2 Samuel 12:7-25

2 Samuel 12:7-25 AFR20

Toe sê Natan vir Dawid: “Jy is die man! So sê die HERE, die God van Israel, ‘Ek is die Een wat jou as koning gesalf het oor Israel, en Ek is die Een wat jou gered het uit die hand van Saul. Ek het vir jou die huis van jou heer gegee, en die vroue van jou heer in jou arms. Ek het vir jou die huis van Israel en Juda gegee. As dit te min was, sou Ek vir jou soveel meer kon byvoeg. Waarom het jy die woord van die HERE geminag deur kwaad te doen in my oë? Urija, die Hetiet, het jy met die swaard neergevel. Sy vrou het jy vir jou as vrou geneem, en hom het jy deur die swaard van die Ammoniete vermoor. Daarom sal die swaard nooit van jou huis wyk nie, omdat jy My geminag het en die vrou van Urija, die Hetiet, geneem het om jou vrou te word.’ “So sê die HERE, ‘Kyk, Ek gaan onheil teen jou verwek uit jou eie huis. Ek sal jou vroue voor jou oë neem en aan jou naaste gee. Hy sal openlik by jou vroue slaap. Omdat jy dit in die geheim gedoen het, sal Ek hierdie gebeure voor die hele Israel laat plaasvind en voor die volle son.’ ” “Ek het gesondig teen die HERE,” het Dawid vir Natan gesê, waarop Natan toe vir Dawid sê: “Die HERE self het jou sonde opsy geskuif. Jy sal nie sterf nie; maar omdat jy deur hierdie gebeure heeltemal oneerbiedig opgetree het teenoor die HERE, sal die kind wat vir jou gebore is, sonder twyfel sterf.” Toe het Natan huis toe gegaan. Die HERE het die kind wat die vrou van Urija vir Dawid in die wêreld gebring het, getref, en hy het ernstig siek geword. Dawid het by God gepleit vir die seuntjie. Dawid het streng gevas, hy het na binne gegaan en die nag deurgebring deur op die grond te lê. Die oudstes van sy huishouding het by hom gaan staan en probeer om hom van die grond af te laat opstaan, maar hy wou nie. Hy het nie saam met hulle iets geëet nie. Op die sewende dag het die kind gesterf. Die dienaars van Dawid was bang om vir hom te vertel dat die kind dood is, want hulle het gesê: “Kyk, terwyl die kind geleef het, het ons met hom gepraat, maar hy het nie na ons geluister nie. Hoe moet ons dan vir hom sê die kind is dood? Hy sal iets onverantwoordeliks doen.” Maar Dawid het gemerk dat sy dienaars onder mekaar staan en fluister, en hy het besef dat die kind dood is. Dawid vra toe vir sy dienaars: “Is die kind dood?” Hulle het gesê: “Ja, hy is.” Dawid het toe van die grond af opgestaan, hom gewas en gesalf en sy klere verwissel. Hy het in die huis van die HERE ingegaan en in aanbidding gebuig. Daarna het hy na sy huis gegaan. Op sy versoek het hulle vir hom kos voorgesit, en hy het geëet. Sy dienaars het vir hom gevra: “Wat beteken dit wat u gedoen het? Ter wille van die kind wat nog geleef het, het u gevas en gehuil, maar toe die kind dood is, het u opgestaan en brood geëet.” Hy het geantwoord: “Terwyl die kind nog lewend was, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink, wie weet, die HERE is my dalk genadig, sodat die kind bly leef. Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.” Dawid het sy vrou, Batseba, getroos. Hy het na haar toe gegaan, by haar geslaap, en sy het vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Hy het hom Salomo genoem. Die HERE was lief vir hom en het deur Natan, die profeet, 'n boodskap gestuur. Hy het hom Jedidja genoem op aandrang van die HERE.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Samuel 12:7-25