HANDELINGE 14

14
Die evangelie word verkondig in Ikónium, Listre en Derbe. Seën en vervolging. Terugkeer na Antiochíë.
1EN op dieselfde wyse het hulle in Ikónium in die sinagoge van die Jode ingegaan en so gespreek dat 'n groot menigte Jode sowel as Grieke gelowig geword het.
2Maar die ongehoorsame Jode het die gemoedere van die heidene teen die broeders opgehits en verbitter.
3Hulle het toe 'n geruime tyd daar deurgebring en vrymoediglik gespreek in die Here, wat aan die woord van sy genade getuienis gegee het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle hande plaasvind.
4En die menigte van die stad was verdeeld, en sommige het met die Jode en ander met die apostels saamgegaan.
5Maar toe daar onder die heidene en ook onder die Jode, saam met hulle owerstes, 'n beweging ontstaan het om hulle te mishandel en te stenig,
6het hulle dit gewaargeword en gevlug na die stede van Likaónië, Listre en Derbe en die omstreke.
7En daar het hulle die evangelie verkondig.
8En in Listre het daar 'n man gesit wat magteloos was aan sy voete, kreupel van sy geboorte af, en hy het nooit geloop nie.
9Hy het geluister terwyl Paulus spreek; en Paulus het die oë op hom gehou, en, toe hy sien dat hy geloof het om gesond te word,
10met 'n groot stem gesê: Staan regop op jou voete! En hy het opgespring en begin rondloop.
11En toe die skare sien wat Paulus gedoen het, verhef hulle hul stem en sê in Likaónies: Die gode het soos mense geword en neergedaal na ons toe.
12En hulle het vir Bárnabas Júpiter genoem, en vir Paulus Mercurius, omdat hy die woordvoerder was.
13En die priester van Júpiter wie se tempel voor hulle stad was, het stiere en kranse na die poorte gebring en wou saam met die skare offer.
14Maar toe die apostels, Bárnabas en Paulus, dit hoor, het hulle hul klere geskeur en onder die skare ingespring en geroep
15en gesê: Manne, waarom doen julle hierdie dinge? Ons is net sulke mense soos julle, en ons verkondig die evangelie dat julle jul van hierdie nietige dinge moet bekeer tot die lewende God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het.
16Hy het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel,
17 al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.
18Selfs met hierdie woorde het hulle met moeite die skare verhinder om aan hulle te offer.
19Maar daar het Jode van Antiochíë en Ikónium aangekom, en hulle het, nadat hulle die skare omgepraat het, Paulus gestenig en hom buitekant die stad gesleep, met die gedagte dat hy dood was.
20Maar toe die dissipels hom omring, het hy opgestaan en in die stad gekom en die volgende dag saam met Bárnabas na Derbe vertrek.
21En nadat hulle aan daardie stad die evangelie verkondig en 'n aantal dissipels gemaak het, het hulle teruggegaan na Listre en Ikónium en Antiochíë,
22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.
23En hulle het in elke gemeente vir hulle ouderlinge gekies, en hulle, ná gebed en vas, opgedra aan die Here in wie hulle geglo het.
24Toe gaan hulle deur Pisídië en kom in Pamfílië;
25en nadat hulle die woord in Perge verkondig het, het hulle afgegaan na Attálië.
26En daarvandaan het hulle weggevaar na Antiochíë, waar hulle aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle volbring het.
27En toe hulle daar kom en die gemeente saamgeroep het, het hulle verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het, en dat Hy 'n deur van geloof vir die heidene geopen het.
28En hulle het daar by die dissipels 'n geruime tyd deurgebring.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid