2 SAMUEL 12:7-25 - Compare All Versions
2 SAMUEL 12:7-25 ABA (Bybel vir almal)
Toe sê Natan vir Dawid: “Jý is die ryk man. Die Here die God van Israel sê: Ek het jou gesalf om koning te wees van Israel en Ek het jou gered van Saul. Ek het jou koning laat word ná Saul en Ek het sy vroue vir jou gegee. Ek het jou koning laat word van Israel en Juda. En as dit te min was, dan sou Ek nog baie meer vir jou gegee het. Hoekom was jy ongehoorsaam aan My? Hoekom het jy iets gedoen waarvan Ek nie hou nie? Jy het vir Urija die Hetiet vermoor, jy het sy vrou vir jouself gevat en jy het hom laat doodmaak met die wapens van die Ammoniete. Daarom, daar sal altyd oorlog wees in jou familie, want jy het gewys dat jy dink Ek is nie belangrik nie. Jy het die vrou van Urija die Hetiet vir jouself gevat. “Die Here sê: Ek sal nou iemand uit jou eie familie laat kom, hy sal jou laat swaarkry. Ek sal jou vroue vat en Ek sal hulle vir 'n ander persoon gee. Jy sal dit sien. Hy sal in die dag by jou vroue slaap, almal sal dit sien. Want jy het hierdie verkeerde ding gedoen waar niemand dit gesien het nie, maar Ek sal hierdie ding doen in die dag waar al die Israeliete dit kan sien.” Dawid het vir Natan gesê: “Ek het sonde gedoen teen die Here.” Natan sê toe vir Dawid: “Die Here het jou sonde vergewe omdat jy dit gesê het. Jy sal nie sterf nie. Maar jy het dieselfde gedoen wat die vyande van die Here doen, jy het gewys dat jy dink die Here is nie belangrik nie. Daarom sal die seun sterf wat vir jou gebore is. Dit is seker.” Natan het huis toe gegaan. Die Here het die kind siek laat word wat die vrou van Urija vir Dawid gekry het. Dawid het tot God gebid vir die kind en hy het gevas en in sy kamer ingegaan. Hy het die hele nag op die grond gelê. Die amptenare in sy paleis het probeer om hom te laat opstaan van die grond, maar hy wou nie en hy wou ook nie saam met hulle eet nie. Die kind het op die sewende dag gesterf. Dawid se amptenare was bang om vir hom te sê dat die kind dood is. Hulle het gesê: “Toe die kind nog gelewe het, het ons met die koning gepraat, maar hy het nie na ons geluister nie. Ons kan nie nou vir hom sê dat die kind dood is nie. Hy sal miskien 'n verkeerde ding doen.” Dawid het gesien dat sy amptenare fluister en hy het besef dat die kind dood is. Hy vra toe vir sy amptenare of die kind dood is, en hulle het gesê: “Ja, hy is dood.” Toe staan Dawid op en hy was en hy smeer lekkerruik-olie aan homself. Hy het ander klere aangetrek en hy het na die tempel-tent gegaan en gebid. Daarna het hy huis toe gegaan en kos gevra. Hulle het vir hom kos gegee en hy het geëet. Sy amptenare vra toe vir hom: “Hoekom doen jy dit? Toe die kind gelewe het, het jy gevas en gehuil. Maar nou is die kind dood, en nou staan jy op en jy eet.” Dawid het gesê: “Toe die kind nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink die Here sal miskien goed wees vir my en Hy sal die kind laat lewe. Maar nou is die kind dood. Hoekom moet ek nou vas? Kan ek hom weer laat lewe? Nee. Ek sal na hom toe gaan, maar hy kan nie terugkom na my toe nie.” Dawid het sy vrou Batseba getroos. Hy het na haar toe gegaan en by haar geslaap. Sy het 'n seun gekry, en Dawid het hom Salomo genoem. Die Here was lief vir die kind. Die Here het vir Natan gestuur om te sê sy naam moet Jedidja wees, want die Here is lief vir hom.
2 SAMUEL 12:7-25 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Toe sê Natan vir Dawid: U is die man! So sê die HERE, die God van Israel: Ék het jou as koning gesalf oor Israel, en Ék het jou gered uit die hand van Saul; en Ek het die huis van jou heer aan jou gegee, en die vroue van jou heer in jou skoot, en Ek het die huis van Israel en Juda aan jou gegee; en as dit te min was, sou Ek aan jou nog meer sulke dinge daarby wil voeg. Waarom het jy die woord van die HERE verag deur te doen wat verkeerd is in sy oë? Uría, die Hetiet, het jy met die swaard verslaan, en sy vrou het jy vir jou as vrou geneem, nadat jy hom deur die swaard van die kinders van Ammon vermoor het. En nou sal die swaard vir ewig van jou huis nie wyk nie, omrede dat jy My verag het en die vrou van Uría, die Hetiet, geneem het om jou vrou te wees. So sê die HERE: Kyk, Ek sal uit jou huis onheil oor jou verwek, en jou vroue voor jou oë neem en aan jou naaste gee, sodat hy by jou vroue sal slaap voor die oog van hierdie son. Want jy het dit in die geheim gedoen, maar Ek sal hierdie ding doen voor die hele Israel en in die volle sonlig. En Dawid sê vir Natan: Ek het gesondig teen die HERE! En Natan sê vir Dawid: So het die HERE dan ook u sonde vergewe: u sal nie sterf nie. Maar omdat u die vyande van die HERE deur hierdie saak aanleiding gegee het om grootliks te laster, sal die kind wat vir u gebore is, ook sekerlik sterwe. Toe gaan Natan na sy huis. En die HERE het die kind wat die vrou van Uría vir Dawid gebaar het, getref, sodat dit ernstig siek geword het. En Dawid het die aangesig van God gesoek vir die kind, en Dawid het 'n tyd lank gevas en na binne gegaan en die hele nag deur op die grond gelê. Daarop kom die oudstes van sy huis na hom en wou hom van die grond laat opstaan, maar hy wou nie; ook het hy geen brood saam met hulle geëet nie. En op die sewende dag het die kind gesterwe; en die dienaars van Dawid was bevrees om hom te vertel dat die kind dood was, want hulle het gesê: Kyk, toe die kind nog in die lewe was, het ons met hom gespreek, maar hy het nie na ons geluister nie. Hoe kan ons dan vir hom sê: Die kind is dood! — hy kan 'n verkeerde ding doen. Maar toe Dawid sien dat sy dienaars onder mekaar fluister, het Dawid gemerk dat die kind dood was. En Dawid sê aan sy dienaars: Is die kind dood? En hulle antwoord: Hy is dood. Toe het Dawid van die grond opgestaan en hom gewas en gesalf en ander klere aangetrek en in die huis van die HERE gegaan en aanbid. Daarop het hy in sy huis gekom en gevra dat hulle brood aan hom moet voorsit; en hy het geëet. Toe vra sy dienaars hom: Wat is dit vir 'n ding wat u gedoen het? Ter wille van die lewende kind het u gevas en geween, maar net toe die kind dood was, het u opgestaan en brood geëet. En hy sê: Toe die kind nog in die lewe was, het ek gevas en geween, want ek het gedink: Wie weet — die HERE kan my genadig wees, sodat die kind in die lewe bly. Maar nou is hy dood — waarom sou ek dan vas? Sal ek hom nog kan terugbring? Ek gaan na hom, maar hy sal na my nie terugkeer nie. Daarna het Dawid sy vrou Bátseba getroos en by haar ingegaan en by haar geslaap. En sy het 'n seun gebaar, en hy het hom Salomo genoem. En die HERE het hom liefgehad, en Hy het hom deur Natan, die profeet, Jedídja laat noem, ter wille van die HERE.
2 SAMUEL 12:7-25 AFR83 (Afrikaans 1983)
“Jy is die man!” sê Natan toe vir Dawid. “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou tot koning van Israel gesalf. Ek het jou teen Saul beskerm. Ek het aan jou die koningskap van Saul gegee en boonop nog sy vrouens ook. Ek het die koningskap oor Israel en Juda aan jou gegee. En as dit nog te min was, sou Ek enigiets daar wou bygee. Waarom het jy nou die woord van die Here geminag deur so 'n verkeerde ding te doen? Jy het Urija die Hetiet met die swaard doodgemaak en toe sy vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor met die swaard van die Ammoniete. “Daarom sal die swaard nou nooit meer uit jou huis weggaan nie, want jy het My geminag toe jy Urija die Hetiet se vrou vir jou gevat het. “So sê die Here: Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ellende oor jou bring. Ek sal jou vrouens voor jou oë vat en aan iemand anders gee. Hy sal by jou vrouens slaap oop en bloot, want jy het 'n ding in die geheim gedoen, maar Ek sal alles oop en bloot voor die hele Israel doen.” Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het gesondig teen die Here.” En Natan sê vir hom: “Die Here het jou sonde vergewe: jy sal nie nou sterwe nie. Maar omdat jy deur hierdie daad die vyande van die Here aanleiding gegee het om Hom te laster, sal hierdie selfde kind wat vir jou gebore is, sterwe.” Natan het huis toe gegaan, en die Here het die kind wat Urija se vrou vir Dawid in die wêreld gebring het, getref. Die kind het ernstig siek geword. Dawid het tot God gebid vir die kind. Hy het hom verootmoedig deur aanhoudend te vas, hom terug te trek en op die grond te lê. Die hoofde van sy huishouding het hom probeer oorreed om van die grond af op te staan, maar hy wou nie. Hy het nie saam met hulle aan tafel verskyn nie. Op die sewende dag het die kind gesterwe, en Dawid se amptenare was bang om hom te vertel dat die kind dood is. Hulle het gesê: “En nou? Toe die kind nog gelewe het, het ons met die koning gepraat, en hy het nie na ons geluister nie. Hoe kan ons nou vir hom sê die kind is dood? Hy sal 'n onbesonne ding aanvang.” Dawid het agtergekom dat sy amptenare onder mekaar fluister en hy het afgelei dat die kind dood is. “Is die kind dood?” het hy gevra. “Hy is dood,” was hulle antwoord. Toe het Dawid van die grond af opgestaan. Hy het gaan was, reukolie aangesmeer, aangetrek en na die heiligdom toe gegaan om te aanbid. Hierna is hy huis toe en het hy kos gevra. Hulle het hom 'n ete voorgesit en hy het geëet. Sy amptenare vra hom toe: “Wat doen u nou? Toe die kind nog gelewe het, het u gevas en gehuil. Nou dat die kind dood is, staan u op en u eet?” Sy antwoord was: “Terwyl die kind nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink: wie weet, dalk is die Here my genadig, en dan sal die kind lewe. Maar nou is hy dood. Waarom moet ek nog vas? Kan ek hom na my toe laat terugkom? Ek gaan na hom toe; hy kan nie na my toe terugkom nie.” Daarna het Dawid sy vrou Batseba getroos. Hy het by haar slaapkamer ingegaan en by haar geslaap. Sy het 'n seun in die wêreld gebring, en Dawid het hom Salomo genoem. Die Here het hom liefgehad en het hom deur die profeet Natan Jedidja laat noem, wat beteken: “die Here het hom lief”.
2 SAMUEL 12:7-25 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Toe sê Natan vir Dawid: “Jy is die man! So sê die HERE, die God van Israel, ‘Ek is die Een wat jou as koning gesalf het oor Israel, en Ek is die Een wat jou gered het uit die hand van Saul. Ek het vir jou die huis van jou heer gegee, en die vroue van jou heer in jou arms. Ek het vir jou die huis van Israel en Juda gegee. As dit te min was, sou Ek vir jou soveel meer kon byvoeg. Waarom het jy die woord van die HERE geminag deur kwaad te doen in my oë? Urija, die Hetiet, het jy met die swaard neergevel. Sy vrou het jy vir jou as vrou geneem, en hom het jy deur die swaard van die Ammoniete vermoor. Daarom sal die swaard nooit van jou huis wyk nie, omdat jy My geminag het en die vrou van Urija, die Hetiet, geneem het om jou vrou te word.’ “So sê die HERE, ‘Kyk, Ek gaan onheil teen jou verwek uit jou eie huis. Ek sal jou vroue voor jou oë neem en aan jou naaste gee. Hy sal openlik by jou vroue slaap. Omdat jy dit in die geheim gedoen het, sal Ek hierdie gebeure voor die hele Israel laat plaasvind en voor die volle son.’ ” “Ek het gesondig teen die HERE,” het Dawid vir Natan gesê, waarop Natan toe vir Dawid sê: “Die HERE self het jou sonde opsy geskuif. Jy sal nie sterf nie; maar omdat jy deur hierdie gebeure heeltemal oneerbiedig opgetree het teenoor die HERE, sal die kind wat vir jou gebore is, sonder twyfel sterf.” Toe het Natan huis toe gegaan. Die HERE het die kind wat die vrou van Urija vir Dawid in die wêreld gebring het, getref, en hy het ernstig siek geword. Dawid het by God gepleit vir die seuntjie. Dawid het streng gevas, hy het na binne gegaan en die nag deurgebring deur op die grond te lê. Die oudstes van sy huishouding het by hom gaan staan en probeer om hom van die grond af te laat opstaan, maar hy wou nie. Hy het nie saam met hulle iets geëet nie. Op die sewende dag het die kind gesterf. Die dienaars van Dawid was bang om vir hom te vertel dat die kind dood is, want hulle het gesê: “Kyk, terwyl die kind geleef het, het ons met hom gepraat, maar hy het nie na ons geluister nie. Hoe moet ons dan vir hom sê die kind is dood? Hy sal iets onverantwoordeliks doen.” Maar Dawid het gemerk dat sy dienaars onder mekaar staan en fluister, en hy het besef dat die kind dood is. Dawid vra toe vir sy dienaars: “Is die kind dood?” Hulle het gesê: “Ja, hy is.” Dawid het toe van die grond af opgestaan, hom gewas en gesalf en sy klere verwissel. Hy het in die huis van die HERE ingegaan en in aanbidding gebuig. Daarna het hy na sy huis gegaan. Op sy versoek het hulle vir hom kos voorgesit, en hy het geëet. Sy dienaars het vir hom gevra: “Wat beteken dit wat u gedoen het? Ter wille van die kind wat nog geleef het, het u gevas en gehuil, maar toe die kind dood is, het u opgestaan en brood geëet.” Hy het geantwoord: “Terwyl die kind nog lewend was, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink, wie weet, die HERE is my dalk genadig, sodat die kind bly leef. Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.” Dawid het sy vrou, Batseba, getroos. Hy het na haar toe gegaan, by haar geslaap, en sy het vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Hy het hom Salomo genoem. Die HERE was lief vir hom en het deur Natan, die profeet, 'n boodskap gestuur. Hy het hom Jedidja genoem op aandrang van die HERE.
2 SAMUEL 12:7-25 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En Natan sê vir Dawid: Jy is die man. So sê die HERE, die God van Israel: Ek het jou as koning oor Israel gesalf en jou uit die hand van Saul gered; En Ek het aan jou die huis van jou heer en die vroue van jou heer in jou boesem gegee en die huis van Israel en Juda aan jou gegee; en as dit te min was, sou ek jou bowendien sulke en sulke dinge gegee het. Waarom het jy die gebod van die HERE verag om te doen wat verkeerd is in sy oë? jy het Uría, die Hetiet, met die swaard gedood en sy vrou as vrou geneem en hom met die swaard van die kinders van Ammon gedood. Nou dan sal die swaard nooit uit jou huis wyk nie; omdat jy my verag het en die vrou van Uría, die Hetiet, vir jou as vrou geneem het. So sê die HERE: Kyk, Ek sal onheil teen jou verwek uit jou eie huis, en Ek sal jou vroue voor jou oë neem en hulle aan jou naaste gee, en hy sal met jou vrouens gemeenskap het voor die oë van hierdie son. Want jy het dit in die geheim gedoen, maar Ek sal hierdie ding doen voor die hele Israel en voor die son. Toe sê Dawid vir Natan: Ek het gesondig teen die HERE. Toe sê Natan vir Dawid: Die HERE het ook jou sonde weggeneem; jy sal nie sterwe nie. Maar omdat jy deur hierdie daad groot aanleiding gegee het aan die vyande van die HERE om te laster, sal ook die kindjie wat vir jou gebore is, sekerlik sterwe. En Natan het na sy huis gegaan. En die HERE het die kind wat Urija se vrou vir Dawid gebaar het, geslaan, en dit was baie siek. Dawid het dan God gesmeek vir die kind; en Dawid het gevas en ingegaan en die hele nag op die aarde gelê. En die oudstes van sy huis het opgestaan en na hom gegaan om hom van die aarde op te wek; maar hy wou nie, en hy het nie saam met hulle brood geëet nie. En op die sewende dag het die kind gesterwe. En die dienaars van Dawid was bang om hom te vertel dat die kind dood was, want hulle het gesê: Kyk, terwyl die kind nog gelewe het, het ons met hom gespreek, en hy het nie na ons stem geluister nie; hoe sal hy homself dan kwel as sê ons vir hom dat die kind dood is? Maar toe Dawid sien dat sy dienaars fluister, het Dawid gemerk dat die kind dood was; daarom het Dawid vir sy dienaars gesê: Is die kind dood? En hulle sê: Hy is dood. Toe het Dawid van die aarde af opgestaan en hom gewas en hom gesalf en sy klere verander en in die huis van die HERE gekom en aanbid; en as hy dit gevra het, het hulle hom brood voorgesit, en hy het geëet. Toe sê sy dienaars vir hom: Wat is dit vir iets wat jy gedoen het? U het gevas en geween oor die kind terwyl dit nog gelewe het; maar toe die kind dood was, het jy opgestaan en brood geëet. Toe sê hy: Terwyl die kind nog gelewe het, het ek gevas en geween, want ek het gesê: Wie kan weet of God my genadig sal wees, dat die kind kan lewe? Maar nou is hy dood, waarom moet ek vas? kan ek hom weer terugbring? Ek sal na hom toe gaan, maar hy sal nie na my terugkeer nie. En Dawid het sy vrou Bátseba getroos en by haar ingegaan en met haar gemeenskap gehad; en sy het 'n seun gebaar, en hy het hom Salomo genoem; en die HERE het hom liefgehad. En hy het deur die hand van die profeet Natan gestuur; en hy het hom Jedidja genoem ter wille van die HERE.
2 SAMUEL 12:7-25 DB (Die Boodskap)
“Jý is daardie man!” sê Natan vir hom. “Die Here, die God van Israel, het vir jou hierdie boodskap gestuur. Hy het gesê: ‘Ek het jou koning laat word oor Israel, en Ek is die Een wat jou gehelp het teen Saul. Ek het vir jou alles gegee wat hy gehad het. Ek het vir jou sy harem ook gegee. Ek het vir jou die hele koninkryk van Israel en van Juda gegee. As dit te min was, kon Ek vir jou nog baie sulke dinge daar bygee! Hoekom het jy jou nie gesteur aan wat Ek, die Here, sê nie, en hierdie verskriklike ding gedoen? Jy het Urija, die Hetiet, in die oorlog laat doodmaak en sy vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor met ’n swaard van die Ammoniete! Nou gaan daar altyd moord en doodslag in jou huis wees omdat jy jou nie aan My gesteur het nie en Urija, die Hetiet, se vrou vir jou gevat het!’ “Die Here het vir jou nog ’n boodskap. Hy het gesê: ‘Ek sal sorg dat daar vir jou genoeg moeilikheid uit jou eie familie kom: jy sal sien hoe Ek jóú vroue vat en vir iemand gee wat naby jou is. Hy sal helder oordag by hulle slaap. Die ding wat jy skelm in die donker gedoen het, gaan Ek voor al die Israeliete helder oordag laat gebeur.’” Dawid het vir Natan gesê: “Ek het ’n vreeslike verkeerde ding teen die Here gedoen!” Natan het geantwoord: “Die Here sal die fout wat jy gemaak het, oorsien: jy sal nie die doodstraf kry nie, maar die kind wat gebore is, sal vir seker doodgaan, want jy het die Here in die gesig gevat toe jy hierdie verskriklike ding gedoen het.” Nadat Natan daar weg is huis toe, het die Here die kind van Dawid en Urija se vrou laat siek word. Dawid het God mooi gevra om die kind te laat bly lewe. Hy het niks geëet nie en daardie nag in sy kamer op die grond gelê. Hy het rouklere aangetrek. Sy ou paleiswerkers het hom gesoebat om van die grond af op te staan, maar hy wou nie en hy wou ook niks saam met hulle eet nie. ’n Week later is die kind dood. Dawid se werksmense was te bang om dit vir hom te sê. Hulle het vir mekaar gesê: “Toe die kind nog geleef het, het ons mooi met hom gepraat, maar hy wou glad nie na ons luister nie. Hoe kan ons nou vir hom sê die kind is dood? Hy doen dalk ’n lelike ding!” Dawid het gesien sy werksmense praat so saggies met mekaar. Toe weet hy die kind is dood. Hy vra toe vir hulle: “Is die kind dood?” “Ja, hy is dood,” het hulle geantwoord. Dawid het van die grond af opgestaan en hom gewas. Hy het olyfolie aan sy vel gesmeer en skoon klere aangetrek. Hy het na die altaar van die Here toe gegaan en voor die Here op sy knieë gaan staan. Daarna het hy na die paleis toe teruggegaan en vir sy mense gesê hy wil eet. Hulle het vir hom kos gegee en hy het dit geëet. Die paleiswerkers sê toe vir hom: “Hoe moet ons dit verstaan? Vir so lank as wat die kind geleef het, het u niks geëet nie en gehuil, maar nou dat die kind dood is, staan u op en u eet?” Dawid het hulle geantwoord: “Toe die kind nog geleef het, het ek niks geëet nie en gehuil omdat ek gedink het miskien sal die Here my jammer kry en die kind laat leef. Maar nou is hy dood. Hoekom moet ek nog sonder kos bly? Ek kan nie die kind terugbring nie. Ek sal na hom toe gaan, maar hy kan nie na my toe terugkom nie.” Dawid het sy vrou Batseba getroos. Hy het by haar geslaap en sy het toe weer ’n seuntjie gehad. Dawid het hom Salomo genoem. Die Here het van Salomo gehou. Die Here het Natan gestuur om ook vir hom ’n naam te gee. Hy het hom Jedidja, “die Here se liefling”, genoem.
2 SAMUEL 12:7-25 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Toe antwoord Natan vir Dawid: “Jy is daardie man! Die HERE, die God van Israel, sê: ‘Ek het jou tot koning van Israel gesalf en jou uit die mag van Saul gered. Ek het sy huis vir jou gegee, asook sy vroue en die koninkryke van Israel en Juda. En, as dit nie genoeg was nie, sou Ek jou nog baie meer gegee het. Hoekom het jy dan die woord van die HERE geminag en hierdie verskriklike ding gedoen? Jy het Urija die Hetiet met die swaard laat vermoor en sy vrou gevat. Jy het hom deur die swaard van die Ammoniete doodgemaak! Van nou af sal die swaard ’n permanente bedreiging vir jou familie inhou omdat jy My verag het en Urija se vrou vir jouself toegeëien het. “‘Omdat jy dit gedoen het, sal Ek, die HERE, toesien dat jou eie huis ellende oor jou bring. Ek sal jou vroue voor jou oë vir ’n ander man gee, en hy sal oop en bloot, in die helder daglig, by hulle gaan slaap. Jy het dit in die geheim gedoen, maar Ek sal dit openlik voor die hele Israel doen.’” Toe bely Dawid sy skuld en sê vir Natan: “Ek het teen die HERE gesondig.” Natan antwoord hom: “Die HERE het jou sonde vergewe sodat jy nie oor hierdie sonde sal sterf nie. Maar jy het vir die vyande van die HERE geleentheid gegee om Hom te laster. Daarom sal hierdie kind sterf.” Nadat Natan daar weg is, het die HERE die kind van Urija se vrou en Dawid dodelik siek laat word. Dawid het die HERE gesmeek om die kind se lewe te spaar. Hy het gevas, en die hele nag op die vloer gelê. Die oudstes van sy huishouding het by hom gepleit om op te staan, maar hy het geweier en wou nie saam met hulle eet nie. Op die sewende dag het die kind gesterf. Dawid se amptenare was bang om dit vir hom te vertel. “Toe die kind nog gelewe het, het ons met die koning gepraat, maar hy wou nie vir ons luister nie,” het hulle gesê. “Watter onverantwoordelike ding sal hy dalk doen as ons hom vertel dat die kind dood is?” Dawid het opgemerk dat hulle onder mekaar fluister en hy het besef dat die kind gesterf het. “Is die kind dood?” vra hy. “Ja, hy is dood,” antwoord hulle. Toe het Dawid van die grond af opgestaan, homself gewas en reukolie aangesmeer. Nadat hy skoon klere aangetrek het, het hy in die heiligdom ingegaan en daar aanbid. Daarna het hy na die paleis toe teruggegaan en kos gevra. Hulle het dit gebring en hy het geëet. Maar sy amptenare vra vir hom: “Hoe moet ons nou u optrede verstaan? Terwyl die kind nog gelewe het, het u gehuil en gevas. Maar noudat die seun dood is, het u opgestaan en geëet.” Dawid antwoord hulle: “Terwyl die kind nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink: ‘Miskien sal die HERE genadig wees en die kind laat lewe.’ Maar nou is hy dood! Hoekom moet ek nou nog vas? Kan ek hom weer terugbring? Eendag sal ek na hom toe gaan, maar hy kan nie na my toe terugkom nie.” Dawid het toe vir Batseba sy vrou getroos en by haar geslaap. Sy het ’n seun in die wêreld gebring. Dawid het hom Salomo genoem. Die HERE het die seun liefgehad en het deur die profeet Natan laat weet dat sy naam Jedidja, geliefde van die HERE, moes wees, want die HERE het hom liefgehad.