Handelinge 6

6
Sewe helpers vir die apostels
1Die kerk in Jerusalem het intussen al hoe meer lidmate bygekry. Mense van oor die wêreld het by hulle aangesluit. Toe ontstaan daar ’n krisis. Die gelowiges wat net Grieks kon praat, het op ’n dag begin voel dat diegene in die gemeente wat net Hebreeus praat, teen hulle diskrimineer. Party van die weduwees wat Grieks gepraat het, het volgens hulle te min kos gekry by die geleenthede waar die apostels elke dag kos aan die armes uitgedeel het.
2Toe die twaalf apostels daarvan te hore kom, het hulle ’n gemeentevergadering belê. “Dit is nie reg dat ons ons opdrag om die Woord van God uit te dra afskeep om vir die armes kos te gee nie,” het hulle vir die gelowiges gesê. 3“Ons het nou die volgende plan: kies sewe mans uit julle geledere om hierdie werk by ons oor te neem. Maar dit moet mans wees wat julle almal ken en vertrou. Hulle moet ook verstandig wees en vol van die krag van die Heilige Gees. 4Dan kan ons voortgaan met ons taak om te bid en om die Woord van God bekend te maak.”
5Die gemeente was baie tevrede met dié plan. Hulle het toe die volgende mans gekies: Stefanus, iemand wat die Here met sy hele lewe vertrou het en wat vol van die krag van die Heilige Gees was, asook Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas en Nikolaus uit Antiogië. 6Hy het hom vroeër tot die Joodse geloof bekeer.
7Die apostels se prediking het veroorsaak dat baie mense in Jerusalem volgelinge van Jesus geword het. Selfs ’n groot groep priesters het tot bekering gekom en in Hom begin glo.
Stefanus ook voor die Joodse Raad
8Stefanus, een van die sewe helpers, het God se goedheid en krag elke dag beleef. Net soos die apostels het hy ook baie wonderwerke onder die mense gedoen. Daar was ’n klomp Jode wat niks gehou het van wat Stefanus sê nie. 9Hulle het in ’n sinagoge in Jerusalem bymekaargekom waar mense wat eens op ’n tyd slawe was vir God aanbid het. Hierdie mense, wat uit gebiede soos Sirene, Aleksandrië, Silisië en Asië gekom het, het met hom begin stry. Maar hulle het elke keer sleg daarvan afgekom. 10Hulle was nie opgewasse teen Stefanus se insig in God se raadsplan nie. 11Later was hulle so vies dat hulle in die geheim ’n paar mense geld aangebied het om te sê dat Stefanus beledigende dinge teen God en Moses kwytgeraak het.
12Toe hierdie vals stories by die mense en by die godsdienstige leiers uitkom, was daar groot ongelukkigheid in Jerusalem. Die Joodse Raad het dadelik besluit om in te gryp. Hulle het ’n klompie polisiemanne gestuur om Stefanus te vang en hom voor hulle te daag. 13Die mense wat allerhande stories oor hom versprei het, het ook by die verhoor opgedaag en gesê: “Hierdie man sê die verskriklikste dinge teen ons heilige tempel en teen die wet van God. 14Ons het selfs gehoor hoe hy nou die dag gesê het dat daardie Jesus van Nasaret in wie hy glo, die tempel sal afbreek. Hy sal ook al die wette afskaf wat Moses vir ons gegee het.”
15Toe hierdie aanklag teen Stefanus ingebring is, het die Joodse Raad hom geskok aangestaar. Terwyl hulle nog so kyk, het hulle agtergekom dat sy gesig begin skyn soos ’n engel s’n.

Tans Gekies:

Handelinge 6: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid