Handelinge 17:1-10

Handelinge 17:1-10 AFR20

Paulus en Silas het deur Amfipolis en Apollonië gereis en in Thessalonika gekom, waar daar 'n Joodse •sinagoge was. Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy na hulle gegaan en op drie Sabbatdae ná mekaar met hulle uit die Skrifte geredeneer. Deur die Skrifte uit te lê, het hy bewys dat die Christus moes ly en uit die dood opstaan. “Hierdie Christus is Jesus, wat ek aan julle verkondig,” het hy gesê. Sommige van hulle is oortuig en het by Paulus en Silas aangesluit, so ook 'n menigte Grieke wat God vereer, en geen geringe aantal vooraanstaande vroue nie. Die Jode het egter jaloers geword, uit 'n klomp slegte manne wat op die markplein leeglê, 'n oproerige bende gevorm, en die stad in rep en roer gebring. Hulle het na Jason se huis opgeruk, en na Paulus en Silas gesoek om hulle voor 'n volksvergadering te daag. Maar toe hulle hulle nie kry nie, het hulle Jason en 'n paar ander broers na die stadsowerhede gesleep en geskreeu: “Die mense wat die hele wêreld in opstand bring, het nou ook hier aangekom en Jason het hulle as gaste ontvang. Hulle tree almal in stryd met die keiser se voorskrifte op deur te sê dat daar 'n ander koning is, naamlik Jesus. ” Hierdeur het hulle die skare en die stadsowerhede wat dit gehoor het, ontstel. Eers nadat hulle van Jason en die ander borgtog ontvang het, het hulle hulle vrygelaat. Die broers het Paulus en Silas, toe dit nag word, dadelik na Berea gestuur. Met hulle aankoms het hulle na die Joodse sinagoge gegaan.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Handelinge 17:1-10

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid