Handelinge 6:12-15

Handelinge 6:12-15 DB

Toe hierdie vals stories by die mense en by die godsdienstige leiers uitkom, was daar groot ongelukkigheid in Jerusalem. Die Joodse Raad het dadelik besluit om in te gryp. Hulle het ’n klompie polisiemanne gestuur om Stefanus te vang en hom voor hulle te daag. Die mense wat allerhande stories oor hom versprei het, het ook by die verhoor opgedaag en gesê: “Hierdie man sê die verskriklikste dinge teen ons heilige tempel en teen die wet van God. Ons het selfs gehoor hoe hy nou die dag gesê het dat daardie Jesus van Nasaret in wie hy glo, die tempel sal afbreek. Hy sal ook al die wette afskaf wat Moses vir ons gegee het.” Toe hierdie aanklag teen Stefanus ingebring is, het die Joodse Raad hom geskok aangestaar. Terwyl hulle nog so kyk, het hulle agtergekom dat sy gesig begin skyn soos ’n engel s’n.