HANDELINGE 8:5-17

HANDELINGE 8:5-17 Bybel vir almal (ABA)

Filippus het na 'n stad in die provinsie Samaria gegaan. Hy het vir die mense die boodskap oor Christus gebring. Toe die mense hoor wat hy preek, en toe hulle die tekens sien wat hy doen, het hulle almal saam goed geluister na die dinge wat Filippus gesê het. Baie mense het onrein geeste in hulle gehad, en die geeste het hard geskree wanneer hulle uit die mense uitgaan. En baie mense wat lam en kreupel was, het gesond geword. Die mense van daardie stad was baie bly. Daar het 'n man in die stad gewoon, sy naam was Simon. Hy kon toor en die mense van Samaria het gedink hy doen wonderlike dinge. Simon het self gesê dat hy baie belangrik is. Al die mense, die kinders en die grootmense, het ook gedink dat hy baie belangrik is. Hulle het gesê: “Hierdie man is die Krag van God, die mense noem hom ‘Die Groot Krag van God.’ ” Hulle het gedink dat Simon baie belangrik is omdat hy 'n lang tyd getoor het en die mense het gedink dat dit wonderlik is. Maar toe het Filippus gekom en hy het die goeie boodskap gebring dat God Koning is, die boodskap oor die Naam van Jesus Christus. Toe het die mense vir Filippus begin glo, en hulle is gedoop, die mans én die vroue. Simon het self ook begin glo. Nadat hy gedoop is, het hy die hele tyd by Filippus gebly. Hy het die tekens en wonderwerke gesien wat gebeur het, en hy was baie verbaas. Die apostels in Jerusalem het gehoor dat die mense in Samaria die boodskap van God aanvaar het. Hulle het toe vir Petrus en Johannes na Samaria gestuur. Petrus en Johannes het gegaan en hulle het gebid dat die mense die Heilige Gees kan kry. Want die Heilige Gees het toe nog nie in een van hulle gekom nie. Hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus. Petrus en Johannes het toe hulle hande op die mense gesit, en die mense het die Heilige Gees gekry.

HANDELINGE 8:5-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En Filippus het afgekom in 'n stad van Samaría en Christus aan hulle verkondig. En die skare het eendragtig ag gegee op die woorde van Filippus toe hulle dit hoor en die tekens sien wat hy doen. Want uit baie van die wat onreine geeste gehad het, het die geeste uitgegaan terwyl hulle met 'n groot stem skreeu; en baie wat lam en kreupel was, het gesond geword. En daar was groot blydskap in daardie stad. En 'n sekere man met die naam van Simon het vantevore in die stad met towery omgegaan en die bevolking van Samaría verbyster deur te sê dat hy iets besonders was. En almal, klein en groot, het hom aangehang en gesê: Hy is die groot krag van God. En hulle het hom aangehang, omdat hy hulle 'n geruime tyd deur sy towerye verbyster het. Maar toe hulle Filippus geglo het, wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue. En Simon het ook self gelowig geword, en nadat hy gedoop was, gedurig by Filippus gebly; en hy was verbaas toe hy die tekens en groot kragte sien gebeur. En toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaría die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur. Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus. Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

HANDELINGE 8:5-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

So het dit gebeur dat Filippus by 'n stad in Samaria gekom het en Christus daar verkondig het. Toe die mense hoor wat Filippus verkondig en die wonders sien wat hy doen, het hulle aandagtig na sy prediking geluister. Onrein geeste het met groot geskreeu uit baie mense uitgegaan, en baie wat verlam en kreupel was, is gesond gemaak. Daar was groot blydskap in daardie stad. In dieselfde stad was daar 'n man met die naam Simon, wat die inwoners van Samaria met sy toorkunste verstom het. Hy het daarop aanspraak gemaak dat hy iets besonders is, en almal, klein en groot, het hom aangehang. Hulle het gesê: “Hy is wat ons ‘Die Groot Krag van God’ noem.” Hy het 'n aanhang onder hulle gekry omdat hy hulle oor 'n lang tydperk met sy toorkunste verstom het. Maar toe Filippus die evangelie van die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus aan hulle verkondig het, het hulle gelowig geword, en mans sowel as vrouens is gedoop. Selfs Simon het gelowig geword. Hy is gedoop en het Filippus oral vergesel. Hy was verstom oor die groot tekens en kragte wat hy sien gebeur het. Toe die apostels in Jerusalem hoor dat die mense in Samaria die woord van God aanvaar het, het hulle vir Petrus en Johannes daarheen gestuur. Dié het toe gegaan en vir die mense daar gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, want die Gees het nog nie op een van hulle gekom nie; hulle was net in die Naam van die Here Jesus gedoop. Die apostels het hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

HANDELINGE 8:5-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

En Filippus het na 'n stad in Samaria gegaan en die Christus aan hulle verkondig. Toe die skare Filippus se woorde hoor en die tekens sien wat hy doen, het hulle eenparig aandag gegee aan wat hy sê. Want die •onrein geeste in baie mense het met 'n groot geskreeu uit hulle uitgegaan, en talle verlamdes en kreupeles is genees. En daar het groot vreugde in daardie stad geheers. Voorheen was daar in die stad 'n man met die naam Simon, wat towery bedryf en die bevolking van Samaria verstom het, en beweer het dat hy iets besonders is. En almal, klein en groot, het hom aangehang en gesê: “Hy is die krag van God, bekend as die Groot Krag.” Hulle het hom aangehang, omdat hy hulle al vir 'n geruime tyd met sy magiese kunste verbyster het. Maar toe hulle Filippus se verkondiging van die evangelie van die •koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus glo, is mans sowel as vroue gedoop. Simon self het ook tot geloof gekom, en nadat hy gedoop is, het hy heeltyd by Filippus gebly, en was verbaas om die tekens en kragtige dade te sien gebeur. Toe die •apostels in Jerusalem hoor dat Samaria die woord van God aangeneem het, het hulle •Petrus en Johannes daarheen gestuur. Hulle het gegaan en vir hulle gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, want Hy het toe nog op niemand van hulle neergedaal nie; hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus. Hierna het die apostels hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

HANDELINGE 8:5-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe het Filippus afgegaan na die stad Samaria en Christus aan hulle verkondig. En die volk het eendragtig ag gegee op die dinge wat Filippus gespreek het, toe hulle gehoor en die wonderwerke gesien het wat hy gedoen het. Want onrein geeste het uit baie wat met hulle beset was, uitgekom wat met groot stem geroep het, en baie wat verlam was en kreupel was, is genees. En daar was groot blydskap in daardie stad. Maar daar was 'n sekere man met die naam van Simon, wat voorheen in dieselfde stad towery gebruik het en die mense van Samaria betower het deur te sê dat hy 'n groot man was. Op wie almal ag geslaan het, van die kleinste tot die grootste, en gesê: Hierdie man is die groot krag van God. En hulle het na hom gekyk, omdat hy hulle lankal met towerye betower het. Maar toe hulle Filippus geglo het wat die dinge verkondig aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus, is hulle gedoop, mans sowel as vroue. Toe het Simon self ook geglo, en toe hy gedoop is, het hy by Filippus gebly en hom verwonder toe hy die wonders en tekens aanskou wat gebeur het. En toe die apostels wat in Jerusalem was, hoor dat Samaria die woord van God ontvang het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur: wat, toe hulle afgekom het, vir hulle gebid het dat hulle die Heilige Gees mag ontvang. (Want nog het Hy op niemand van hulle geval nie; net hulle is gedoop in die Naam van die Here Jesus.) Toe het hulle hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

HANDELINGE 8:5-17 Die Boodskap (DB)

Filippus, een van die sewe mans wat vroeër gehelp het om die armes in Jerusalem te versorg, het by ’n stad in Samaria aangekom en dadelik met hulle oor Jesus begin praat. Sy kragtige preke en wonderwerke het gou die inwoners se aandag getrek. Almal het na hom kom luister toe hulle sien hoe hy verlamdes en kreupeles gesond laat word en bose geeste uit baie mense verdryf. Hulle het met hulle eie ore gehoor hoe die bose magte aan die skree gaan as hulle uitgedryf word. Gou-gou was daar sommer groot opgewondenheid in die stad oor al die wonderlike dinge wat Filippus gedoen het. Daar het ook ’n towenaar in die stad gebly met die naam Simon. ’n Lang tyd al het hy die inwoners in vervoering gehad met sy towery. Simon het vir hulle vertel dat hy ’n baie magtige man is wat oor besondere kragte beskik. Oud en jonk het kort voor lank geglo hy is ’n god. Oral waar hulle hom op straat sien loop het, het hulle vir mekaar gesê: “Kyk, daar is daardie groot kragman van God.” Almal het Simon op die hande gedra. Filippus het alles kom verander. Toe hy met die mense begin praat oor God se nuwe wêreld wat met Jesus se koms aangebreek het, het baie mense tot bekering gekom. Filippus moes omtrent bontstaan om almal te doop wat in Jesus begin glo het. Selfs Simon het tot geloof gekom en hom laat doop. Hy het oral agter Filippus aangestap, stom van verbasing oor al die groot dinge wat hy gedoen het. Die apostels in Jerusalem het intussen gehoor dat God besig was om mense oral in Samaria met sy goedheid aan te raak. Hulle het vir Petrus en Johannes soontoe gestuur. Hulle twee moes gaan bid dat hierdie mense ook die krag van die Heilige Gees in hulle lewe ontvang, want op daardie tydstip was hulle nog nie met sy krag vervul nie. Hulle was nog net in die Naam van die Here Jesus gedoop. Toe die apostels daar aankom, het hulle hulle hande op die mense geplaas en vir hulle gebid. Dadelik het die krag van die Gees toe oor hulle almal gekom.

HANDELINGE 8:5-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Filippus het byvoorbeeld na die stad Samaria gegaan en hulle van Christus vertel. Toe die mense hoor wat Filippus verkondig en die wonders sien wat hy doen, het hulle aandagtig na sy boodskap geluister. Onrein geeste het met groot geskreeu uit baie mense uitgegaan, en baie wat verlam en kreupel was, is gesond gemaak. Daar was groot blydskap in daardie stad. In dié stad het ’n man met die naam Simon al vir jare lank die inwoners met sy toorkunste beïndruk. Hy het daarop aanspraak gemaak dat hy iemand besonders was. Almal, van die geringstes tot die belangrikstes, het na hom verwys as: “Die Grote, die Krag van God.” Hulle het hom baie ernstig opgeneem, juis vanweë sy toorkunste. Nou het die mense egter Filippus se Goeie Nuus oor die koningsheerskappy van God en die Naam van Jesus Christus in die geloof aanvaar. Gevolglik is baie mans en vroue gedoop. Selfs Simon het gelowig geword, en is gedoop. Hy het Filippus oral begin vergesel, en hy was verstom oor die wondertekens en groot kragte wat hy sien gebeur het. Toe die apostels in Jerusalem hoor dat die mense in Samaria die boodskap van God aanvaar het, het hulle Petrus en Johannes daarheen afgevaardig. Toe hulle daar aankom, het hulle vir die nuwe gelowiges gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang. Want die Heilige Gees het immers nog nie op een van hulle gekom nie, want hulle was net in die Naam van die Here Jesus gedoop. Petrus en Johannes het toe hulle hande op hierdie gelowiges gesit, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid