Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

HANDELINGE 3:1-4 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

HANDELINGE 3:1-4 AFR83 (Afrikaans 1983)

Een middag om drie-uur, die tyd van die gebed, was Petrus en Johannes op pad tempel toe. Net toe word daar 'n man aangedra wat van sy geboorte af lam was. Sy mense het hom elke dag by die tempelpoort wat Mooipoort genoem is, neergesit om by die tempelgangers te bedel. Toe hy vir Petrus en Johannes sien, net voor hulle in die tempel ingaan, het hy van hulle iets gevra. Petrus en Johannes kyk hom toe stip aan, en Petrus sê: “Kyk na ons.”

HANDELINGE 3:1-4 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN Petrus en Johannes het saam na die tempel opgegaan op die uur van die gebed, die negende uur. En daar is 'n sekere man aangedra wat van sy geboorte af kreupel was; hulle het hom elke dag neergesit by die tempelpoort wat die Skone genoem word, om 'n aalmoes te vra van die wat in die tempel ingaan. Toe hy sien dat Petrus en Johannes die tempel wou binnegaan, het hy om 'n aalmoes gevra. En Petrus saam met Johannes het hom stip aangekyk en gesê: Kyk na ons.

HANDELINGE 3:1-4 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Petrus en Johannes was een middag op pad tempel toe. Dit was drie-uur, die gebedstyd. Net tóé word daar ’n man aangedra wat van sy geboorte af lam was. Mense het hom daagliks laat sit by die tempelpoort wat as Mooipoort bekend staan, om by die tempelgangers te bedel. Petrus en Johannes wou net in die tempel ingaan, toe hy hulle sien en ’n bydrae by hulle vra. Petrus kyk hom toe saam met Johannes stip aan, en sê: “Kyk na ons!”

HANDELINGE 3:1-4 DB (Die Boodskap)

Op ’n dag het Petrus en Johannes tempel toe gegaan om te bid. Dit was teen drie-uur die middag. Hulle het by een van die tempel se ingange met die naam Mooipoort ingestap. Daar het ’n man elke dag gesit en bedel. Hy was van sy geboorte af verlam. Toe Petrus en Johannes by hom verbystap, vra hy hulle of hulle nie ’n geldjie vir hom het nie. Petrus het gaan staan. “Kyk na my!” het hy vir die verlamde gesê wat daar voor hom op die grond gesit en staar het.

HANDELINGE 3:1-4 ABA (Bybel vir almal)

Eendag het Petrus en Johannes na die tempel gegaan. Dit was die tyd toe die mense na die tempel gekom het om te bid, omtrent drie-uur in die middag. Daar was mense wat besig was om 'n lam man nader te dra. Hy was lam vandat hy gebore is. Sy mense het hom elke dag by een van die poorte van die tempel neergesit. Die poort se naam was Mooi-poort. Die man het elke dag geld gevra vir die mense wat by die tempel ingaan. Die man het vir Petrus en Johannes gesien toe hulle by die tempel wou ingaan, en hy het vir hulle geld gevra. Petrus en Johannes het reguit na hom gekyk. Toe sê Petrus: “Kyk na ons.”

HANDELINGE 3:1-4 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Op die negende uur, die uur van gebed, was •Petrus en Johannes na die tempelterrein op pad. 'n Man, verlam van sy geboorte af, is daarheen gedra. Hulle het hom elke dag neergesit by die tempelpoort bekend as Mooipoort, om by die mense wat die tempelterrein binnegaan, om 'n aalmoes te vra. Toe hy sien dat Petrus en Johannes op die punt was om die tempelterrein binne te gaan, het hy gevra om 'n aalmoes te ontvang. Petrus, vergesel van Johannes, het stip na hom gekyk en gesê: “Kyk na ons!”

HANDELINGE 3:1-4 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En Petrus en Johannes het saam opgegaan na die tempel op die uur van gebed, dit was die negende uur. En 'n sekere man wat van sy moeder se skoot af kreupel was, is gedra, wat hulle daagliks neergelê het by die poort van die tempel wat Skoon genoem word, om aalmoese te vra van die wat in die tempel ingegaan het; Wie Petrus en Johannes gesien het wat op pad was om in die tempel in te gaan, het 'n aalmoese gevra. En Petrus het sy oë saam met Johannes op hom gerig en gesê: Kyk na ons.