AMOS 7:1-10

AMOS 7:1-10 AFR83

Die Here God het my 'n gesig laat sien: Hy was besig om 'n sprinkaanswerm te vorm toe die gras weer begin uitspruit het nadat die koning se hooi af was. Die sprinkane sou al die groenigheid in die land afvreet, en ek het gesê: “Here my God, vergewe tog vir Jakob! Hoe sal hy staande bly? Hy is klein!” Die Here het toe van sy voorneme afgesien, Hy het gesê: Dit sal nie gebeur nie. Die Here my God het my 'n gesig laat sien: Hy het 'n vuur opgeroep tot straf, en die vuur het die groot watervloed laat opdroog en dit sou ook die bewerkte grond verteer het. Maar ek het gesê: “Here my God, hou tog op! Hoe sal Jakob staande bly? Hy is klein!” Die Here my God het toe van sy voorneme afgesien, Hy het gesê: Ook dit sal nie gebeur nie. Hy het my 'n gesig laat sien: Die Here het by 'n loodregte muur gestaan, en daar was 'n skietlood in sy hand. Hy het vir my gevra: Wat sien jy, Amos? en ek het gesê: “'n Skietlood.” Toe sê die Here vir my: Ek gaan 'n skietlood aanlê in my volk Israel, Ek gaan hom nie meer spaar nie. Die hoogtes van Isak sal verwoes word, die heiligdomme van Israel sal in puin gelê word, en Ek sal met die swaard optree teen die koningshuis van Jerobeam. Die priester Amasia van Bet-El het vir koning Jerobeam van Israel laat weet: “Amos is besig om hier in Israel 'n komplot teen u te smee. Die land kan dit nie uithou met alles wat hy sê nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor AMOS 7:1-10

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid