HANDELINGE 17:1-10

HANDELINGE 17:1-10 Bybel vir almal (ABA)

Paulus en Silas het deur die stede Amfipolis en Apollonië gegaan, en toe het hulle in die stad Tessalonika gekom. Daar was 'n sinagoge van die Jode in Tessalonika. Paulus het na die sinagoge gegaan, hy het dit altyd gedoen. Daar het hy drie weke lank elke Sabbatdag met die Jode gepraat. Hy het in die Ou Testament gelees en hy het dit vir hulle verduidelik. Hy het ook vir hulle verduidelik dat die Christus moes swaarkry en sterf en dat Hy weer moes lewe. Hy het ook gesê: “Ek vertel vir julle van Jesus. Hý is die Christus.” Party van hulle het gedink dit is reg wat Paulus vir hulle gesê het, en hulle het begin glo soos Paulus en Silas glo. Baie van die Grieke wat vir God gerespekteer het, en baie van die belangrike vroue, het ook begin glo in Jesus. Maar die Jode het jaloers geword en hulle het 'n klomp slegte mense wat nie werk nie, saam met hulle geneem en hulle het die mense in die stad kwaad gemaak. Toe het hulle Jason se huis aangeval, want hulle het vir Paulus en Silas gesoek om hulle voor die vergadering van die volk te bring. Maar die Jode het nie vir Paulus en Silas gekry nie, en daarom het hulle vir Jason en party van die gelowiges na die leiers van die stad geneem en geskree: “Dit is hierdie mense wat al die mense se koppe deurmekaar gemaak het, en hulle is nou hier. Jason het hulle genooi om in sy huis in te kom. Al hierdie mense breek die wette van die keiser, hulle sê daar is 'n ander koning, en sy naam is Jesus.” Die leiers en baie mense in die stad wat hierdie dinge gehoor het, het bekommerd geword. Ander gelowiges het vir Jason gehelp en hulle het vir hom borg gestaan. Toe die leiers genoeg geld gekry het, het hulle vir Jason en die ander gelowiges vry laat weggaan. Toe dit donker geword het, het die gelowiges dadelik vir Paulus en Silas na Berea gestuur. Toe hulle daar aankom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan.

HANDELINGE 17:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

Paulus-hulle het deur Amfipolis en Apollonië na Tessalonika toe gereis, waar daar 'n Joodse sinagoge was. Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy daarheen gegaan en op drie sabbatdae na mekaar uit die Skrif met die Jode geredeneer. Hy het die Skrif uitgelê en daaruit aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood moes opstaan. “Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig,” het hy gesê, “Hý is die Christus.” Party van die Jode het oortuig geraak en by Paulus en Silas aangesluit. 'n Groot aantal godvresende Grieke en 'n aansienlike getal vooraanstaande vroue het ook nog bygekom. Maar die Jode was hieroor afgunstig en het met die hulp van 'n klomp nikswerd leeglêers 'n betoging op tou gesit wat die stad in oproer gebring het. Hulle het na Jason se huis toe opgeruk en wou vir Paulus en Silas hê om hulle voor die volk te bring. Toe die Jode hulle nie kry nie, sleep hulle vir Jason en 'n paar ander gelowiges na die stadsbestuur toe en skreeu: “Dit is die mense wat die hele wêreld in beroering bring. Hulle is nou hier in ons stad, en Jason het vir hulle huisvesting gegee. Hulle handel almal in stryd met die keiser se wette en sê dat daar 'n ander koning is, Jesus!” Die mense en die stadsbestuur was ontsteld toe hulle dit hoor, maar nadat hulle van Jason en die ander gelowiges die nodige waarborg gekry het, is hulle losgelaat. Sodra dit donker was, het die gelowiges vir Paulus en Silas na Berea toe gestuur. Daar aangekom, het hulle na die Joodse sinagoge toe gegaan.

HANDELINGE 17:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Paulus en Silas het deur Amfipolis en Apollonië gereis en in Thessalonika gekom, waar daar 'n Joodse •sinagoge was. Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy na hulle gegaan en op drie Sabbatdae ná mekaar met hulle uit die Skrifte geredeneer. Deur die Skrifte uit te lê, het hy bewys dat die Christus moes ly en uit die dood opstaan. “Hierdie Christus is Jesus, wat ek aan julle verkondig,” het hy gesê. Sommige van hulle is oortuig en het by Paulus en Silas aangesluit, so ook 'n menigte Grieke wat God vereer, en geen geringe aantal vooraanstaande vroue nie. Die Jode het egter jaloers geword, uit 'n klomp slegte manne wat op die markplein leeglê, 'n oproerige bende gevorm, en die stad in rep en roer gebring. Hulle het na Jason se huis opgeruk, en na Paulus en Silas gesoek om hulle voor 'n volksvergadering te daag. Maar toe hulle hulle nie kry nie, het hulle Jason en 'n paar ander broers na die stadsowerhede gesleep en geskreeu: “Die mense wat die hele wêreld in opstand bring, het nou ook hier aangekom en Jason het hulle as gaste ontvang. Hulle tree almal in stryd met die keiser se voorskrifte op deur te sê dat daar 'n ander koning is, naamlik Jesus. ” Hierdeur het hulle die skare en die stadsowerhede wat dit gehoor het, ontstel. Eers nadat hulle van Jason en die ander borgtog ontvang het, het hulle hulle vrygelaat. Die broers het Paulus en Silas, toe dit nag word, dadelik na Berea gestuur. Met hulle aankoms het hulle na die Joodse sinagoge gegaan.

HANDELINGE 17:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe hulle deur Amfipolis en Apollonia gegaan het, het hulle in Tessalonika gekom, waar 'n sinagoge van die Jode was. En Paulus het, soos sy manier was, na hulle ingegaan, en drie sabbatdae het met hulle geredeneer uit die Skrifte, Open en beweer dat Christus moes gely en uit die dood opgestaan het; en dat hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, Christus is. En sommige van hulle het gelowig geword en saamgestem met Paulus en Silas; en van die vrome Grieke 'n groot menigte, en van die vernaamste vroue nie min nie. Maar die Jode wat nie geglo het nie, was van afguns ontroer, en hulle het sekere skandelike manne van die minderwaardige soort by hulle geneem en 'n menigte bymekaargemaak en die hele stad in oproer gemaak en die huis van Jason aangerand en probeer om hulle uit te bring na die mense. En toe hulle hulle nie kry nie, het hulle Jason en sekere broers na die owerstes van die stad getrek en geroep: Hulle wat die wêreld omgekeer het, het ook hierheen gekom; wat Jason ontvang het, en hulle doen almal in stryd met die verordeninge van die keiser deur te sê dat daar 'n ander koning is, een Jesus. En hulle het die mense en die owerstes van die stad verskrik toe hulle hierdie dinge hoor. En toe hulle sekuriteit van Jason en van die ander geneem het, het hulle hulle laat gaan. En die broeders het dadelik vir Paulus en Silas in die nag na Berea weggestuur; hulle het daarheen gekom in die sinagoge van die Jode.

HANDELINGE 17:1-10 Die Boodskap (DB)

Paulus en Silas het daarna in ’n suidelike rigting deur Amfipolis en Apollonië gereis en in Tessalonika aangekom. Daar was ’n Joodse sinagoge. Soos dit sy gewoonte was, het Paulus gereeld soontoe gegaan. Drie sabbatte het hy daar met die Jode uit die Bybel gaan praat. Hy het vir hulle verduidelik dat dit deel van God se plan was dat die Messias moes kom ly en sterf, maar dat Hy op die derde dag na sy dood weer lewendig gemaak is. En hy het bygevoeg: “Hierdie Jesus van wie ek julle vertel, Hy is die Messias. Hy is God se Gestuurde.” Party van die mense het Paulus se prediking geglo. Hulle het daar voor almal by hom en Silas aangesluit. Saam met hulle het baie Grieke wat vroeër die Joodse geloof aanvaar het, asook ’n hele aantal van die vooraanstaande vroue in die stad, tot geloof in Jesus gekom. Toe die ander Jode sien wat gebeur, was hulle baie jaloers. Hulle het agteraf met leeglêers gaan konkel om die inwoners teen Paulus en Silas op te sweep. Spoedig het hierdie mense oral deur die stad amok begin maak terwyl hulle na die Here se twee boodskappers gesoek het. Toe die skare hoor dat hulle in Jason se huis bly, het hulle sy huis bestorm. Hulle wou Paulus en Silas vang en hulle in die openbaar laat verhoor. Dié twee was egter nie tuis nie, net Jason en ’n paar ander gelowiges. Die skare het hulle gevang en voor die hoofde van die stad gesleep. “Hierdie spul is besig om die wêreld om te keer,” het die skare vir die stadsvaders geskree. “En Jason laat toe dat hulle daar in sy huis bly. Hierdie mense oortree die keiser se voorskrifte. Hulle sê dat Jesus die Koning is, nie die keiser nie.” Toe die skare en die leiers van die stad dié aanklagte hoor, was hulle baie kwaad. Hulle het verskriklik met Jason en die ander gelowiges geraas. Maar uiteindelik het hulle hulle laat gaan nadat hulle ’n afkoopsom betaal het. Jason moes ook die versekering gee dat daar nie nog moeilikheid sou wees nie. Daardie nag nog het die gelowiges vir Paulus en Silas by die stad uitgesmokkel. Hulle volgende bestemming was Berea.

HANDELINGE 17:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Paulus en Silas het deur Amfipolis en Apollonië gereis en in Tessalonika aangekom, waar daar ’n sinagoge van die Jode was. Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy na die sinagogediens gegaan en op drie Sabbatdae na mekaar uit die Skrifte met die Jode geredeneer. Hy het die Skrif verklaar en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood opstaan. “Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig,” het hy gesê, “Hý is die Messias.” Party van hulle het toe oortuig geraak en by Paulus en Silas aangesluit. ’n Groot aantal Grieke wat die ware God aanbid het, en ’n klomp vooraanstaande vroue het ook nog bygekom. Die Jode was egter jaloers hieroor. Hulle het toe met die hulp van ’n paar nikswerd leeglêers ’n betoging begin en die stad in oproer gebring. Hulle het na Jason se huis opgeruk en wou Paulus en Silas voor die volk bring. Toe die Jode hulle nie kry nie, sleep hulle vir Jason en ’n paar ander gelowiges na die stadsowerhede en skreeu: “Dít is die mense wat die hele wêreld in beroering bring. En nou is hulle hier in ons stad. Jason het hulle as gaste ontvang. Hulle is almal skuldig aan verraad teen die keiser, want hulle erken ’n ander koning, naamlik Jesus!” Die skare en die stadsowerhede was ontsteld toe hulle dit hoor. Hulle het hulle egter laat gaan nadat hulle van Jason en die ander gelowiges voldoende borg gekry het. Toe dit donker was, het die gelowiges vir Paulus en Silas na Berea toe gestuur. Daar aangekom, het hulle na die Jode se sinagoge gegaan.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid