Handelinge 4

4
Petrus en Johannes word gevang
1Petrus en Johannes was nog besig om met die skare te praat toe die bevelvoerder van die tempelpolisie en ’n klomp van die Jode se godsdienstige leiers daar aankom. 2Hulle was woedend omdat die apostels vir die mense gesê het dat Jesus uit die dood opgestaan het en dat elkeen wat dit glo, ook uit die dood sal opstaan. 3Daar op die plek het hulle toe vir Petrus en Johannes gevang en in die tronk gegooi. Die twee apostels moes in die tronk bly tot die volgende oggend.
4Intussen het baie mense in Christus begin glo. Die kerk in Jerusalem se ledetal het tot by die 5 000 aangegroei.
Die apostels verskyn voor die Joodse Raad
5Die volgende oggend het al die belangrikste godsdienstige leiers van Israel wat op die Joodse Raad sitting gehad het in Jerusalem vergader. 6Behalwe die skrifkenners en volksleiers was die hoëpriester Annas en lede van sy familie, soos Kajafas, Johannes en Aleksander, ook daar. Petrus en Johannes is tot in die middel van die vertrek gebring waar hulle bymekaar was.7Toe vra hulle die apostels: “Sê vir ons, waar kry julle die krag vandaan om so ’n wonderwerk te doen? En wie het vir julle gesê om dit te doen?”
8Petrus was vol van die Heilige Gees se groot krag. Hy het dadelik geantwoord: 9“Geagte leiers van die volk en raadslede, ons staan vandag hier voor julle omdat ons ’n siek man gesond gemaak het. 10Hierdie man is in die Naam van Jesus Christus, die Man van Nasaret, genees. Julle weet van wie ek praat, want julle het Jesus ’n rukkie terug aan ’n kruis laat vasspyker. Maar God het Hom weer lewendig gemaak.
11“Julle het julle lelik misreken met Jesus. Julle het Hom doodgemaak en gedink julle is ontslae van Hom. So het julle die belangrikste klip in die gebou verwerp. 12Jesus is nou die belangrikste Persoon in die hemel. Daar is geen ander manier hoe julle in die regte verhouding met God kan kom as deur Hom nie. Niemand anders in die hemel of hier op aarde kan julle nou red nie.”
Petrus en Johannes word ernstig gewaarsku
13Die lede van die Raad was verstom oor Petrus en Johannes se woorde, veral omdat hulle nie geleerde mense was nie. Tog was hulle nie bang om oor Hom te praat nie.14Om alles te kroon het die man wat verlam was ook nou gesond langs hulle gestaan.
15Die Joodse Raad het Petrus en Johannes beveel om buite te wag terwyl hulle met mekaar beraadslaag. 16“Wat moet ons met hulle doen?” het hulle mekaar gevra. “Almal in Jerusalem weet teen hierdie tyd al wat gister in die tempel gebeur het. Ons kan dit nie wegpraat nie. 17Al wat ons nou kan doen, is om hulle te verbied om verder in die naam van daardie Jesus met die mense te praat. So sal ons ten minste keer dat hierdie storie verder versprei.”
18Die raadslede het Petrus en Johannes daarna laat inkom en vir hulle gesê: “Julle mag van nou af nooit weer met iemand oor Jesus praat of iets oor Hom aan ander leer nie.” 19Petrus en Johannes was nie bereid om dit te doen nie.
“Julle moet maar self besluit of ons eerder na julle as na God moet luister. 20Maar ons weet wat ons gaan doen: ons kan nie stilbly oor alles wat ons gesien en gehoor het nie.”
Die Joodse Raad was woedend. 21Hulle het die apostels weer ernstig gewaarsku om niks verder oor Jesus te sê nie. Maar op die ou end moes hulle vir Petrus en Johannes laat gaan. Baie mense het van die wonderwerk gehoor en begin om God te loof. 22Die verlamde man was immers al oor die 40 jaar oud. Almal in Jerusalem het oor sy genesing gepraat.
Gebed wat werk
23Nadat Petrus en Johannes vrygelaat is, het hulle na die ander gelowiges teruggegaan en vir hulle vertel dat die Joodse Raad hulle verbied het om met ander mense oor Jesus te praat. 24Toe het almal saamgebid: “O Here, U het alles gemaak: die hemel en die aarde en ook die see. Alles wat daarin is, is die werk van u hande.
25“U Heilige Gees het vroeër deur Dawid vir ons gesê:
‘Waarom maak al die nasies so ’n groot lawaai? Waarom beraam mense sulke nuttelose planne? 26Al die leiers van die wêreld maak hulle reg vir oorlog, al die heersers kom staan saam. Hulle teiken is die Here self, en sy Messias.’
27“Ons sien nou hoe Dawid se woorde hier in ons eie stad waar word. Nou die dag het Herodes en Pontius Pilatus die heidene en die Israeliete laat saamspan teen u eie Seun. Maar hulle het U nie onkant betrap nie. 28U het u plan om ons te red juis op hierdie manier waar laat word.
29“Nou is hierdie spul mense al weer besig met hulle bose planne. Sien asseblief tog raak hoe hulle ons probeer bangpraat. Ons is u diensknegte. Help ons sodat ons nie vir hulle bang sal wees nie. Help ons om steeds te bly praat oor u wonderlike plan om sondaars te red. 30Raak ander mense ook aan sodat daar nog baie groot wonderwerke en genesings sal plaasvind oral waar ons oor U praat. Doen dit asseblief deur u Dienaar, Jesus.”
31Na hierdie gebed het die gebou waarin die gelowiges bymekaar was, begin skud. Dit is veroorsaak deur die Heilige Gees wat met sy groot krag opnuut van hulle lewens besit geneem het. Hy het hulle gehelp om vreesloos aan te hou om oor God te praat en sy woord bekend te maak.
Die gelowiges is ’n hegte eenheid
32Die gelowiges was ’n hegte eenheid. Hulle het baie vir mekaar omgegee. Niemand van hulle het krampagtig aan hulle besittings vasgeklou nie. Die apostels het ook vir almal vertel dat God Jesus lewendig gemaak het. Hulle was glad nie bang om dit te doen nie.
33God se goedheid was groot oor al die gelowiges. Niemand van hulle was meer arm nie. Almal wat iewers ’n stukkie grond of ’n huis gehad het, het dit verkoop en die geld vir die apostels gaan gee. 34-35Op hulle beurt het die apostels dit uitgedeel aan diegene wat geld nodig gehad het.
36So het ’n man met die naam Josef, wat deur die apostels Barnabas genoem is (dit beteken: iemand wat ander mense bemoedig) 37en wat van Siprus af gekom het, ’n stuk grond van hom verkoop en al die geld vir die apostels gaan gee.

Tans Gekies:

Handelinge 4: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid