Handelinge 8

8
1Saulus het gedink dit is reg dat hulle vir Stefanus vermoor het.
Die Jode en Saulus doen slegte dinge aan die kerk
Op daardie dag het die Joodse leiers begin om baie slegte dinge te doen aan die kerk in Jerusalem. Al die gelowiges het gevlug na plekke in Judea en Samaria. Maar die apostels het in Jerusalem gebly. 2Daar was manne wat lief was vir die Here en wat Hom gedien het soos Hy wil hê. Hierdie manne het vir Stefanus begrawe. En hulle het baie gehuil en getreur oor hom.
3Saulus het probeer om die gemeente dood te maak. Hy het in die huise ingegaan en hy het mans en vroue weggesleep en in die tronk gegooi.
Die gelowiges en apostels bring die goeie boodskap in Samaria
4Die gelowiges wat gevlug het, het oral die goeie boodskap gebring. 5Filippus het na 'n stad in die provinsie Samaria gegaan. Hy het vir die mense die boodskap oor Christus gebring. 6Toe die mense hoor wat hy preek, en toe hulle die tekens sien wat hy doen, het hulle almal saam goed geluister na die dinge wat Filippus gesê het. 7Baie mense het onrein geeste in hulle gehad, en die geeste het hard geskree wanneer hulle uit die mense uitgaan. En baie mense wat lam en kreupel was, het gesond geword. 8Die mense van daardie stad was baie bly.
9Daar het 'n man in die stad gewoon, sy naam was Simon. Hy kon toor en die mense van Samaria het gedink hy doen wonderlike dinge. Simon het self gesê dat hy baie belangrik is. 10Al die mense, die kinders en die grootmense, het ook gedink dat hy baie belangrik is. Hulle het gesê: “Hierdie man is die Krag van God, die mense noem hom ‘Die Groot Krag van God.’ ”
11Hulle het gedink dat Simon baie belangrik is omdat hy 'n lang tyd getoor het en die mense het gedink dat dit wonderlik is. 12Maar toe het Filippus gekom en hy het die goeie boodskap gebring dat God Koning is, die boodskap oor die Naam van Jesus Christus. Toe het die mense vir Filippus begin glo, en hulle is gedoop, die mans én die vroue. 13Simon het self ook begin glo. Nadat hy gedoop is, het hy die hele tyd by Filippus gebly. Hy het die tekens en wonderwerke gesien wat gebeur het, en hy was baie verbaas.
14Die apostels in Jerusalem het gehoor dat die mense in Samaria die boodskap van God aanvaar het. Hulle het toe vir Petrus en Johannes na Samaria gestuur. 15Petrus en Johannes het gegaan en hulle het gebid dat die mense die Heilige Gees kan kry. 16Want die Heilige Gees het toe nog nie in een van hulle gekom nie. Hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus. 17Petrus en Johannes het toe hulle hande op die mense gesit, en die mense het die Heilige Gees gekry.
18Toe Simon sien dat die apostels hulle hande op mense sit en dat die mense dan die Heilige Gees kry, wou hy vir die apostels geld gee. 19Hy het gesê: “Gee vir my ook hierdie krag. Dan kan ek ook my hande op iemand sit sodat hy die Heilige Gees kan kry.”
20Maar Petrus het vir hom gesê: “Gaan na die hel, jy én jou geld, omdat jy gedink het dat jy hierdie present van God met geld kan koop. 21God kan jou nie gebruik in sy werk nie, want jou hart is nie reg voor God nie. 22Jy moet hierdie slegte dinge wat jy dink, los en jy moet vir die Here vra of Hy jou sal vergewe omdat jy so verkeerd dink. 23Want ek sien dat jy baie jaloers is en dat slegte gedagtes jou vashou.”
24Toe sê Simon: “Julle moet vir my bid tot die Here sodat niks met my gebeur nie, niks van die dinge wat julle gesê het nie.”
25Die apostels het aangehou preek en hulle het die boodskap van die Here gebring. Toe het hulle teruggegaan na Jerusalem. Op die pad na Jerusalem het hulle in baie dorpies van die Samaritane die goeie boodskap gebring.
Filippus en die Etiopiër
26'n Engel van die Here het met Filippus gepraat. Hy het gesê: “Jy moet gereedmaak en jy moet na die suide gaan, na die pad wat van Jerusalem na die stad Gasa gaan. Dit is 'n stil pad.”
27Filippus het toe gereedgemaak en hy het gegaan. Hy sien toe op daardie pad 'n man van die land Etiopië, die man was ontman en hy was 'n amptenaar van die kandake, die koningin van Etiopië. Die amptenaar moes kyk dat alles goed gaan met die koningin se geld. Die amptenaar het na Jerusalem gekom om te aanbid. 28Maar nou was hy op die pad terug huis toe. Hy het op sy wa gesit en hy het gelees uit die boek van die profeet Jesaja. 29Die Heilige Gees het vir Filippus gesê: “Jy moet nader gaan tot by die wa.”
30Toe Filippus naby die wa kom, hoor hy dat die man lees uit die boek van die profeet Jesaja. Filippus vra toe vir hom: “Verstaan jy wat jy lees?”
31Die man sê: “Hoe kan ek dit verstaan? Iemand moet dit vir my verduidelik.”
Toe sê hy Filippus moet op die wa klim en hy moet langs hom kom sit. 32Hy het hierdie deel van die Ou Testament gelees:
Hy was soos 'n skaap
wanneer iemand dit wil slag,
soos 'n skaap-lam wanneer
iemand sy wol afskeer.
Hy het stilgebly,
hy het nie sy mond
oopgemaak nie.
33Hulle het slegte dinge gedoen
aan hom,
hulle het nie reg gedoen
aan hom nie.
Hy kan nie 'n nageslag hê nie,
want sy lewe op die aarde
is verby.
34Die amptenaar vra toe vir Filippus: “Ek vra mooi vir jou, oor wie praat die profeet so? Praat hy oor homself of oor iemand anders?”
35Toe begin Filippus om die goeie boodskap oor Jesus vir die man te verduidelik. Hy het begin by hierdie deel van die Ou Testament. 36Toe hulle verder ry, kom hulle by water. En die amptenaar sê: “Kyk, daar is water. Hoekom mag ek nie gedoop word nie? Is daar iets wat keer?”
37 38Die amptenaar het gesê die wa moet stop. Filippus en die amptenaar het afgeklim tot in die water, en Filippus het hom gedoop. 39Toe hulle uit die water kom, het die Gees van die Here vir Filippus weggeneem en die amptenaar het hom nie weer gesien nie. Die amptenaar het toe verder gegaan en hy was toe gelukkig. 40Filippus was later in die stad Asdod. Hy het na verskillende plekke gegaan en hy het die goeie boodskap gebring in al die stede totdat hy in die hawestad Sesarea gekom het.

Tans Gekies:

Handelinge 8: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid