HANDELINGE 17:1-10

HANDELINGE 17:1-10 NLV

Paulus en Silas het deur Amfipolis en Apollonië gereis en in Tessalonika aangekom, waar daar ’n sinagoge van die Jode was. Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy na die sinagogediens gegaan en op drie Sabbatdae na mekaar uit die Skrifte met die Jode geredeneer. Hy het die Skrif verklaar en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood opstaan. “Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig,” het hy gesê, “Hý is die Messias.” Party van hulle het toe oortuig geraak en by Paulus en Silas aangesluit. ’n Groot aantal Grieke wat die ware God aanbid het, en ’n klomp vooraanstaande vroue het ook nog bygekom. Die Jode was egter jaloers hieroor. Hulle het toe met die hulp van ’n paar nikswerd leeglêers ’n betoging begin en die stad in oproer gebring. Hulle het na Jason se huis opgeruk en wou Paulus en Silas voor die volk bring. Toe die Jode hulle nie kry nie, sleep hulle vir Jason en ’n paar ander gelowiges na die stadsowerhede en skreeu: “Dít is die mense wat die hele wêreld in beroering bring. En nou is hulle hier in ons stad. Jason het hulle as gaste ontvang. Hulle is almal skuldig aan verraad teen die keiser, want hulle erken ’n ander koning, naamlik Jesus!” Die skare en die stadsowerhede was ontsteld toe hulle dit hoor. Hulle het hulle egter laat gaan nadat hulle van Jason en die ander gelowiges voldoende borg gekry het. Toe dit donker was, het die gelowiges vir Paulus en Silas na Berea toe gestuur. Daar aangekom, het hulle na die Jode se sinagoge gegaan.

Gratis leesplanne en oordenkings oor HANDELINGE 17:1-10

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid