HANDELINGE 14:4-7 - Compare All Versions

HANDELINGE 14:4-7 ABA (Bybel vir almal)

Die mense van die stad het in twee groepe verdeel. Die een groep het gedink die Jode is reg, maar die ander groep het gedink die apostels is reg. Toe het die heidene en die Jode en hulle leiers besluit om slegte dinge te doen aan die apostels, hulle het besluit om die apostels dood te gooi met klippe. Toe die apostels hoor wat die mense wil doen, het hulle gevlug na die stede Listre en Derbe. Hierdie stede was in die deel van die land wat die mense “Likaonië” genoem het. Hulle het daar die goeie boodskap gepreek.

HANDELINGE 14:4-7 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En die menigte van die stad was verdeeld, en sommige het met die Jode en ander met die apostels saamgegaan. Maar toe daar onder die heidene en ook onder die Jode, saam met hulle owerstes, 'n beweging ontstaan het om hulle te mishandel en te stenig, het hulle dit gewaargeword en gevlug na die stede van Likaónië, Listre en Derbe en die omstreke. En daar het hulle die evangelie verkondig.

HANDELINGE 14:4-7 AFR83 (Afrikaans 1983)

Die inwoners van die stad was verdeeld, party vir die Jode en party vir die apostels. Die heidene en die Jode saam met hulle leiers het egter oproerig begin word en wou hulle aanrand en stenig. Toe die apostels dit agterkom, het hulle na Listra en Derbe en omgewing gevlug. Dit was twee stede in Likaonië. Daar het hulle toe die evangelie verkondig.

HANDELINGE 14:4-7 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Maar die inwoners van die stad was verdeeld – sommige het hulle by die Jode geskaar en ander by die apostels. Toe daar van die heidene sowel as die Jode, en ook hulle leiers, 'n aanslag kom om die apostels aan te rand en te stenig, het hulle dit te wete gekom en na die Likaoniese stede, Listra en Derbe, en die omliggende streke gevlug en daar die evangelie bly verkondig.

HANDELINGE 14:4-7 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Maar die menigte van die stad was verdeeld: en 'n deel met die Jode vasgehou en 'n deel met die apostels. En toe daar 'n aanval was van die heidene sowel as die Jode met hulle owerstes, om hulle te beledig en te stenig, Hulle het dit opgepas en gevlug na Listre en Derbe, stede van Likaonië, en na die omgewing wat rondom lê. En daar het hulle die evangelie verkondig.

HANDELINGE 14:4-7 DB (Die Boodskap)

Die mense van Ikonium was later in twee kampe verdeel oor Paulus en Barnabas. Party was aan hulle kant, terwyl ander weer aan die kant van hulle Joodse opponente was. Diegene wat teen hulle was, het toe saam met sekere stadsraadslede besluit om hulle te laat vang. Hulle was van plan om eers vir Paulus en Barnabas ’n goeie drag slae te gee en hulle daarna met klippe dood te gooi. Paulus-hulle het daarvan te hore gekom en dadelik uit die stad padgegee. Hulle het toe in die stede Listra en Derbe gaan preek. Daar het hulle die goeie nuus oor Christus aan die mense gaan vertel.

HANDELINGE 14:4-7 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Die mense in die stad was verdeeld: party het hulle by die Jode geskaar en party by die apostels. Op ’n stadium het die nie-Jode en die Jode, saam met hulle leiers, beplan om die apostels aan te rand en met klippe dood te gooi. Toe die apostels dit agterkom, het hulle na Listra en Derbe en die Likaonië-omgewing gevlug. Dáár het hulle toe die Goeie Nuus verkondig.