Amos 7

7
1 Dit het my Heer, die Here, my laat sien: Kyk, Hy was besig om sprinkaanswerms te vorm net toe die saad in die lente begin opkom. En onthou, dit kom net ná die koning se hooi gemaak is.
2 Toe hulle die groenigheid van die land afgevreet het, sê ek: “My Heer, Here – vergeef tog! Hoe sal Jakob kan bly staan? Want hy is klein.”
3 Die Here het berou daaroor gehad.
“Dit sal nie gebeur nie,”
het die Here gesê.
4 Dit het my Heer, die Here, my laat sien: Kyk, my Heer, die Here, was gereed om 'n regstryd deur vuur aan te kondig. Dit het die groot oerwater laat opdroog, en sou die bewerkbare grond verteer.
5 Ek sê toe: “My Heer, Here – hou tog op! Hoe sal Jakob kan bly staan? Want hy is klein.”
6 Die Here het berou daaroor gehad.
“Ook dit sal nie gebeur nie,”
het my Heer, die Here, gesê.
7 Dit het Hy my laat sien: Kyk, my Heer het gestaan by 'n loodregte muur. In sy hand was daar 'n skietlood.
8 Toe sê die Here vir my: “Wat sien jy, Amos?” Ek het geantwoord: “'n Skietlood.” My Heer sê toe vir my: “Kyk, Ek gaan die skietlood aanlê in die midde van my volk Israel. Ek sal nie weer by hom verbygaan nie.
9 “Die offerhoogtes van Isak
sal verwoes word,
en die heiligdomme van Israel
sal puinhope wees.
Ek gaan teen die huis van Jerobeam
optree met die swaard.”
10 Amasia, die priester van Bet-El, het toe vir Jerobeam, die koning van Israel, laat weet: “Amos het teen u 'n komplot gesmee binne die huis van Israel. Die land sal dit nie kan uithou onder al sy woorde nie; 11 want dit is wat Amos sê,
‘Deur die swaard
sal Jerobeam sterf,
en Israel sal beslis
in ballingskap gaan,
weg van sy grondgebied af.’ ”
12 Amasia sê toe vir Amos: “Siener, trap! Vlug vir jou eie beswil na die land van Juda; gaan verdien daar jou brood en profeteer daar. 13 In Bet-El mag jy nie meer verder profeteer nie, want dit is die koning se heiligdom; dit is 'n tempel van die koninkryk.”
14 Amos het geantwoord en vir Amasia gesê: “Ek is nie 'n beroepsprofeet nie en ook nie lid van 'n profetegroep nie; maar ek is 'n veewagter en ek prik wildevye. 15 Die Here het my agter die kleinvee weggevat en die Here het vir my gesê, ‘Gaan profeteer vir my volk Israel!’ 16 Hoor dan nou die woord van die Here:
“Jy sê,
“ ‘Jy mag nie teen Israel
profeteer nie,
en jy mag nie teen die huis van Isak
driftig preek nie.’
17 “Daarom, so sê die Here,
“ ‘Jou vrou sal in die stad hoereer,
en deur die swaard
sal jou seuns en dogters val.
Jou grond sal met 'n maatlyn
opgedeel word,
en jy self sal op •onrein grond sterf.
En Israel sal beslis in ballingskap gaan,
weg van sy grondgebied af.’ ”

Tans Gekies:

Amos 7: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid