil nie hê mense moet julle bedrieg nie. Hulle vertel vir julle dinge wat reg lyk, maar wat verkeerd is. Ek is ver van julle, maar dit voel vir my of ek daar by julle is. Ek is bly om te weet dat julle lewe soos God wil hê en dat julle regtig vas glo in Christus. Julle het gehoor dat Christus Jesus die Here is, en julle glo in Hom. Nou moet julle lewe soos mense wat aan Hom behoort. Christus maak julle geloof sterk, soos 'n wortel 'n boom sterk maak en soos 'n fondament 'n huis sterk maak. En julle moet aanhou om die dinge te glo wat julle geleer het, en julle moet altyd vir God dankie sê vir alles. Julle moenie luister na die mense wat dink hulle sê slim dinge en wat vir julle dinge laat glo wat nie waar is nie. Hulle het daardie dinge by ander mense geleer, nie by Christus nie. Die dinge wat hulle sê, kom van die geeste wat dink dat hulle sterk is en oor die wêreld kan regeer. Daardie mense praat nie die waarheid nie, want Christus, die Seun wat 'n mens geword het, is ook God en Hy is so sterk soos God. Julle behoort aan Christus. Christus het julle gered, en julle is heeltemal soos Hy wil hê julle moet wees. Christus is sterker as almal en alles wat oor die wêreld wil regeer. Julle behoort aan Christus. Soos wanneer mense iemand besny, so het Hy julle lus om sonde te doen, heeltemal weggevat. Dit is wat die besnydenis van Christus is. Hy het julle besny toe julle gedoop is. Julle is gedoop, en dit beteken dat julle saam met Christus begrawe is. Dit beteken ook dat God julle saam met Christus weer laat lewe het. Dit is so, want julle glo in God, God wat sterk is en wat vir Christus weer laat lewe het. Julle het voorheen baie sondes gedoen, en daarom was julle geestelik dood. Julle was nie besny nie. Maar God het vir Christus weer laat lewe en God het ook vir julle weer laat lewe toe Hy al julle sondes vergewe het. God het ons sondes in 'n boek geskryf, want ons het nie gedoen wat sy wette sê nie. Maar God het vir Christus aan die kruis laat sterf en so het Hy ons sondes vergewe, die sondes wat Hy in sy boek geskryf het. Ja, Hy het die sondes uitgevee uit sy boek. Toe Christus aan die kruis gesterf het, het God die wapens weggevat van almal en alles wat oor die wêreld wil regeer. Hulle het sy gevangenes geword, en Hy het vir almal gewys dat hulle sy gevangenes is. Daarom moet niemand sê julle doen verkeerd wanneer julle nie dieselfde dinge eet en drink wat hulle eet en drink nie, en wanneer julle nie die feeste, die Nuwemaan-fees en die Sabbatdag vier nie. Al daardie wette en feeste was soos skaduwees, dit was minder belangrik. Dit het net gewys eendag sal die Een kom wat regtig belangrik is, dit is Christus. Daar is mense by julle wat sê hulle is nie hoogmoedig nie, maar hulle lieg. Hulle aanbid engele, hulle spog en sê God het vir hulle dinge gewys, maar dit is nie waar nie. Hulle is trots op die slegte dinge wat hulle dink. Julle moenie dink dat hulle beter weet as julle en dat julle verkeerd is nie. Hulle hou nie vas aan Christus nie. Hy is die Hoof van die kerk, en die kerk is sy liggaam. Hy hou die kerk styf vas, soos die spiere 'n mens se liggaam sterk maak en die dele van die liggaam vasbind aan mekaar. Hy maak die kerk groter en sterker. So laat God die kerk groei. Christus het gesterf. Julle het saam met Hom gesterf, en toe het julle sondige lewe opgehou. Hoekom doen julle dan nog wat die geeste wil hê, die geeste wat dink dat hulle sterk is en oor die wêreld kan regeer? Die mense van die wêreld moet reëls hê, maar julle het nie daardie reëls nodig nie. Ek bedoel die reëls wat sê: Moenie aan hierdie ding raak nie, moenie daardie ding eet nie, moenie aan daardie ding raak nie! Dit is reëls oor dinge soos kos, en kos is later op. Dit wys dit is mense se reëls, dit is soos mense wil hê julle moet doen. Daardie reëls lyk miskien vir mense reg en slim. Dit lyk of die reëls vir mense help om God te dien en om nie hoogmoedig te wees nie, en om die regte dinge te doen met hulle liggame. Maar dit is nie waar nie. Die reëls help nie regtig vir die mense nie. Die reëls help nie mense om op te hou om die slegte dinge te doen wat hulle graag doen nie.
KOLOSSENSE 2:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WANT ek wil hê dat julle moet weet wat 'n groot stryd ek oor julle het, en oor die wat in Laodicéa is en almal wat my aangesig in die vlees nie gesien het nie, dat hulle harte vertroos mag word, deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde en tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig, om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is. DIT sê ek, sodat niemand julle mag verlei met drogredes nie. Want al is ek ook na die vlees afwesig, tog is ek by julle in die gees, en ek verbly my om julle goeie orde te sien en die vastigheid van julle geloof in Christus. Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom, gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle daarin oorvloedig is in danksegging. Pas op dat niemand julle as 'n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie. Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag; in wie julle ook besny is met 'n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het. En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het. Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot 'n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat 'n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus. Laat niemand julle van jul prys beroof nie, al sou hy behae hê in nederigheid en verering van die engele en indring in wat hy nie gesien het nie, en sonder oorsaak opgeblase wees deur sy vleeslike gesindheid, en nie vashou aan die Hoof nie, uit wie die hele liggaam deur die gewrigte en verbindinge ondersteuning ontvang en saamgebind word en so met goddelike groei groot word. As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie? — almal dinge wat deur die gebruik bestem is om te vergaan — volgens die gebooie en leringe van mense, wat, alhoewel dit 'n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees.
KOLOSSENSE 2:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek wil hê julle moet weet hoe sterk ek my beywer vir julle en vir die gelowiges in Laodisea en vir al die ander wat my ook nog nie persoonlik gesien het nie. My doel daarmee is dat hulle bemoedig moet word. Hulle moet met liefde aan mekaar verbind wees en saam strewe na diep en volledige insig, sodat hulle God se geheimenis kan ken. Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind. Ek beklemtoon dit, sodat niemand julle met vals redenasies mislei nie. Al is ek nou nie persoonlik daar nie, is ek tog in die gees by julle en is ek bly om te sien dat julle die goeie orde handhaaf en dat julle geloof in Christus stewig vas staan. Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul. Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie. Dit is dinge wat berus op die oorlewering van mense, op wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie. In Hom is die volle wese van God beliggaam, en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Hy is die hoof oor elke mag en gesag. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens. Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Hom begrawe is. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam met Hom opgewek, omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het. Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer. Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie , of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus. Moenie dat iemand wat behae skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie. So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink, en hy hou nie aan die hoof, aan Christus, vas nie. Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei. Julle het saam met Christus gesterwe en is dus dood vir die wettiese godsdienstige reëls van hierdie wêreld. Waarom lewe julle dan nog asof julle aan hierdie wêreld behoort? Waarom gehoorsaam julle allerhande voorskrifte soos: “Hieraan mag jy nie vat nie!” “Daaraan mag jy jou mond nie sit nie!” “Daaraan mag jy nie raak nie!”? Dit gaan alles oor dinge wat bedoel is om gebruik te word en te vergaan, en dit is maar net gebooie en leerstellings van mense. Hierdie leerstellings het wel 'n skyn van wysheid met hulle selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam, maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie.
KOLOSSENSE 2:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek wil hê julle moet weet hoe 'n groot stryd ek het – vir julle, vir diegene in Laodisea, en vir diegene wat my nog nie van aangesig tot aangesig gesien het nie. Dit is my doel dat hulle harte, deur liefde saamgebind bemoedig mag word, en dat hulle kan kom tot die volle rykdom van allesomvattende insig, ja, tot die kennis van die misterie van God, naamlik •Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is. Dit sê ek, sodat niemand julle met slinkse argumente om die bos sal lei nie. Al is ek wel nie liggaamlik teenwoordig nie, is ek in die gees by julle, en baie bly om te sien hoe ordelik julle optree, en hoe vas julle geloof in Christus is. Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly leef in Hom; in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid. Pasop dat niemand julle meevoer deur 'n filosofie en leë bedrieëry, wat gegrond is op menslike tradisie en teorieë oor die kosmiese elemente, en nie op •Christus nie. Want in Hom woon die hele volheid van die Godheid liggaamlik. En in Hom, wat Hoof oor elke heerskappy en mag is, is julle met hierdie volheid vervul. In Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis deur mensehande nie, maar deur die besnydenis van Christus, waardeur julle sondige bestaan weggeneem is. Omdat julle in die doop saam met Hom begrawe is, is julle ook saam met Hom opgewek deur die geloof in die krag van God, wat Hom uit die dood opgewek het. Ja, toe julle dood was as gevolg van julle oortredings, en julle sondige aard nog nie weggesny was nie, het Hy julle saam met Hom lewend gemaak, deurdat Hy al ons oortredings vergewe het. Hy het die skuldbewys met sy aanklagte teen ons uitgewis en dit blywend weggeneem, toe Hy dit aan die kruis vasgespyker het. Nadat Hy hierdeur die gesagvoerders en maghebbers ontwapen het, het Hy hulle in die openbaar tot skande gemaak toe Hy hulle in sy triomftog meegevoer het. Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink, of oor 'n fees, 'n nuwemaansfees of 'n Sabbat nie. Hierdie dinge is net 'n voorafskaduwing van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus. Moenie dat iemand wat aandring op selfvernedering en die aanbidding van engele, en wat hom verdiep in visioene wat hy gesien het, julle van die prys beroof nie. As gevolg van sy sondige aard, dink hy sonder rede baie van homself, en hou nie vas aan die Hoof nie, uit wie die hele liggaam ontwikkel, ondersteun en saamgebind word deur gewrigte en spiere, met groeikrag wat van God kom. As julle saam met •Christus die kosmiese elemente afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog as deel van die wêreld leef, steeds gebonde aan voorskrifte soos: “Moenie daaraan vat of proe of raak nie”? Dit is alles dinge wat deur gebruik tot niet gaan, en gebaseer is op mensgemaakte voorskrifte en leringe. Hoewel hierdie voorskrifte met hulle selfopgelegde godsdienspligte, geveinsde nederigheid en liggaamlike kastyding, die skyn van wysheid het, is dit heeltemal nutteloos, maar dien tot bevrediging van die sondige aard.
KOLOSSENSE 2:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want ek wil hê dat julle moet weet watter groot stryd Ek het vir julle en vir hulle in Laodisea en vir almal wat my aangesig nie in die vlees gesien het nie; Sodat hulle harte vertroos kan word, saamgebonde in liefde en tot alle rykdom van die volle sekerheid van verstand, tot die erkenning van die verborgenheid van God en van die Vader en van Christus; In wie is al die skatte van wysheid en kennis verborge. En dit sê ek, dat niemand julle met verleidelike woorde mag bedrieg nie. Want al is ek afwesig in die vlees, tog is ek by julle in die gees, en verheug en aanskou julle orde en die standvastigheid van julle geloof in Christus. Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom. Gewortel en opgebou in Hom, en bevestig in die geloof, soos julle geleer is, en oorvloedig daarin met danksegging. Pasop dat niemand julle deur wysbegeerte en ydele bedrog buit, volgens die oorlewering van mense, volgens die beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie. Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik. En julle is volmaak in Hom, wat die Hoof is van alle owerheid en mag. In wie julle ook besny is met die besnydenis wat sonder hande gedoen is, deur die liggaam van die sondes van die vlees af te lê deur die besnydenis van Christus; Saam met Hom begrawe in die doop, waarin julle ook saam met Hom opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het. En julle, wat dood was deur julle sondes en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle alle oortredinge vergewe het; Deur die handskrif van insettinge wat teen ons was, uit te vee, en dit uit die weg geruim deur dit aan sy kruis vas te spyker; En nadat hy owerhede en magte geplunder het, het hy hulle in die openbaar vertoon en daarin oor hulle getriomfeer. Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot 'n feesdag of nuwemaan of sabbat nie. Wat 'n skaduwee is van toekomstige dinge; maar die liggaam is van Christus. Laat niemand julle verlei oor julle beloning deur vrywillige nederigheid en aanbidding van engele, wat inbreuk maak op die dinge wat hy nie gesien het nie, tevergeefs opgeblase deur sy vleeslike verstand, En om die Hoof nie vas te hou nie, waaruit die hele liggaam deur gewrigte en bande met voeding bedien en saamgebind is, vermeerder met die vermeerdering van God. As julle dan saam met Christus gesterf het uit die beginsels van die wêreld, waarom is julle, asof julle in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge, (Raak nie aan; proe nie; hanteer nie; Wat almal sal vergaan met die gebruik;) volgens die gebooie en leringe van mense? Watter dinge het wel 'n blyk van wysheid in wilsaanbidding en nederigheid en verwaarlosing van die liggaam; nie in enige eer tot versadiging van die vlees nie.
KOLOSSENSE 2:1-23 Die Boodskap (DB)
Ek wil hê julle moet weet hoe ek my vir julle inspan. Dit is of ek in ’n hewige geveg ter wille van julle en die Laodiseërs gewikkel is; selfs ook vir hulle wat ek nog nie persoonlik ontmoet het nie. So wil ek hulle bemoedig. Hulle moet besef dat ons deur die drade van liefde aan mekaar vasgeweef is. Hulle het die geheim van God, naamlik Jesus, leer ken. Dit het hulle ryk laat voel. Skatte word in ’n skatkis gebêre. Om die goddelike dinge te ken en te verstaan hoe dit werk, is vir Christene soos sulke waardevolle skatte. Dit is in Jesus opgesluit en kan net by Hom gekry word. Ek beklemtoon dit sodat niemand julle op ’n verkeerde spoor kan lei met redenasies wat slim mag klink, maar eintlik van leuens deurtrek is nie. Ek is dalk wel nie persoonlik daar by julle nie, maar in my gees is ek tog saam met julle. Ek praat dus nie sommer as ek sê dat ek baie bly is oor die ordelike en stylvolle manier waarop julle dinge doen nie. Ek is net so bly daaroor dat julle nie ’n duim toegee nie, maar rotsvas bly staan wanneer dit kom by wat julle oor Jesus glo. Julle het Jesus Christus as Here erken en aanvaar. Tree nou op soos mense wat Hom regtig as Here ken. Julle verhouding met Hom moet so heg en intiem wees soos die band tussen ’n boom en die aarde waaruit dit groei. Soos ’n huis wat op ’n sterk fondament gebou word, moet julle julle lewe op Jesus bou. Staan onwrikbaar vas in dit wat julle glo, soos julle geleer is. Doen dit terwyl julle gedurig vir God dankie sê en Hom eer. Wees baie versigtig dat niemand julle in die verkeerde rigting lei nie. Sulke mense gebruik allerhande teorieë en argumente wat slim klink, maar eintlik is dit net ’n leë klomp bedrog. Baie van hierdie idees het die mense sommer self uitgedink. Die een vertel dit vir die volgende een en later glo almal dit. Die res kom van die onsigbare magte af wat in die wêreld aan die werk is. Nie een van dié idees stem ooreen met wat Christus sou sê nie. By en in Christus is God ten volle en altyd teenwoordig, ook toe Hy mens geword het. Omdat julle in ’n hegte verhouding met Hom staan, kry julle weer by Hom alles wat julle op geestelike gebied nodig mag hê. Hy sorg dat julle niks kortkom nie. Hy is mos die Een wat mag uitoefen oor alle magte, ook oor die geestelike magte. Maar wat kry julle alles by Hom? Wat gee Hy aan julle sodat julle niks kortkom nie? Hy gee aan julle die besnydenis op grond van julle verhouding met Hom. Daar moet egter mooi verstaan word wat hier met besnydenis bedoel word. Iets word finaal en vir altyd van jou liggaam afgesny. Dit gaan hier egter nie om die gewone liggaamlike besnydenis wat deur mense gedoen word nie. Nee, hierdie besnydenis kan Christus alleen doen. Die besnydenis soos Christus dit doen, neem die sondige, menslike natuur van die gelowige finaal en vir ewig van hom af weg. Toe julle gedoop is, het daar ’n geestelike begrafnis plaasgevind: geestelik is julle saam met Christus begrawe. Dit het nie vir julle die einde beteken nie, maar dit was eintlik vir julle ’n nuwe begin. God het Christus immers uit die dood en die graf laat opstaan. Saam met Christus is elkeen wat aan Hom behoort ook soos Christus opgewek, deurdat julle nie daaraan twyfel nie, maar vas glo dat God die krag het om dit te doen. Julle was mos eers geestelik dood. Almal kon dit sien uit alles wat julle verkeerd gedoen het. In daardie stadium het Christus nog nie van julle sondige natuur ontslae geraak nie. Julle was geestelik nog nie besny nie. Toe verander dinge! Soos God Jesus lewendig gemaak het, het Hy julle saam met Hom lewe gegee. “Maar wat van alles wat ons verkeerd gedoen het?” kan julle vra. Wel, genadiglik hou God niks meer teen ons nie. Wat gebeur het, kan ook so gestel word: ons elkeen het ’n rekening van al ons sonde en ’n rekening moet ’n mens mos betaal. Wat met ons moes gebeur oor al die skuld is uiters slegte nuus vir ons. God het egter hierdie rekening met al ons skuld uit ons hande kom vat. Nou staan die skuld nie meer teenoor ons naam nie. Ons rekening hang nou aan die kruis. Jesus wat ook aan die kruis gesterf het, het daardie skuld vir ons betaal. Dit kan ook nog op ’n ander manier gestel word: Jesus het die vyandige geestelike magte en kragte totaal verslaan. Hy het behoorlik bo-oor hulle geloop. Hierdie geestelike magte kan nou net magteloos in kettings voortstrompel terwyl Jesus as die groot Wenner vooruitstap. In hierdie optog word Jesus se oorwinning aan die kruis feestelik gevier. Dit is daar vir almal om te sien. Julle moet julle ook nie steur aan mense wat met dik reëlboeke na julle toe kom en vir julle voorlees hoe godsdienstige mense eintlik moet leef nie. Hulle sal julle presies wil vertel wat julle mag eet of drink en wat nie; om nie eens te praat van die berg voorskrifte vir die feeste wat julle deur die jaar moet vier nie. En dan is daar die sabbat! Ai, hulle sal julle tot in die fynste besonderhede wil voorskryf hoe julle die sabbat moet vier. Sê nou jou beste vriend kom na jou toe, wat sal jy omhels, sy skaduwee of vir hom? Natuurlik vir hom. Dan sal julle verstaan wat ek bedoel as ek sê: die klomp feeste en kos wat vir hierdie mense so heilig is, is maar ’n skaduwee van die Een wat regtig heilig is. Omhels Christus daarom liewer; Hy is immers die inhoud van julle godsdiens. Omdat Hy daar is, is julle godsdiens mos daar. Julle sal ook mense teëkom wat kamma vreeslik nederig leef. Hulle sal julle probeer oortuig dat dit is hoe godsdiens moet wees. Hulle sal ook allerhande engele aanbid en gedurig spog met hulle geestelike ervarings of die gesigte wat hulle al gesien het. Dit laat hulle kamma so godsdienstig en so trots op hulleself voel. Ignoreer hulle. Moenie eens na ’n woord luister wat hulle sê nie. As hulle dink hulle weet wat godsdiens regtig is, slaan hulle die bal ver mis. Hulle weet nie wat die regte godsdiens is nie, want hulle ken nie die Een om wie alle godsdiens draai nie. ’n Liggaam kan nie sonder ’n kop nie; net so kan ware gelowiges nie sonder Christus nie. Christus is die kop van die liggaam, die kerk. Hy gee alles aan die kerk wat dit nodig het om te groei. God self sien ook om na hierdie liggaam om seker te maak dat dit groei soos dit moet. Ek wil julle ’n vraag vra. Julle sê dat toe julle Christene geword het, al hierdie vals en leë godsdienstige reëls hulle betekenis vir julle verloor het. Soos dit vir Christus niks beteken nie, so beteken dit ook vir julle niks meer nie. Waarom wil julle dan kort-kort maar weer kerk hou asof daardie godsdienstige gebruike die eintlike godsdiens is? In die beeld van vroeër: Waarom wil julle aanhoudend die skaduwee in plaas van die persoon omhels? Julle raak vreeslik ernstig daaroor dat ’n Christen nie sekere dinge mag eet of aan ander dinge mag vat nie. Dit lyk amper of julle dink God self is in hierdie aardse dinge vasgevang. Intussen het bloot gewone mense al die reëls en idees uitgedink en dit “godsdiens” genoem. Daardie kos wat kamma so heilig of onheilig is dat julle dit nie eens mag eet nie, lê môre vrot op die ashoop. ’n Mens moet toegee, al hierdie godsdienstige dinge lyk op die oog af baie slim en indrukwekkend, al het mense dit uitgedink. Kyk net hoe nederig hou hulle hulle en hoe swaar kry hulle ter wille van dit waarin hulle glo. Tog maak dit nie van hulle beter mense nie. Hulle bly nog maar sondaars.
KOLOSSENSE 2:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek wil hê julle moet weet hoe hard ek stry – vir julle, vir die gelowiges in Laodisea en vir al die ander gelowiges wat my nog nie persoonlik ontmoet het nie. Dit is my doel dat hulle moed sal skep en deur liefde aan mekaar verbind sal wees. Ek wil hê dat hulle insig skatryk en oorvloedig sal wees, ja, dat hulle God se geheim heeltemal moet ken, naamlik: Christus. In die eenheidsband met Christus is al die geheime skatte van wysheid en kennis te vind. Ek skryf dit vir julle sodat niemand julle met mooipraatjies om die bos kan lei nie. Al is ek nie persoonlik teenwoordig nie, is ek in die gees by julle. Ek is bly om te sien hoe ordelik julle is en hoe vas julle geloof in Jesus Christus is. Noudat julle Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle lewe soos mense wat aan Hom verbonde is. Bly in Christus geanker en bou op Hom, standvastig in die geloof soos julle geleer is, en loop oor van dankbaarheid. Wees op julle hoede en laat niemand julle op sleeptou neem met ’n leë, misleidende filosofie wat wel rekening hou met menslike tradisie en met wêreldse magte, maar nie met Christus nie. Die volheid van God is mos liggaamlik in Christus teenwoordig. En omdat julle één is met Christus deel julle in sy volheid – Hy wat die hoof is van elke heerskappy en gesag. Omdat julle één is met Christus is julle ook besny, nie met ’n besnydenis deur mense nie, maar met die besnydenis van Christus. Hierdie besnydenis bestaan uit die wegneem van julle sondige geaardheid. Toe julle gedoop is, is julle saam met Christus begrawe. Omdat julle één is met Hom is julle ook saam met Hom opgewek. Julle geloof in die krag van God het dit moontlik gemaak – hierdie selfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het! Julle was eintlik dood omdat julle gesondig het en omdat julle sondige geaardheid nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewendig gemaak. Hy het ons al ons sondes vergewe. Hy het die dokument met voorskrifte wat as klagstaat teen ons gedien het, uitgevee en dit vir goed weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker. So het Hy die regeerders en gesagvoerders ontwapen. Hy het hulle in die openbaar bespotlik gemaak deur aan die kruis oor hulle te triomfeer. Moet dus nie toelaat dat enigiemand julle veroordeel oor wat julle eet of drink, of oor die vier van sekere feesdae of die Nuwemaanfees of Sabbatte nie. Al hierdie dinge is net ’n skaduwee van wat sou kom. Die ware werklikheid is Christus! Laat niemand wat aandring op selfvernedering en engelverering – en dit met ’n beroep op visioene! – julle op sleeptou neem nie. Verniet dink hierdie mense, tipies van hulle sondige geaardheid, baie van hulleself. Hulle is nie aan die hoof verbind uit wie die hele liggaam groei nie. Vanuit die hoof groei die hele liggaam, ondersteun en saamgebind deur gewrigte en spiere. Gód laat dit groei! Aangesien julle, deur saam met Christus te sterf, die bose wêreldse magte afgesterf het, waarom leef julle nog volgens wêreldse voorskrifte soos: “moenie vat nie”, “moenie dit eet nie” en “moenie aanraak nie”? Dit is alles dinge wat verbruik word en vergaan – soos dit gaan met mensgemaakte voorskrifte en leringe. Met hulle selfuitgedinkte godsdienstige toewyding, selfvernedering en streng liggaamlike dissipline het hierdie voorskrifte nogal die reputasie dat hulle wysheid bevat. Inderwaarheid is hulle nutteloos vir die beheer van die sondige geaardheid.