HANDELINGE 6:12-15
HANDELINGE 6:12-15 Bybel vir almal (ABA)
Die manne van die sinagoge het vir die mense van Jerusalem en die familieleiers en die skrifgeleerdes kwaad gemaak vir Stefanus. Die mense het na Stefanus toe gehardloop, hulle het hom gegryp en na die Joodse Raad gebring. Die mense het vals getuies gekry wat sê: “Stefanus wil nie ophou om slegte dinge te sê teen hierdie gewyde woonplek en teen die Wette van Moses nie. Want ons het gehoor Stefanus sê dat hierdie Jesus van Nasaret hierdie tempel sal afbreek en dat hy die dinge sal verander wat Moses vir ons geleer het.” Almal in die Joodse Raad het reguit na Stefanus gekyk. Hulle het gesien dat sy gesig soos 'n engel se gesig lyk.
HANDELINGE 6:12-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En hulle het die volk en die ouderlinge en die skrifgeleerdes in beweging gebring en op hom afgekom en hom gegryp en voor die Raad gebring. En hulle het valse getuies laat optree om te sê: Dié man hou nie op om lasterlike dinge te praat teen hierdie heilige plek en die wet nie. Want ons het hom hoor sê: Hierdie Jesus, die Nasaréner, sal hierdie plek afbreek en die sedes wat Moses aan ons oorgelewer het, verander. En terwyl almal wat in die Raad sit, hul oë stip op hom hou, sien hulle dat sy gesig soos die gesig van 'n engel was.
HANDELINGE 6:12-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hulle het die volk en die familiehoofde en die skrifgeleerdes opgesweep. Dié het op hom afgestorm, hom gegryp en voor die Joodse Raad gebring en vals getuies gekry om te sê: “Hierdie man wil nie ophou om dinge teen die heilige tempel en die wet van Moses te sê nie. Ons het hom hoor sê dat hierdie Jesus van Nasaret die tempel sal afbreek en die voorskrifte wat Moses vir ons gegee het, sal verander.” Toe al die lede van die Raad stip na Stefanus sit en kyk, sien hulle dat sy gesig soos dié van 'n engel lyk.
HANDELINGE 6:12-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hierdeur het hulle die volk, die familiehoofde en die skrifkenners opgesweep. Toe het hulle na hom gegaan, hom gegryp en voor die Sanhedrin gebring. Hulle het ook vals getuies na vore laat kom wat verklaar het: “Hierdie man hou nie op om teen hierdie heilige plek en die wet te praat nie. Ons het hom hoor sê, ‘Hierdie Jesus van Nasaret sal hierdie plek afbreek en die gebruike verander wat Moses aan ons oorgelewer het.’ ” Almal wat in die Sanhedrin gesit het, het stip na Stefanus gekyk en gesien dat sy gesig soos dié van 'n engel lyk.
HANDELINGE 6:12-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hulle het die volk en die ouderlinge en die skrifgeleerdes opgewek en op hom afgekom en hom gevang en na die Raad gebring. En stel valse getuies op wat gesê het: Hierdie man hou nie op om lasterlike woorde teen hierdie heiligdom en die wet te spreek nie. Want ons het hom hoor sê dat hierdie Jesus van Nasaret hierdie plek sal vernietig en die gebruike sal verander wat Moses ons oorgelewer het. En almal wat in die Raad sit, kyk stip na hom en sien sy aangesig soos dit die gesig van 'n engel was.
HANDELINGE 6:12-15 Die Boodskap (DB)
Toe hierdie vals stories by die mense en by die godsdienstige leiers uitkom, was daar groot ongelukkigheid in Jerusalem. Die Joodse Raad het dadelik besluit om in te gryp. Hulle het ’n klompie polisiemanne gestuur om Stefanus te vang en hom voor hulle te daag. Die mense wat allerhande stories oor hom versprei het, het ook by die verhoor opgedaag en gesê: “Hierdie man sê die verskriklikste dinge teen ons heilige tempel en teen die wet van God. Ons het selfs gehoor hoe hy nou die dag gesê het dat daardie Jesus van Nasaret in wie hy glo, die tempel sal afbreek. Hy sal ook al die wette afskaf wat Moses vir ons gegee het.” Toe hierdie aanklag teen Stefanus ingebring is, het die Joodse Raad hom geskok aangestaar. Terwyl hulle nog so kyk, het hulle agtergekom dat sy gesig begin skyn soos ’n engel s’n.
HANDELINGE 6:12-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Só het hulle dit reggekry om die skares en die familiehoofde en die skrifkenners op te sweep. Dié het Stefanus gearresteer en hom voor die Joodse Raad gebring. Die vals getuies het gesê: “Hierdie man hou aan om afbrekend van die tempel en van die wet van Moses te praat. Ons het hom regtig hoor sê dat hierdie Jesus van Nasaret die tempel sal verwoes en die tradisies wat Moses vir ons gegee het, sal verander.” Al die raadslede het stip na Stefanus gekyk en gesien dat sy gesig soos dié van ’n engel skitter.