HANDELINGE 4:13-22

HANDELINGE 4:13-22 Bybel vir almal (ABA)

Die Joodse leiers was verbaas toe hulle sien dat Petrus en Johannes nie bang is om oor Jesus te praat nie. Want hulle het geweet dat Petrus en Johannes die Wette van Moses nie goed geken het nie en dat hulle nie geleer het om voor ander mense te praat nie. Hulle het ook geweet dat Petrus en Johannes dissipels van Jesus was. Maar hulle het gesien die lam man wat gesond geword het, staan by Petrus en Johannes, en daarom kon hulle niks daarteen sê nie. Hulle het vir Petrus en Johannes gesê om buite die Joodse Raad te gaan wag. Hulle het toe vergadering gehou en met mekaar gepraat. Hulle het gesê: “Wat sal ons doen met hierdie mense? Want God het hulle 'n teken laat doen, dit is seker. Al die mense van Jerusalem dink so, ons kan nie stry nie. Maar ons wil nie hê dat nog méér mense daarvan moet hoor nie. Daarom moet ons hulle waarsku om nie weer Jesus se Naam te noem nie, hulle moenie met iemand oor Hom praat nie.” Hulle het toe vir Petrus en Johannes geroep om na hulle toe te kom en hulle het gesê dat Petrus en Johannes glad nie oor Jesus mag preek of vir die mense mag leer van Hom nie. Maar Petrus en Johannes het vir hulle gevra: “Moet ons luister na God of moet ons luister na julle? Waarvan sal God hou? Julle kan self besluit. Want ons kan nie stilbly oor wat ons gesien en gehoor het nie.” Die Joodse leiers het vir Petrus en Johannes nog meer gewaarsku en hulle het hulle toe laat gaan. Want die leiers het nie geweet hoekom hulle vir Petrus en Johannes moet straf nie. En die leiers was ook bang vir die mense, want almal het God geprys oor wat gebeur het. Hulle het ook vir Petrus en Johannes laat weggaan omdat die man wat gesond geword het, meer as 40 jaar oud was. Dit was 'n wonderteken dat die man gesond geword het.

HANDELINGE 4:13-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense. Die raadslede het hulle ook herken as volgelinge van Jesus. En toe hulle nog boonop die gesonde man by die apostels sien staan, kon hulle niks teen hulle inbring nie. Die raadslede het hulle toe beveel om die raadsaal te verlaat en het die saak met mekaar bespreek. “Wat gaan ons met hierdie mense maak?” het hulle gevra. “Dat 'n onmiskenbare wonder deur hulle plaasgevind het, is vir al die inwoners van Jerusalem duidelik. Ons kan dit nie ontken nie. Maar om te voorkom dat hierdie dinge nog verder onder die volk versprei, moet ons hulle met dreigemente verbied om weer in die Naam van Jesus met iemand te praat.” Daarna het die Raad die apostels weer laat inkom en hulle beveel om glad nie verder in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer nie. Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.” Nadat die Raad die apostels daarby nog ernstig gedreig het, het hulle hulle losgelaat. Hulle het dit gedoen omdat hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie en vanweë die houding van die volk, want al die mense het God geprys oor wat daar gebeur het. Die man wat deur hierdie wonder gesond geword het, was immers al oor die veertig.

HANDELINGE 4:13-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die raadslede was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se waagmoed sien, want hulle het besef dis gewone mense sonder enige besondere opleiding. Hulle het hulle ook herken as mense wat saam met Jesus was. Maar omdat die man wat gesond gemaak is, daar reg by hulle gestaan het, het die raadslede niks gehad om te sê nie. Daarom het hulle Petrus en Johannes uit die raadsaal gestuur en die saak met mekaar bespreek. “Wat gaan ons met hierdie mans aanvang?” het hulle gevra. “Dit is vir almal wat in Jerusalem woon, duidelik dat ’n onmiskenbare teken deur hulle plaasgevind het, en ook ons kan dit nie ontken nie. Maar om te keer dat dit nog verder onder die volk versprei, kom ons dreig hulle om nie weer met iemand in die Naam van Jesus te praat nie.” Hulle roep toe die apostels weer in en beveel hulle om glad nie verder iets in die Naam van Jesus te verkondig of te leer nie. Petrus en Johannes het egter in reaksie vir hulle gesê: “Dink julle God wil hê dat ons eerder aan júlle gehoorsaam moet wees as aan Hom? “Ons kan nie anders as om te praat oor die wonderlike dinge wat ons gesien en gehoor het nie.” Die Raad het hulle nog verder gedreig. Uiteindelik het hulle hulle egter laat gaan, want hulle het nie geweet hoe om hulle te straf sonder om ’n volksopstand te veroorsaak nie. Almal was inderdaad besig om God te prys vir die wonderteken – ’n man wat al oor die 40 jaar verlam was, is immers gesond gemaak!