2 PETRUS 3:3-9

2 PETRUS 3:3-9 Die Boodskap (DB)

Onthou, gedurende die laaste dae hier op aarde sal daar spotters op die toneel verskyn. Hulle sal leef net soos hulle wil. Hierdie spul sal ook spottende dinge sê soos: “En wanneer gaan die wederkoms nogal plaasvind? Ons voorvaders is al dood en begrawe. Hulle het hulle dood gewag op die wederkoms, maar net mooi niks het nog verander nie. Alles gaan steeds op dieselfde ou trant aan, net soos dit van die begin af was.” Die mense wat sulke goed sê, vergeet ewe gerieflik ’n paar belangrike dinge oor God. Hulle vergeet dat God lank terug die hemel en die aarde uit water gemaak het. Hy het dit gedoen deur net ’n woord te sê. En hulle vergeet ook hoe God daarna die wêreld deur ’n reuse-oorstroming vernietig het. Dis dieselfde hemel en aarde waarin ons nou elke dag leef en wat gereed gehou word vir die groot vuur. God moet net ’n woord sê, dan breek die oordeelsdag aan wanneer Hy al die goddelose mense eens en vir altyd sal skuldig bevind en vernietig. My liewe vriende, moenie dink dat God van ons mensgemaakte kalenders afhanklik is nie. Dit is glad nie so nie. Vir God is een dag net so goed soos 1 000 jaar, en 1 000 jaar net soos een dag. Daarom is Hy glad nie laat vir sy afspraak met die wêreld nie, al dink party spotters so. Die Here stel nie sy belofte uit nie. Hy sal sy woord hou. Op die oomblik is God net geduldig met julle almal. Hy wil nie hê dat sommige mense verlore moet gaan nie. Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid