AMOS 7:1-10

AMOS 7:1-10 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir my gewys wat Hy wil doen. Hy het baie sprinkane gemaak. Dit was nadat die mense die gras afgesny het vir die koning se perde. Die gras het weer begin groei en dit het groen geword. Die sprinkane het al die groen plante in die land begin opvreet. Ek sê toe: “Here, vergewe hulle asseblief! Die Israeliete is min, hulle sal nie kan aanhou lewe nie.” Die Here het toe besluit om nie die sprinkane te maak nie. Hy het gesê: “Dit sal nie gebeur nie.” Die Here het vir my gewys wat Hy wil doen. Hy het 'n vuur laat brand om die Israeliete te straf. Die vuur het die see droog gebrand en dit het begin om die land ook te verbrand. Toe sê ek: “Here, stop die vuur asseblief! Die Israeliete is min, hulle sal nie kan aanhou lewe nie.” Die Here het toe besluit om nie die vuur te laat brand nie. Hy het gesê: “Dit sal nie gebeur nie.” Die Here het vir my gewys wat Hy wil doen. Hy het by 'n regop muur gestaan en daar was 'n skietlood in sy hand. Hy het vir my gevra: “Amos, wat sien jy?” Ek het gesê: “Ek sien 'n skietlood.” Toe het die Here gesê: “Ek sal nou met my volk, die Israeliete, doen soos 'n mens doen met 'n muur wat nie regop is nie. Ek sal nie weer hulle sonde vergewe nie. Ek sal die offer-plekke afbreek wat die Israeliete gebou het, Ek sal hulle tempels afbreek. Ek sal koning Jerobeam se nageslag in 'n oorlog laat sterf.” Amasia was die priester van Bet-El. Hy het vir koning Jerobeam van Israel 'n boodskap gestuur en gesê: “Amos maak slegte planne teen jou. Wat hy sê, is gevaarlik vir die land.

AMOS 7:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Dit het my Heer, die HERE, my laat sien: Kyk, Hy was besig om sprinkaanswerms te vorm net toe die saad in die lente begin opkom. En onthou, dit kom net ná die koning se hooi gemaak is. Toe hulle die groenigheid van die land afgevreet het, sê ek: “My Heer, HERE – vergeef tog! Hoe sal Jakob kan bly staan? Want hy is klein.” Die HERE het berou daaroor gehad. “Dit sal nie gebeur nie,” het die HERE gesê. Dit het my Heer, die HERE, my laat sien: Kyk, my Heer, die HERE, was gereed om 'n regstryd deur vuur aan te kondig. Dit het die groot oerwater laat opdroog, en sou die bewerkbare grond verteer. Ek sê toe: “My Heer, HERE – hou tog op! Hoe sal Jakob kan bly staan? Want hy is klein.” Die HERE het berou daaroor gehad. “Ook dit sal nie gebeur nie,” het my Heer, die HERE, gesê. Dit het Hy my laat sien: Kyk, my Heer het gestaan by 'n loodregte muur. In sy hand was daar 'n skietlood. Toe sê die HERE vir my: “Wat sien jy, Amos?” Ek het geantwoord: “'n Skietlood.” My Heer sê toe vir my: “Kyk, Ek gaan die skietlood aanlê in die midde van my volk Israel. Ek sal nie weer by hom verbygaan nie. “Die offerhoogtes van Isak sal verwoes word, en die heiligdomme van Israel sal puinhope wees. Ek gaan teen die huis van Jerobeam optree met die swaard.” Amasia, die priester van Bet-El, het toe vir Jerobeam, die koning van Israel, laat weet: “Amos het teen u 'n komplot gesmee binne die huis van Israel. Die land sal dit nie kan uithou onder al sy woorde nie

AMOS 7:1-10 Die Boodskap (DB)

Die Here het my in ’n gesig ’n swerm sprinkane laat sien. Die gras vir die koning se perde was net mooi afgesny en die eerste grassies het weer begin uitspruit. Die swerm sprinkane het op die gras toegesak. Toe ek sien dat hulle al die nuwe gras gaan wegvreet, het ek gesê: “Here, moet asseblief nie so hard wees nie. Jakob is mos maar klein en swak. Hoe sal hulle na so iets nog kan bly leef?” Die Here het hulle toe jammer gekry. Hy het gesê: “Ek sal dit nie met hulle laat gebeur nie.” Die Here het my in ’n gesig laat sien hoe Hy ’n skroeiende vuur gebruik om sy volk mee te straf. Dit het eers die onderaardse water laat opdroog. Toe dit ook die grond begin wegbrand, het ek by die Here gepleit: “Hou asseblief tog op. Hoe sal die swak en nietige Jakob na so iets nog kan bly leef?” Die Here het toe sy plan verander. Hy het gesê: “Ek sal dit nie laat gebeur nie.” Die Here het my in ’n gesig laat sien waar Hy by ’n muur staan. Hy het ’n maatband in sy hand gehou. Die Here vra toe vir my: “Amos, wat sien jy, wat het Ek hier in my hand?” Ek antwoord toe: “’n Maatband waarmee ’n mens meet of alles volgens die planne gebou is.” Die Here sê toe: “Ek gaan hierdie maatband gebruik om my volk Israel te meet. Ek gaan dit nie verder verdra dat hulle so verkeerd leef nie. Die plekke wat Isak gebou het om op te offer, gaan afgebreek word. Van die aanbiddingsplekke wat Israel vir my gebou het, gaan daar net murasies oorbly. Ek gaan oorlog laat uitbreek teen die huis van koning Jerobeam.” Toe Amasia, die priester van die plek van aanbidding by Bet-El, hoor wat Amos sê, het hy vir Jerobeam, die koning van Israel, ’n boodskap gestuur: “Amos is besig om ’n opstand teen u in Israel te organiseer. Die land kan nie sulke dinge laat gebeur nie.

AMOS 7:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die oppermagtige HERE het my ’n visioen laat sien. Ek het gesien dat Hy besig was om ’n swerm sprinkane gereed te maak. Dit was net toe die graan weer begin opkom het nadat die koning se deel afgeoes was. Ek het gesien hoe die sprinkane alles wat groen was, afgevreet het. Toe het ek gesê: “Oppermagtige HERE, vergewe ons tog, asseblief! Israel is maar ’n klein volkie en sal nie oorleef as U nie vergewe nie.” Die HERE het hulle jammer gekry en gesê: “Ek sal dit nie laat gebeur nie.” Die oppermagtige HERE het my weer ’n visioen laat sien. Ek het gesien dat Hy sy volk wou straf deur ’n groot vuur te stuur. Die vuur het eers die diep onderaardse water laat opdroog en was besig om die hele land te verteer. Toe het ek gesê: “Oppermagtige HERE, moet dit asseblief nie doen nie. Israel is maar ’n klein volkie en sal dit nie oorleef nie.” Die oppermagtige HERE het weer vir hulle jammer gevoel en gesê: “Ek sal dit ook nie laat gebeur nie.” Ek het nog ’n visioen gesien. Die Here het by ’n loodregte muur gestaan met ’n skietlood in sy hand. Die HERE vra toe vir my: “Wat sien jy, Amos?” Ek het geantwoord: “’n Skietlood.” Toe sê die Here: “Ek gaan my volk Israel met ’n skietlood toets. Ek gaan hulle verkeerde optrede nie meer oorsien nie. Ek gaan die aanbiddingsplekke wat Isak opgerig het en die heiligdomme van Israel vernietig. Ek gaan oorlog laat uitbreek teen die koningshuis van Jerobeam.” Amasia was ’n priester in Bet-El. Toe hy hoor wat Amos sê, het hy vir Jerobeam, die koning van Israel, ’n boodskap gestuur: “Amos is besig om ’n komplot teen Israel te smee. Al hierdie dinge wat hy sê, sal die land net skade aandoen.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid